Omdat jy jy is. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Omdat jy jy is - Elsa Winckler страница 4

Omdat jy jy is - Elsa Winckler

Скачать книгу

gesels sy terwyl sy soek na pille of iets wat soos medikasie lyk.

      ’n Selfoon lui. Dis nie hare nie. Kathleen staak haar soekery na die pille en kyk rond waar die foon is wat lui. Onder die bank waarop Steyn lê, kry sy die selfoon. Dit moes uit sy sak geval het toe hy op die bank gaan lê het.

      Dis “Ma” wat bel. Sy huiwer net ’n oomblik voordat sy antwoord. Sy ma sal hopelik weet of hy pille het wat hy kan drink.

      “Hallo,” groet sy.

      Dis stil aan die ander kant van die foon.

      “My naam is Kathleen Mulder. Is u mevrou Erasmus?”

      “Ja,” sê ’n vrouestem onseker. “Ek het my seun probeer bel? Is hy oukei? Het iets met hom gebeur? Waar is hy?” Die stem klink al meer bekommerd met elke vraag.

      “Hy huur die kothuis agter my tante … agter die huis waarin ek bly. Op Greyton?”

      “Greyton? Hoekom sou hy soontoe gaan? Waar lê Greyton nou weer? Is hy oukei?”

      Kathleen kyk af na waar Steyn nog doodstil lê.

      “Greyton is in die Overberg, so ’n uur of wat uit Kaapstad. Ek … dink u seun is oukei, maar hy het dalk koors …”

      “As ek my sonde nie ontsien nie!” roep die vrouestem aan die ander kant gefrustreer uit. “Tipies! Hy is deur twee operasies. Daai ellendige fiets van hom! Ek het voorgestel hy kom bly by my totdat hy weer op die been is, maar nee. Hy is so hardekwas. Gerard, sy goeie vriend en huisdokter, het gesê hy is ook heeltemal oorwerk en moet homself ’n maand kans gee om heeltemal te herstel. Maar wat doen hy? Klim met sy seer arm in ’n motor en ry na Timboektoe. Hy het nou wel ’n outomatiese motor, maar hoe stom-onnoselik kan ’n mens wees? Oe, mansmense maak my so kwaad, hulle …”

      En die stem klim weer ’n paar oktawe terwyl sy mans se baie tekortkominge lys. Kathleen is nie heeltemal seker hoe om die situasie te hanteer nie. Wat sy wel weet, is dat die man voor haar so gou moontlik iets moet inkry vir sy koors.

      “Mevrou Erasmus,” onderbreek sy die tirade. “Uhm, dis Greyton, nie Timboektoe nie. Ek wil in sy sak kyk of hy iets het vir koors. Ek … ek sal hom sê u het gebel.”

      “Jy kan ook vir hom sê ek en die meisiekinders kom so gou moontlik. Ons ry van die Kaap af en ek is nie presies seker hoe lank dit gaan neem nie. Sal jy asseblief intussen kan kyk dat hy vloeistof inkry? Hy het so ’n stokou blou badkamersak van sy pa waaraan hy steeds vasklou, kyk of jy dit kry. Hy het baie swaar gekry ná my man se dood en … Ek dwaal al weer af. As hy enige medikasie by hom het, behoort dit daarin te wees. Ek sal in elk geval weer ’n voorskrif by die dokter kry. Ek moes geweet het daar is moeilikheid toe hy nie gister my oproep beantwoord nie. Hy stuur toe net ’n boodskap vir sy ma, bid jou aan.”

      Kathleen kan nie help om te glimlag vir die vrou nie. Sy is baie verontwaardig en dis duidelik sy is baie betrokke by haar seun. Wie die “meisiekinders” is wat gaan saamkom, sal sy moet wag om te sien.

      Nadat sy beduie het waar sy bly en haar selfoonnommer verskaf het, groet hulle en sy begin weer in Steyn se sak na medikasie soek. Al medisyne wat sy saamgebring het Greyton toe, is ’n paar parasetamol-tablette. As sy niks hier kry nie, sal sy dit gaan haal, maar sy dink die man het iets sterkers nodig.

