Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman страница 22
Hy maak koffie en sit ’n beker voor haar neer. “Hoe bedoel jy?”
“Ek bedoel jy moet jou tasse pak.”
“Ek het gesê ek bly voorlopig hier.”
“Jy kan nie in die spaarkamer bly nie, want ek wil nie saam met jou onder een dak wees nie. Vat jou goed en vat die pad.”
Nikka weet wat sy besig is om te doen, is goedkoop wraak. Maar sy kan haarself nie keer nie en geniet dit toe ’n rooi gloed in Ruan se gesig opstoot. Sy het verwag hy gaan die Stefni-vroumens verdedig, maar hy doen dit nie.
“Drink jou koffie,” sê hy sag, “dit sal jou beter laat voel.”
“Niks sal my beter laat voel nie. Loop! Gaan na daardie vroumens toe. Ek het jou nie nodig nie. Ek wil alleen wees.”
Ruan staan besluiteloos. Sy teenwoordigheid vererger die situasie. Dit sal beter wees as Nikka nie gedurig in hom hoef vas te kyk nie, maar sy is so oorstuur dat hy bang is om haar alleen te laat – bang sy vang iets onverantwoordeliks aan. Hy oorweeg dit om haar ma te bel en te vra om oor te kom, maar dit sal net vet in die vuur wees. Skoonma se inmenging sal die vuurhoutjie wees wat die bomlont sal aansteek.
Nikka wys met haar vinger na die deur. “Gee pad uit my kombuis en uit my lewe uit!”
“Ek gaan ’n ent draf,” sê Ruan. “Miskien wanneer ek terugkom en jy nie meer so buite weste is nie, kan ons die situasie kalmer bespreek.”
Nikka hoor sy voetstappe, hoor hom gaan, hoor hoe dit stil word. Hy het die agterdeur al vergete agter hom toegemaak toe sy nog na die leë deurkosyn staar. Hopend hy draai om en kom terug …
Die tekens was lankal daar, nog voor die naweek in die Drakensberg. Maar sy was in lafhartige ontkenning en het haarself oortuig dis stres, kantoordruk en moegheid. Sy was te seker van Ruan, oortuig hy sal nie na ’n ander vrou kyk nie. Hy is té lojaal en té lief vir haar. Ander mans, ja, maar nie háár man nie.
Die tekens was gisteraand ook daar: Ruan wat nie uitermatig bly was om haar te sien nie, sy louwarm groet. Hy wou nie eet nie, het skaars ’n halwe glas sjampanje gedrink en allerhande flou verskonings bedink om na die spaarkamer te ontsnap. En vanoggend het hy gesê hy kon nie slaap nie – nie as gevolg van die lang vlug nie, maar “ander” dinge. Sy gewete wat hom gery het.
Sy moes opgelet het of daar lipstiffiemerke aan sy hempskraag was of ’n vreemde parfuumreuk aan sy trui. Hy en die flerrie het seker langs mekaar op die vliegtuig gesit en op pad hierheen êrens stilgehou om afskeid te neem. Natuurlik sou hy haar omhels en gesoen het. Met dieselfde warm mond wat háár altyd gesoen het …
Nikka los die stuk kombuiskas wat haar regop gehou het en sak stadig vooroor op haar knieë, tot sy die koel vloerteëls teen haar koorsige voorkop voel. Dan gee sy haar oor aan die snikke wat haar skouers onbeheers laat ruk.
9
In hoeveel stukkies kan ’n hart breek? vra Nikka haarself af terwyl sy in ’n bondeltjie op die bed lê, met die duvet oor haar koue voete. Wieldop het Ruan soos gewoonlik gevolg toe hy gaan draf het en sy het hom hoor blaf toe hulle teruggekom het. Ook die agterdeur hoor oopgaan, die stortkrane en kasdeure in die spaarkamer gehoor. En ’n ruk later die Toyota hoor ry. Daarna was dit doodstil.
