Melodie Omnibus 2. Wilmari Jooste
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 2 - Wilmari Jooste страница 15
“Haai, Mitz! Ek kan nie glo dat die lewe jou ook kan onderkry nie. Jy lyk dan so gelukkig en tevrede. Jy het alles wat die meeste vroue begeer: ’n goeie man, twee pragtige kinders, ’n lieflike huis en tuin, geen finansiële probleme nie …”
“Daaroor sal ek nie stry nie. Ek is baie gelukkig, maar jy weet hoe is ons vroumense. Soms wil ek net ’n tydjie op my eie hê. Twee kinders wat ewe oud is, kan nogal veeleisend wees. Albei wil heeltyd Ma se aandag hê. Pa is heeldag by die werk, en as hy by die huis kom, wil hy ook Ma se aandag hê. Ek kla nie daaroor nie, hoor! My gesin is my lewe, en dis vir my ’n vreugde om aan hulle aandag te gee. Maar ek vermoed ek is weer swanger …”
“Dis wonderlike nuus! Wanneer sal jy seker wees?”
“Ek het oormôre ’n doktersafspraak. Daan is natuurlik so opgewonde soos ’n kind. As dit ’n seun is, kan hy vir hom al daardie wonderlike speelgoed koop wat hy self so begeer!”
Fransien lag vir die kamma moedelose uitdrukking op Mitzi se gesig.
“Nou ja, deesdae vlug ek maar kort-kort hierheen. Dis seker maar my hormone wat –”
“Moenie eens van hormone praat nie!” val Fransien haar onnadenkend in die rede. Onmiddellik wens sy sy kan haar tong afbyt, maar dis klaar te laat. Niks ontsnap Mitzi se oë en ore nie.
“Hoekom? Pla jou hormone jou?”
Fransien voel hoe haar gesig warm word. Sy vermy Mitzi se blik doelbewus. “Dis sommer niks.”
Nou is Mitzi agterdogtig. Die feit dat Fransien duidelik ongemaklik is en haar opmerking probeer wegpraat, sê vir haar iewers is daar ’n slang in die gras.
“Toe nou, Fransien! Uit daarmee! Ek kan sien jy steek iets vir my weg.”
Dit maak nie saak watse jakkalsdraaie Fransien probeer gooi nie, Mitzi is soos ’n bloedhond wat ’n spoor gevat het. Einde ten laaste kom sy maar met die sak patats vorendag.
“Ek dog jy sê hy is ’n vaalseun en nie jou smaak nie?” vryf Mitzi haar woorde van die vorige aand onder haar neus.
“Dit was gisteraand. Alles was so deurmekaar, en ek het hom nog nie geken nie,” probeer Fransien haarself verweer.
“My liewe vriendin, wat het verander van gisteraand af? Glo my, alles is nog steeds deurmekaar, en jy ken die man steeds nie van Adam se kant af nie. Van wanneer af kry jy hierdie snaakse gevoel – die jelliebene en goete?”
“Wel, dit het gisteraand een of twee keer gebeur. Ek het gedink dis maar van al die spanning, of van iets wat ek geëet het … of so iets,” eindig Fransien lamlendig.
“O aarde, hier kom moeilikheid! Ek het nog altyd gedink die dag as jy val, gaan jy hard val. En hier is dit nou.” Mitzi is tegelyk opgewonde en bekommerd. “Sê nou hy is getroud?”
“Hy is nie, hy het my gesê.”
“Sê my, vriendin, presies wat alles het hierdie sogenaamde koffiedrinkery van julle behels? Dis nou nie juis die soort inligting wat ’n mens op ’n toevallige ontmoeting uitruil nie.”
Mitzi klink só agterdogtig dat Fransien haar laggend moet verdedig: “Ons het net koffie gedrink en gesels, regtig. Op die stoep, ten aanskoue van die hele wêreld.”
“Dit sê niks. Die ‘hele wêreld’ was waarskynlik nog vas aan die slaap.”
“Wel, ja,” gee Fransien toe. “In elk geval, of hy getroud is of nie, hy stel nie in my belang nie. Hy kry hierdie uitdrukking van intense verveeldheid as hy na my kyk. So ’n soort waas wat oor sy oë trek, jy weet.”