      Sy begin die klere stuk vir stuk uithaal. T-hemde, twee paar jeans en … Sy laat val die swart onderbroeke vinnig. Bella het altyd te vertel ’n man se onderbroek sê baie van hom. Daar is dié wat hou van boxers en dié wat hou van briefs. Sy kan nie meer Bella se teorie onthou van wat elkeen sou beteken nie, maar dis nie moeilik om ’n visioen op te tower met die man se gespierde lyf in die piepklein swart onderbroek nie. Hy val beslis in die “briefs”-kategorie.

      Fokus, Leen, fokus. Die man is siek en sy sit en kwyl oor sy lyf in ’n swart onderbroek. Verdomp, sy reageer soos ’n gefrustreerde oujongnooi wat nog nooit naby aan ’n man was nie. Oukei, sy wás nog nooit so naby aan ’n man nie, maar sy is darem nog nie ’n oujongnooi nie.

      Uiteindelik kry sy die blou badkamersak waarvan sy ma gepraat het. Daar is ’n paar houers pille in, maar sy het geen benul wat dit is nie. Gelukkig het sy ’n suster wat ’n mediese dokter is.

      Sy bel vir Livie. Die foon lui en lui. Hoe gaan sy die hele situasie aan haar suster verduidelik? O, vrek, sy moet miskien net die apteek bel. Sy mik net om haar foon dood te druk toe Livie antwoord.

      “Leen! Ek het na my foon gesoek om jou te bel toe jy lui. Wat is fout? Is jy veilig op Greyton? Alles oukei?”

      Kathleen sug. Livie het die vermoë om altyd te weet wanneer een van hulle moeilikheid het. “Ek is oukei en moet asseblief nie nou baie vrae vra nie, ek sal later alles verduidelik, maar kan jy my sê waarvoor hierdie pille is?” Sy lees die name af voordat Livie iets kan sê.

      “Leen! Wat het gebeur?”

      “Ek is fine, hier is iemand … Ek het mos gesê ek sal later verduidelik. Kan jy help?”

      “Die eerste naam wat jy genoem het, is vir inflammasie en die ander is pynpille, maar sterk pynpille. Vir wie is dit?”

      “Sal enige van die pille help vir koors?” vra Leen.

      “Ja, maar Leen, wat op aarde gaan aan?” Livie klink ontsteld en Leen sug. Of sy nou wil of nie, sy sal vir haar suster moet vertel wat aangaan.

      So bondig moontlik vertel sy vir Livie van die kothuis en die reëling wat sy met die prokureur gemaak het oor Steyn Erasmus.

      ’n Paar minute is dit doodstil aan die ander kant. “’n Man? In ’n kothuis agter ta’ Peet se huis?”

      “Die prokureur ken die man en ek sê mos hy sal vandag ander blyplek kry. Maar toe sy sak nog vanoggend op die stoep staan, moes …”

      “… jy gaan kyk of hy oukei is,” sug Livie. “Dis ons Leen. Oukei, dis wat jy moet doen: Kry so gou moontlik medisyne in sy lyf. As dit nodig is, spons hom af en laat hy gemaklik lê. Wat makeer sy skouer, weet jy?”

      “Sy ma het iets van ’n fiets gesê, so ek neem aan –”

      “Sy ma? Is sy ook daar?”

      Kathleen sug en vryf oor haar gesig. Dis ’n totaal absurde situasie en sy het nie nou krag of lus om verder te verduidelik nie. Sy sit die pille op die koffietafel neer.

      “Ek praat later weer met jou. Ek gaan eers die man probeer help.”

      “Sê net eers vir my, hoe lyk die man? Jonk, oud? Aantreklik? Sexy?” Livie se stem is vol lag.

      “Die man is siek, Livie, ek praat later met jou.”

      Sy lui vinnig af voordat Livie nog vrae kan vra. Dis baie maklik om te sê hy is nie oud nie, maar sy wil liewer geen kommentaar lewer oor sy voorkoms nie. Sy sal nooit die einde daarvan hoor as sy vir Livie sê die man is aantreklik én sexy nie.

      Haar blik val op die stapeltjie swart onderbroeke in die sak. Sy kyk na Steyn, maar hy lê nog stil met sy arm oor sy gesig. Versigtig tel sy een van die onderbroeke op en hou dit in die lug. Is dit nie besonder … klein nie? Hoe pas …?

      Sy laat val die onderbroek vinnig terug in die sak en stap na die klein kombuisie om ’n glas te kry. Met haar een hand probeer

Скачать книгу