Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach страница 14
Hy stel homself darem skaamteloos as die romantiese held voor, dink sy vies. Die vroumense streep natuurlik agter hom aan, hy met sy goue stem, en laat sy kop net ál groter swel. Hy drink sy aperitief met een pinkie gelig. Ook dít sit haar af. Manlike mans lig nie hul pinkies nie. Giulio doen dit nie.
Vaagweg hoor sy ’n voertuig buite en wag in spanning. As Giulio nou by die deur inkom, wil sy nie lyk asof sy nog heeltyd nét vir hóm wag nie. Sy moet nonchalant wees. Haar hart hamer egter ongemaklik hard in haar bors.
Die man wat inkom, lyk moeg, maar soos voorheen laat hy haar asem wegslaan. Sy het so baie van hom gedroom, sy gesig so hard probeer oproep, en hier is hy nou in lewende lywe. Oorweldigend. Sy blink swart hare is effens deurmekaar en sy klere gekreukel, maar sy donker oë is helder, sy glimlag wittand. Eers groet hy haar ouers en toe kom soen hy haar hand.
“Ek is bly jy het saamgekom, Rafaella.”
“Jy moes my gesê het sy is so mooi,” sê Luigi, met ’n wolfagtige glimlag.
Irritasie trek vlugtig oor Giulio se gesig, maar hy draai na sy ma. “Jammer ek is so laat, Mamma, maar ou signora Petti het vanmiddag geval en haar heup gebreek. Foeitog, op daardie ouderdom.”
“Arme ou dier,” simpatiseer sy ma. “Maar vergeet nou eers van haar. Gaan verfris jou en verklee, dan sluit jy by ons aan.”
Die oomblik dat hy die vertrek verlaat, voel dit vir Rafaella asof dit ontvolk, al sit dit vol mense. Hy het dieselfde uitwerking op haar wat hy in Pretoria gehad het. Asof hy die spil is waarom die aarde draai. Sy hoor skaars wat die ander gesels en doen bloot meganies mee totdat Giulio weer verskyn – fris, vars en skoon aangetrek. Hy skink vir hom ook ’n aperitief en kom sit op die oop stoel langs hare.
“Wat het jy toe besluit om met jou loopbaan te doen?”
“Ek het maar liewer bedank, aangesien ek nie van plan is om by die Masondo-hospitaal aan te bly nie. Ek ondersoek ander moontlikhede.”
“Sy wil sowaar verder studeer,” sê Luigi, asof hy dink sy wil sonde doen.
“Regtig?” Giulio se wenkbroue lig. “Waar beoog jy om dit te doen? Daar by die mediese fakulteit in Pretoria waar ek lesings gegee het?”
Rafaella is nou regtig ongemaklik. Sy het vir Luigi gejok en nou moet sy met die leuen voortgaan.
“E … ek weet nog nie. Ek sal besluit nadat ek vakansie gehou het.”
“Jy kan dalk gaan na Kaapstad waar jou broer is,” sê Giulio.
“Hy kom ’n tyd lank Italië toe.” Sy vertel van Aldo se planne en die Istituto Europeo di Oncologia. “Hy en sy nuwe vrou en seun kom begin November. Ons beplan om ook ’n ruk in Milaan te gaan bly om by hulle te wees.”
“A, dis goed. Ons sal jou broer-hulle dan waarskynlik ontmoet as Luigi se operaseisoen weer afskop, want ons gaan altyd soontoe om die opening by te woon en ’n aantal operas te sien.”
Rafaella is nou vol hoop en optimisme dat sy Giulio dáár ook gaan sien.
“Is die rusoord nou heeltemal voltooi?” vra sy.
“Die bouwerk is min of meer afgehandel, maar daar is nog heelwat binnewerk wat gedoen moet word, en dit kort nog meubels. Die nuwe gebou is agter ons huis, daarom sien jy dit nie. Ons wou nie die aansig van die villa bederf nie. Môre kan jy gerus gaan kyk hoe dit lyk. Ons sal nie meer as agt mense op ’n slag inneem nie, anders raak dit te groot en te onhanteerbaar. Agt mense is maklik om te hanteer en te versorg. Daar is ook net agt wooneenhede met badkamers. Ons neem nie mense in wat ernstige behandeling moet ondergaan of regtig siek is nie. Dit is net ’n rusoord.”
