Kamikaze. Rudie van Rensburg
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kamikaze - Rudie van Rensburg страница 7
Brian was eerlik oor sy vermoëns: hy kan nie verder as die vier mure van ’n laboratorium dink nie. Maar Claus het die bemarkingsvaardighede en vernuf om geld te maak. “’n Man met ’n soliede sakebrein,” het Brian bewonderend gesê.
Claus het juis in daardie tyd die Blue Night vir ’n appel en ’n ei by die bankrot eienaar gekoop. Binne twee jaar het hy dit uitgebou tot ’n uiters winsgewende onderneming en was sy lening afbetaal.
Maar hy was toe al sat vir die Kaapse skemerwêreld van nagklubs. Die onmenslike lang ure en ongesonde leefstyl het sy tol geëis. Boonop het Macy by hom ingetrek. Hy was nie meer geneë daarmee dat sy haar lyflike bates voor die honger oë van jagse besoekers vertoon nie. Haar onttrekking aan die hoofitem op die paaldanspodium het talle getroue klante na die opposisie gedryf. Claus het met ’n skok besef Macy se volmaakte borste en uitlokkende lyf was al die jare die Blue Night se grootste enkele trekpleister.
Dit was die laaste strooi. Claus was reg vir ’n verandering.
Dertien jaar gelede het hy en Brian die sprong gemaak. Hy het die nagklub vir ’n goeie prys verkoop en hulle het klein begin in Paardeneiland. Eerste vyf jaar van hel net-net oorleef. Uit radeloosheid het hulle die moontlikheid van ’n “grys been” vir Prins Pharmaceuticals oorweeg, en dit uiteindelik gedoen. Die Rus Ivan Alexandrowitsj, uitsmyter by die Blue Night, het hulle met ’n groot salaris weggerokkel om ’n verspreidingsnetwerk in Afrika te vestig.
Toe die ondergrondse medisynegolf met mening begin ry. Dit het hulle in staat gestel om die grys been uit te brei na ander vertakkings wat meer waarde toegevoeg het. As bonus kon hulle ’n splinternuwe hoofkantoor in Montague Gardens vir hul wettige besigheid bou.
Deesdae swem hulle in goud danksy daardie grys been van die onderneming – kragtige hale op pad na ’n sorgelose vroeë aftrede iewers op ’n eksotiese eiland.
En nou, dink Claus terwyl hy sy whiskyglas ledig en dit dadelik hervul, is die enigste brander wat hulle uit daardie goue swembaan kon slaan ook afgeweer.
Vroegoggend se oproep van die kontakman dat die Pion sy taak suksesvol uitgevoer het, was selfs beter as seks met Macy. Claus se vreugde het geen perke geken nie. Hy het Brian en Ivan gebel en gesê hulle moet vandag van die werk vergeet en vanmiddag saam met hom en Macy by sy huis kom aansit vir ’n feesmaal.
Hy glimlag behaaglik. Hulle het oorgenoeg rede om tot laatnag met kulinêre en alkoholiese oordaad te vier. Die een se dood is immers die ander se brood.
6
Kassie staar na die toneel voor hom. Die nylontou is diep ingebed in Fred Smuts se nek. Hy hang roerloos aan ’n stewige houtbalk in die ruim studeerkamer, arms slap langs sy sye, voete effens na onder gepunt. Op die vloer lê ’n stoel op sy rug.
“Pollie was reg.” Rooi wys na Smuts se gewrigte. “Daar’s duidelike skaafmerke. Dié ou was vasgebind.”
Kassie knik. Hulle aanvanklike vermoede van selfmoord is vinnig aan die verdwyn.
Die stasie het vanoggend kwart oor sewe ’n oproep van Smuts se suster gekry. ’n Span uniforms onder leiding van kaptein Paulse het kom ondersoek instel. Pollie het kolonel Daniels toe by sy huis gebel en gesê hy vermoed dit was nié selfmoord nie.
Kassie en Rooi het net by die werk geland toe Daniels hulle opdrag gee om hierheen te kom. Die geskokte huishulp het gesê die Van Zyls is op pad van waar hulle op Hermanus vakansie gehou het. Sy het hulle vroegoggend gebel nadat sy op die lyk afgekom het.
Die Van Zyls was gou daar. Die vrou was histeries; skynbaar was Smuts haar enigste broer. Haar man het die toneel een kyk gegee, uitgehardloop en in die gang opgegooi.
“Hier’s Da Silva-hulle nou,” sê Rooi. “’n Mens hoor sy groot bek op ’n afstand.”
Kassie kyk op sy horlosie. “Ook hoog tyd.”
Da Silva lei die forensiese entourage die studeerkamer in.
“Wie’t in die gang gekots?” vra hy. “Rooi?”
Rooi se sproetgesig word nog rooier. “Fok jou, Da Silva.”
“All yours,” sê Kassie en beduie na Smuts. “Ek en Rooi gaan nou met die Van Zyls praat.”
Da Silva beskou die lyk. “Wat’s julle gevolgtrekking?”
“Dis mos eintlik julle job om vir ons te sê,” kap Rooi na hom.
Kassie onderdruk ’n sug. Hy sal met Rooi en Da Silva moet praat. Hulle is deesdae voltyds in mekaar se bleddie hare.
“Lyk nie soos selfmoord nie,” sê hy.
“Selfdood,” korrigeer Da Silva hom. “Dis mos die fancy nuwe naam wat die koerante daarvoor gee.”
“Ek dog jy lees nie koerant nie,” brom Rooi.
Hy volg Kassie by die deur uit. Hulle kry die Van Zyl-egpaar op ’n rusbank in die sitkamer. Die man, sy gesig wasbleek, se hand rus vertroostend op sy vrou se skouer. Haar oë is dik gehuil.
“As dit nie nou vir julle ’n geskikte tyd is om te gesels nie, kan ons dit later vandag doen,” sê Kassie.
Die vrou skud haar kop. “Ons kan praat. Ons is kalm.”
“Het julle kinders?” Kassie wil nie dadelik met die deur in die huis val nie.
“’n Seun en dogter,” sê die man. “Tweeling, albei vanjaar op hoërskool. Hulle het op Hermanus by vriende agtergebly. Ons wou hulle nie blootstel aan dié trauma nie.”
“My broer sou nóóit selfmoord gepleeg het nie,” praat die vrou skielik driftig.
“Hoekom sê u so?” vra Kassie.
“Hy’t beslis nie aan depressie gely nie. Hy was ’n lewenslustige mens wat vir sy werk geleef het. Ek het vinnig in sy kamer gekyk – dis deurmekaar. Iemand het daar rondgekrap. Fred was hipernetjies. Sy bed self opgemaak, sy klere getrou opgehang en al sy ander goed georganiseerd op die tafeltjie in die slaapkamer gepak. Sy skootrekenaar en al die ander goed op die tafeltjie is nou weg.” Sy kyk na haar man. “Behalwe as hy dit studeerkamer toe gevat het?”
Dié skud sy kop. “Ek’t niks daar gesien nie.”
“Ons … ons gaan nou bietjie vinnig,” sê Kassie. “Kom ons begin by ’n punt.”
Rooi leun oor na die vrou. “Hoe oud was u broer?”
“Drie-en-veertig, drie jaar ouer as ek.”
“Getroud?” vra Kassie.
“Geskei. Al amper tien jaar.”
“En sy beroep?”
“Vryskutjoernalis.”
“Hy was ’n bekende ondersoekende joernalis,” sê die man.
“So hy het vir homself