Ena Murray Keur 14. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 14
“Haar mense?”
“Ja. Ek en jy. Ons is mos al wat sy het.”
Hy trek sy asem skerp in en druk haar toe ’n oomblik teen hom vas, sy stem vreemd onvas. “Dankie, tant Kitty. Baie dankie. Verstaan u dat ek nie anders kan nie? Ek kan haar nie nou in die steek laat nie, wat die gevolge ook al mag wees.”
“Natuurlik, seun, ek verstaan. Kom ons loop nou.”
Maar toe hulle voor die kamerdeur kom, huiwer hulle.
“Ek dink jy moet eerste instap. Jy is tog haar man.”
Hy kyk onseker terug. Hulle albei het die afgelope dae gebid dat sy haar oë moet oopmaak … dat sy nie van hulle af moet weggaan nie. Maar noudat dit gebeur het, is hulle albei vreemd bang en senuweeagtig.
“Toe dan, Rudolf, man, stap in. Sy sal nie byt nie.”
Meteens kan hy, ten spyte van al sy kommer, die lag nie terughou nie en teen wil en dank begin tant Kitty se lippe ook plooi. Toe lag sy senuweeagtig.
“Maggies, wat makeer ons? Ons is tog nie bang vir so ’n klein stukkie vel en been nie, is ons?”
Hy haal sy skouers magteloos op. Hy verstaan homself nie meer deesdae nie. Hoekom sou hy senuweeagtig voel om hier in te stap? “Ek ís, tante. Asseblief, stap eerste in, toe.”
Tant Kitty trek haar skouers agteroor en draai die handvatsel. Sy stap binne en Rudolf volg haar aarselend. As sy hom net nie onthou nie …
Madie word bewus van ’n geskuifel by die deur en dit gaan oop. Met vertwyfeling op haar gesiggie kyk sy na die goedige gesig wat van die deur af onseker na haar glimlag. Sy sien die vreemde vrou nader stap en knik haar kop onseker. Toe voel sy hande teer oor hare skuif en ’n sagte stem sê: “Ek is tant Kitty. Ai, Madie, ons is so bly … so dankbaar …”
Die moederlikheid, die teerheid oorweldig haar en skielik lê sy teen die warm bors en snik haar vrese en onsekerheid uit. Sy is so dierbaar, hierdie tant Kitty van haar. Maar sy ken haar nie …!
Tant Kitty kyk hulpsoekend na Rudolf en dan voel Madie hoe sy uit die moederlike arms getrek word en ’n ander bors, ’n breë, sterk bors verskyn in haar gesigsveld. ’n Vreemde das, ’n vreemde hemp, ’n vreemde baadjie.
As hierdie man háár man is, moet sy tog sy klere ken. Miskien het sy dit nog self vir hom gekoop. Sy druk haar kop styf teen sy bors vas. Sy wil nie opkyk nie. Sy is te bang; netnou herken sy hom nie, is hy ’n volslae vreemdeling vir haar.
Sy hoor hom haar naam – Madie – hier teen haar voorkop fluister, die naam wat ook so vreemd en ongewoon klink. Sy weet hy wil hê sy moet opkyk na hom, na “Rudolf” wat so onbekend vir haar klink. Sy sluit eers ’n oomblik haar oë. Asseblief! Asseblief! Laat ek hom herken. Ek móét hom herken! Hy ís my man!
Stadig lig die ooglede, kyk sy op na hom. Die vrees en ontsteltenis in haar oë vertel hom die antwoord. Aan die een kant is hy verlig omdat sy hom nie herken nie. Dis beter so, veral ter wille van haar. Maar aan die ander kant is hy teleurgesteld. Saggies trek hy haar nader sodat haar kop weer in die holte teen sy skouer rus. Sy arms span nog stywer om haar toe hy die bewing van die skraal gestalte teen hom voel.
“Toe maar, dit sal alles regkom, kindjie. Daar is niks om oor ontsteld te wees nie. Ek en tant Kitty gaan jou netnou huis toe neem.” Hy laat haar teen die kussing terugsak en kom orent. Sy hart trek saam toe hy haar selfbewustheid en verleentheid sien. “Hoe voel jy? Is daar êrens iets seer?”