Rafaella kyk onderlangs na hom. “Maar julle aanvaar wel mense wat herstel van siekte, wat byvoorbeeld in remissie is van kanker? Die gevaar is tog nooit heeltemal verby nie.”
Hy kyk vlugtig na Rachel, en toe weer na haar.
“Hier op La Renza kan ek nie mediese dienste aanbied nie, soos ek jou al vertel het. Mense kan my wel konsulteer, maar hierdie is nie ’n hospizia nie. Ek gaan nie chirurge en onkoloë hier aanstel nie. As dit ’n mediese fasiliteit is, moet dit onder die nasionale gesondheid ressorteer en dan is daar eindelose probleme en rompslomp. Ek gaan slegs administratiewe personeel, kombuispersoneel en skoonmakers aanstel. Mamma gaan my medebestuurder wees. Ons het ’n wassery ingerig, ’n verhitte binnenshuise swembad, ’n buiteswembad, kombuis en eetsaal. Ons bied hier stilte en rus, nie vermaak nie.”
Sy ma begin hom uitvra oor die ou tannie wat haar heup gebreek het en hy draai weg om met haar te gesels. Jacopo gesels opera met Luigi en sy luister maar na hul gesprek. Haar pa is ’n regte opera-fanatikus. Duidelik kan hy sy geluk skaars glo dat hy met dié operaster kan kuier en sy teaterstories hoor.
Rafaella glimlag vir haar ma. “Hoe voel Mamma?”
“Goed dankie, my lief. Geen klagtes nie. Bly om hier te wees.”
Hulle sit in ’n groot eetkamer aan ’n tafel waarby twaalf mense of meer met gemak kan sit. Die tafel is keurig gedek en die geregte almal heerlik. Rafaella vermoed daar is ’n uitsonderlike kok in die kombuis en geen tekort aan huishulpe nie. Aan tafel word hulle deur Natalia en ’n meisie bedien. Die Di Mareneschi’s lewe beslis ’n bevoorregte lewe, en tog wy Giulio hom aan sorg vir sy medemens. Hy kon maklik ’n playboy gewees het, maar hy beoefen eerder ’n edele beroep.
Giulio sit aan die hoof van die tafel en sy ver van hom af. Sy hou hom diskreet dop. Hy lyk vir haar soos ’n Medici-prins in sy paleis. So … verhewe.
“Luigi, wanneer wil Maria kom kuier?” vra Louisa.
“So oor ’n dag of wat. Ons moet saam repeteer, maar ek dink sy het meer as repeteer in gedagte.”
Vir Rafaella klink hy half vies, half of hy spog. Die beroemde sopraan loop agter hóm aan, wil hy te kenne gee.
“Is daar iemand met wie jy nog baie graag wil saamsing, buiten die soprane wat jy al genoem het?” vra Jacopo.
“O, ek sou saam met Angela Gheorgiu, daardie beeldskone Roemeense sopraan, wou sing. Ek sal nog.”
“Gaan jy darem vir óns iets sing, een of ander tyd?” vra Jacopo skamerig.
Luigi trek sy skouers glimlaggend op. “Miskien, wie weet.”
“Wat van sommer ná ete?” vra Louisa. “Ons sal geduldig wag terwyl jy opwarm, dan kan ons na die musiekkamer kom.”
“My liewe Mamma, jy weet ek sing nie net nadat ek geëet en gedrink het nie.”
“Wag dan ’n uur en probeer,” sê Giulio. “Dis nie ’n saal se gehoor nie, net ’n paar mense. Jy hoef nie uit volle bors te sing nie. Probeer iets ligs. Professor Continari is ’n groot bewonderaar en operaliefhebber en hy is baie gretig om jou te hoor sing.”
Luigi trek weer sy skouers op. “Ag, nou goed dan. Gee my tot tienuur. Ek sal so ’n paar ligte liedjies vir julle sing, maar nie ’n aria nie.”
Louisa kyk verskonend na hulle.