“Dit klink nie goed nie.” Mitzi frons. “As jy hom nog geïrriteer het, of kwaad gemaak het, was dit ’n goeie ding. Maar ek moet erken, ek het nie raad met die verveeldheid nie. Hoe enigeen jou vervelig kan vind, weet ek in elk geval nie. Jy is aantreklik, spitsvondig, intelligent, met ’n goeie – hoewel soms eienaardige – humorsin. Jy het jou eie suksesvolle besigheid in ’n rigting wat min ander vroue sal aandurf. En dan is jy nog ’n verdagte in ’n moordsaak ook. Waar kan jy interessanter kry?”
Fransien rol haar oë vir dié beskrywing. “Gits, dit klink of jy my wil inskryf vir die Opsitkers. Los asseblief net die laaste stukkie uit, hoor. Netnou dink die manne ek is ’n ‘swart weduwee’.”
“Mmm … Die Opsitkers is nogal ’n idee,” neem Mitzi die wind uit haar seile. “Dis nou as jy nie ’n plan kan maak om die vaalseun vas te trek nie.”
“Mitzi! Hier is geen vastrekkery ter sprake nie. Vergeet nou daarvan. Ek is klaar spyt dat ek jou vertel het.” Fransien klink meer kortaf as wat sy bedoel het.
“Goed, goed, ek kan hoor dit krap jou om. Ons hoef nie meer daaroor te praat nie. Kom, ek gaan wys vir jou Daan se rose. Dis nou die plantvariëteit met die dorings, nie die vroumense in sy lewe nie!”
Sy lag vir haar eie kwinkslag en Fransien lag saam, dankbaar om ’n nuwe onderwerp van bespreking te kry.
Fransien is in vervoering oor die pragtige rose. Sy wil vir haar een pluk, maar die kaleidoskoop van kleur en geur is so bedwelmend dat sy nie ’n keuse kan maak nie. Mitzi kom, tong in die kies, tot haar redding.
“Moenie nou een pluk nie. Die dorings is nogal geniepsig. Wag tot Daan terug is, dan komplimenteer jy hom oor sy mooi tuin. Ek wed jou: binne tien minute bring hy vir jou ’n hele mandjie vol rose!”
Fransien lag. “Arme Daan, jy ken hom te goed. Lyk my hy kan niks vir jou wegsteek nie.”
“Hy beter nie probeer nie!” kom dit gemaak dreigend van Mitzi. “Kom ons gaan soek ’n koel drinkdingetjie in die huis. Die son raak nou te warm vir my.”
Hulle is nog besig om lang glase yskoue vrugtesap te geniet toe die klap van motordeure die aankoms van Daan en die tweeling aankondig. Fransien glimlag breed toe die drie instap.
“Jou roostuin is pragtig, Daan. Mitzi moes my behoorlik wegsleep daar. Dit vat seker baie tyd om dit so mooi te hou?”
“Nogal, ja. Maar ek geniet dit om tussen die rose te werskaf, so dis nie vir my werk nie.”
“Miskien moet ek ook ’n roostuintjie begin, hoewel nou nie op dieselfde skaal as joune nie. Sal jy my kan raad gee daaroor? Ek hou van rose met helder kleure wat nog na rose ruik. En met lang stingels, sodat ek daarvan kan pluk vir die huis,” maak sy die pap nog dikker aan.
Met ’n verlangende blik na sy koerant mompel Daan iets wat klink soos “Het ’n boek hier iewers” en verdwyn by die deur uit.
Dit was weliswaar nie tien minute nie, maar ’n bietjie meer as ’n kwartier voor hy weer by die deur inkom. In sy een hand het hy ’n mandjie rose wat by enige bloemiste ’n paar honderd rand sou kos, en in die ander hand ’n ietwat verslete boek oor die kweek van rose.
“Jy kan hierdie boek maar kry. Hy lyk nie meer so goed nie, maar ek het omtrent alles wat ek van rose af weet daaruit geleer. My vroumense het vir my ’n nuwe roosboek vir my verjaardag gegee, so hierdie een lê nou net hier rond.”
Fransien kry skaam. Sy was nooit