Het hy sy goed kom haal? Hy het gesê hy gaan naweke na daardie vrou toe, maar nadat sy soos ’n viswyf tekere gegaan het en hom verwyt en veroordeel het, het hy seker besluit om permanent by die fisioterapeut in te trek. Skok het veroorsaak dat sy beheer verloor het. Sy moes nie so aangegaan het nie en hom kans gegee het om te verduidelik, by hom gepleit het om te besin. Nou het sy hom weggedryf, in daardie flerrie se arms in …
Nikka staan op en gaan kyk in die spaarkamer. Sy klere is nog in die kas en die tas bo-in weggepak. Sy het geen reg gehad om hom weg te jaag nie, besef sy. Dis sy huis ook, waarvan hy meer as die helfte betaal het. Hy het alle reg om hier te bly; selfs ná die egskeiding saam met sy nuwe vrou hier te bly.
En sy? Waarheen moet sý gaan? By haar ma intrek of in ’n goedkoop eenkamerwoonstelletjie in die stad? Dit beteken sy sal nie met Piekepiekniek kan voortgaan nie.
Sy kry haarself baie jammer en gaan kruip weer onder die duvet in. Vir die eerste keer verstaan sy haar ma se pyn, haar vernedering en bitterheid. Haar ma het ’n soortgelyke situasie as hierdie deurgemaak, boonop met ’n hoop skuld en ’n vyfjarige kind wat sy alleen moes grootmaak.
Haar ma mag nie weet van Ruan nie. Later, ja, maar nie dadelik nie, nie terwyl alles nog so rou is nie. Sy het haar trots en selfrespek, en sy weet wat haar ma se reaksie sal wees: “Ek het jou mos gewaarsku! Mans is almal so, vol luste en drange wat hulle nie kan beheer nie. Soos mannetjieskatte.”
Haar keel voel dik en sy sluk. Is Ruan ook so, soos haar ma altyd voorspel het? Blykbaar … Maar nie alle mans nie. Nie Thys nie, daarvan is sy oortuig. Thys is eerlik en ordentlik, soos Ruan was voor daardie goedkoop slet hom onder hande geneem het. Létterlik onder haar masseringshande gekry het …
In Nikka se gedagtes vorm ’n prentjie van die vroulike fisioterapeute wat sy tydens rugbywedstryde op televisie gesien het, dié wat in geval van ’n besering of spierkramp met ’n mediese sak op die veld draf. Gewoonlik sulke mooi geboude meisies – slank en lenig, met blonde hare in ’n poniestert, in drafskoene en ’n kortbroek wat hulle mooi bene wys. Haar hart krimp inmekaar toe sy die Stefni-meisie in Ruan se bed visualiseer. Sy smoor die toneeltjie in haar gedagtes en dwing haarself om aan ander dinge te dink.
Thys weet van die meisie. En Ruan se ouers? Hulle gaan geskok wees. Soos almal wat Ruan ken, want niemand het so iets van hom verwag nie.
Wat het Stefni wat sý nie het nie? Of is dit die sogenaamde sewe-jaar-jeukerigheid waaraan hy ly ná sewe jaar van getroude lewe wat maak dat hy lus is vir ’n verandering?
Die foon lui ’n paar keer en Nikka verbeel haar daar’s ’n klop aan die deur, maar sy maak haar oë toe en druk haar kop onder die kussing in. Môre sal sy moed hê om die eerste dag van die res van haar lewe aan te pak; vandag is sy nog te lafhartig, te seer en rou.
Sy het dit nog nie verwerk hoe om sonder Ruan voort te gaan nie; hoe om nie oor te gee en vir altyd onder die duvet weg te kruip nie, of sommer ’n klomp pille te sluk nie. Dan is alles verby en sal sy nooit weer hierdie verskriklike pyn voel nie …
“Nikka!” praat ’n stem en daar’s weer ’n klop, dié keer aan haar kamervenster.
Sy maak nie haar oë oop nie. Dis nie Ruan nie. Nie sy stem nie. En hy is na Stefni toe. Al daardie aande wat hy kamma laat gewerk het, die kastige gholfnaweke en wegwedstryde wat hy moes bywoon, was alles leuens. Hy was by háár …
“Nikka! Ek weet jy’s hier. Maak oop!”
Ruan sou nie geklop het nie, want dis sy huis ook en hy het mos ’n sleutel …
Ver weg klink weer ’n stem. Die volgende oomblik stap Thys by die kamerdeur in.
“Nikka? Hoekom maak jy nie oop nie? Ek het my kneukels seer geklop!”