Sy hou haar oë afgewend. Sy wil nie na hom kyk nie, na die teerheid in sy oë nie, want sy voel skuldig. Dit is tog onmoontlik dat ’n mens nie jou eie man herken nie.
“Nee, ek het nêrens seer nie. Ek voel net baie moeg en … swak …”
“Dit sal ons by die huis regmaak. Ek moet nou eers gou ’n draai by my pasiënte maak. Tant Kitty sal solank jou goedjies inpak.”
Hy stap uit en haar blik volg hom totdat die deur agter hom toegaan. Toe kyk sy na tant Kitty.
“Tante, ek … ek is so jammer dat ek julle … julle nie herken nie. Ek voel so skaam daaroor. Hy … Rudolf voel seergemaak. Ek … kon dit sien …”
“Natuurlik nie, liewe kind. Ons is maar net te dankbaar dat jy lewe en terug is by ons.” Sy neem die gesiggie tussen haar hande en haar oë is teer en moederlik. Die gesiggie was nog altyd iets besonders, maar noudat die blou oë oop is, die gelaatstrekke weer lewe, al is dit met vrees en verleentheid, is sy nog meer besonders.
“Jy moet jou oor niks bekommer nie, Madie-lief. Ek en Rudolf sal na jou kyk. Niks en niemand sal jou skaad nie.”
Die blou oë kyk verward terug. “Hoe … bedoel tante?”
Tant Kitty draai vinnig weg en begin om die nagklere op te vou. “Ek bedoel maar net dat jy heeltemal veilig by ons is en dat jy jou nie moet bekommer oor die feit dat jy aan tydelike amnesie ly nie. Dit gebeur nogal baie algemeen met mense wat in ongelukke was. Later kom dit vanself reg.”
“Maar hoe het dit gebeur? Hoe het dit gekom dat ek onder ’n motor beland het, tante?”
Tant Kitty hou haar baie doenig met die inpakkery. Hier begin die vrae. Daardie eerste noodleuen van Rudolf het al en sal nog aanleiding gee tot baie ander, en hulle sal niks anders kan doen as om daarmee voort te gaan nie. Waar gaan dit eendag eindig?
Die kommer in haar groei aan. Dis alles so goed bedoel, maar sal dit nie miskien op die ou end vir hulle – vir haar en veral vir Rudolf, miskien ook vir hierdie pragtige kind – net groter ellende en hartseer bring nie?
Maar terugdraai kan hulle nie meer nie. Madie se gestel, en veral haar gees, het al te veel knoue weg om nou nog ’n skok te kan verduur. Ter wille van haar sal hulle moet voortgaan met die klug. As die kind nou moet hoor die polisie soek haar in verband met beweerde moord en aanranding, sal sy heeltemal ineenstort.
Sy slaag daarin om haar stem heeltemal ongeërg te hou toe sy antwoord. “Ag, jy weet mos hoe gebeur sulke dinge. Jy wou oor die straat stap en skielik was die motor daar. Gelukkig het jy nie ernstige beserings opgedoen nie. ’n Paar kneusplekke en ’n harde stamp teen die kop.”
“Hoekom was ek dan so lank bewusteloos?”
Tant Kitty aarsel. Ek en Rudolf sal in ons pasoppens moet wees. Hierdie klein meisie is nie ’n uil nie. Sy het netnou amper haar mond verbygepraat en die kind was gou om die effense vreemdheid in haar woorde te snap.
“Jou gestel is baie af, Madie-kind. Jy was siek voor die ongeluk … griep. Maar nou is alles weer reg.” Sy knip die koffer toe en draai om. “Rudolf kan nou maar kom. Ek is klaar. Dit sal lekker wees om jou weer by die huis te hê.”
Die blou oë wat met ’n vreemde, reguit blik na ’n mens kyk, ontsenu die ouer vrou. Dis moeiliker as wat sy gedink het om so skaamteloos vir die kind te lieg.
“Hoe lyk die huis, tante? Waar is dit?”
“Julle het ’n woonstel, voorlopig, totdat julle ’n huis raakloop. Ek bly in ’n ander voorstad.”
“Dan