Helena Hugo Tweede Keur. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo страница 6
“Eina.”
Daar staan ’n loopraam in die hoek van die kamer en die engel trek dit nader.
“Jy gaan nou opstaan. Kom ek wys jou.”
Hoe op aarde, met die dom bene. Maar sy vra nie. Hy buk by die bed en sy kuif val oor sy voorkop. Magriet voel vir die eerste keer in haar lewe bitterlik lus om haar arms om ’n wildvreemde man se nek te gooi en te huil. Wat gaan aan met haar? Is dit die medikasie? Maar hy praat so mooi en hy is so geduldig!
“Laat hang jou linkerbeen op die grond, dis jou splinterfraktuur. Dit sal langer neem om te genees as die draaifraktuur regs. Het jy pyn? Nie? Bring nou jou regterbeen oor. Is dit jou pantoffels dié?”
Magriet knik verleë. Dis haar ou geborduurde Chinese nommertjies. Die meeste van die krale en blinkertjies het al afgeval en die brokaat maak rafels. Lyk of ’n kat sy naels daarop skerp gemaak het. Die man help haar gewoon om hulle aan te kry en sy wil deur die dak spring toe sy koel vingers om haar enkel slaan. Kalmeer, Magriet, die pragtige wese doen bloot sy daaglikse werk!
Hy sit die loopraam reg voor haar neer. Dankie tog sy het ’n nuwe nagrok aan en dis ’n kuise nommertjie wat sy einde verlede jaar vir die skoolkamp gekoop het.
Hy wys haar waar om haar hande op die loopraam te sit. “Vat vas en trek jouself op.”
Sy doen dit so maklik, sy is skoon verbaas. Onseker staan sy regop langs haar bed.
“Nou ja toe, jy kan loop.”
“Is dit nie te gou nie?”
“Hoe gouer, hoe beter. Ek wys jou.”
Tot haar groot verleentheid kom staan hy agter haar en ondersteun haar in die halfmaan van sy arms. Sy bors raak-raak aan haar rug. Magriet hou asem op. Sy geur maak haar mal.
“Wat nou?” vra sy benoud. “Wat volgende?”
“Skuif jou regtervoet vorentoe, lig die raam en … sit dit neer. Skuif jou linkervoet vorentoe en lig die raam …”
Dis die maklikste ding op aarde – en sy dag al die tyd die ooms en tannies in haar ouma se ouetehuis sukkel, want hulle doen dit dan so bewerig.
Hy staan terug, sy voel hoe hy haar loslaat. Sonder om om te kyk loop sy alleen verder.
“Jy is sterk en gesond, jy sal gou op krukke wees.”
Magriet maak ’n lang draai deur die kamer. Dit voel so natuurlik, sy kan nie glo sy het twee gebreekte bene nie.
Haar fisioterapeut staan daar en glimlag dat sy skitterwit tande wys, so reguit en perfek hy kan tandepasta adverteer in flieks regoor die wêreld.
“Genoeg vir een dag,” sê hy in sy skik. Hy help haar om op die rand van die bed te sit en versigtig weer haar lê te kry. “Hoekom al die kussings?”
Sy beduie en hy skik hulle beter as wat dit voorheen was. Dan klap hy sy yslike afspraakboek oop en druk dit onder haar neus.
“Teken asseblief hier.”
Sy sien haar naam en die tyd wat hy haar besoek het en teken gedwee.
“Totsiens eers, juffrou Vlok. Sien jou môre dieselfde tyd.”
Flink stap hy uit, sonder om een keer om te kyk. Vir hom is sy duidelik net nog ’n kruppel pasiënt wat hy moet leer loop. Nogtans …
4
Van al die skokke en inspanning slaap Magriet die hele dag om. Middagetetyd eet sy tam haar kos en drink haar pille, maar dan slaap sy weer tot aandete.
Teen seweuur daag haar besoekers op. Dis Carol en die skoongeskropte tweeling én hul sussies. Johan werk laat, maar stuur sy liefde. Die tweeling is so sedig dat botter nie in hul monde sou smelt nie. Carol fluister vir Magriet: “Hulle is bang ek los hulle hier om hulle streke te laat uitsny.”
Die kinders oorhandig elkeen ’n geskenkie en ’n kaartjie wat hulle self gemaak het.
Magriet maak ’n bohaai oor elke geskenk: sjokolade en nougat en nog sjokolade. Die dogtertjies se kaartjies is vol tekeninge van hartjies en blomme. Die tweeling het prente van karre uitgeknip en geplak. Hul boodskappies is in skoonskrif oorgeskryf, die spelling foutloos: soos nagesien deur hul ma wat in die klaskamer langs Magriet s’n skoolhou.
Liewe tannie Magriet, ek hoop tannie se bene groei gou aan.
Liefde, Jaco
Liewe tannie Magriet, ons gaan ’n nuwe trampolien kry.
Liefde, Nico
Hulle is nog besig met die kinders toe een van haar tweelingbroers, Gert, opdaag met ’n yslike ruiker.
“Van my en Louis.”
Louis is Gert se tweelingbroer. Hulle bedryf saam ’n vulstasie, droom van tydrenne en vang graag vis. Gevolglik is hulle en Walter nog beter bevriend as Walter en haar ander broers.
Magriet verstom haar oor die ruiker. Sy het dit nie van dié twee verwag nie. Maar die afgelope tydjie gebeur daar baie dinge wat sy nie verwag nie.
“Dankie, Gert, dis baie mooi,” sê sy, en Carol beaam dit.
“Hoe voel jy, loop jy al?” vra Gert.
“Ja, so ’n bietjie, ek leer van voor af.”
“Het jy ’n sexy fisioterapeutjie? Jy moet haar nommer vir my afskryf.”
“Kan nie,” sê Magriet.
“Hoekom nie?”
“Want sy is ’n hy.” Oeps, daar bloos sy.
“O, en hoekom word sy nou so rooi? Ek sal vir Walter moet waarsku!”
Magriet wil haar kop onder die laken druk, maar Carol kom tot haar redding. “Genade, Gerhard, bedaar!” roep sy uit. “Haar ortopeed is ook ’n man.”
“En hier is manlike verpleërs,” sê Magriet vinnig.
“Professionele mense,” voeg Carol by.
“Haha! The ladies doth protest too much!” hou Gert vol.
“Vir iemand wat Shakespeare aanhaal, is jy darem vreeslik kinderagtig,” sê Magriet. “Nico, wys vir oom Gert die karretjie-kaartjies wat julle gemaak het. Hy speel mos so graag met karretjies.”
Sy gee die kaartjies vir Nico aan. Jaco gryp dit uit sy hand en ’n gestoeiery ontstaan wat Carol eers moet stopsit. Dit verskuif ten minste die aandag van Magriet na die kinders. Klein Caroline dra die yslike bos blomme rond en val amper oor haar eie voete.
“Jammer, Magriet, ons is duidelik nie gewoond aan hospitale nie,” sê Carol.
“Wees dankbaar daaroor,” sê Magriet, maar dink heimlik: Dis glad nie so