Harry Griesel 2: Die spookplaag. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Harry Griesel 2: Die spookplaag - Sonja Kaiblinger страница 6
Sir Tony kruip die hele middag weg. ’n Rukkie later lui die telefoon en Emily se ma laat weet dis amper tyd vir aandete. Nadat Otto saam met sy vriendin tot by die voordeur gestap het, gaan hy terug kamer toe. Hy gaan sit op sy gunstelingplek op die vensterbank en blaai ingedagte in oom Archibald se boek rond.
Hy hoor tannie Sharon hard aan die werk in die kombuis.
“Ek kan nie kop of stert uitmaak van al die goed in hierdie boek nie,” sê Otto vir Vincent, wat in ’n oop laai op Otto se dik trui sit en slaap. “Daar’s ’n paar bladsye weg. Party van die bladsye is so vol inkkolle en koffievlekke dat ’n mens dit skaars kan lees. Om nie te praat van die handskrif nie. Dit is ’n onleesbare, bewerige gemors. Dit lyk amper of iemand anders dit geskryf het.”
“H’m.” Vincent gaap en rek hom uit. “Kon jy intussen uitvind wat die storie met die sonmelk is?”
Otto skud sy kop. Emily het probeer uitvind deur haar gesig daarmee te smeer en in die son te gaan staan.
Maar sy het nie deurskynend geword nie, ook nie begin glinster of vreemd begin gloei nie.
Vincent snuif neerhalend. “Het die goed haar ten minste teen sonbrand beskerm?”
“Ek weet nie. Dis die middel van die winter.”
Otto ruik iets baie lekkers. Tannie Sharon is besig om heerlike pampoensop te kook.
Sy maag grom onmiddellik, hy het nie eens agtergekom hoe honger hy is nie.
Hy sit die boek eenkant neer en besluit om die getob daaroor vir eers te los. Hy vorder in elk geval nie.
Onder in die sitkamer staan tannie Sharon op haar knieë voor die kaggel; sy kyk aandagtig in die skoorsteen op. Otto gaan staan botstil en wonder … Kan tannie Sharon ook skielik spoke sien?
Sy het in elk geval nie die bril op nie. Otto het dit intussen onder sy matras weggesteek.
“Wat ’n gemors!” raas tannie Sharon en kyk op na Otto; haar wange is vol roet en as. “Ek dink een of ander gedierte het hier in die skoorsteen kom nesskop. Miskien is dit ’n vlermuis.”
“Vlermuis? Miskien ’n wyfietjie?” sis Vincent hoopvol uit Otto se hempsak.
“Sjuut.”
“Of dalk ’n duif,” raai tannie Sharon en haal haar skouers op.
“Presies!” giggel Vincent. “ ’n Vet duif met ’n halwe bleskop en allergiese asma.”
“Het jy iets gesê, Otto?” Tannie Sharon vee die sweet van haar voorkop af.
Otto maak keelskoon.
“Ek wou weet … um … wat jou so laat dink, tannie Sharon? Het jy dalk iets gehoor?”
Sy kyk na haar vuil vingers. “Hier val konstant klein klippies af. En die stof is iets verskrikliks. Ek is seker daar is iets bo in die skoorsteen.”
“Miskien um … moet ons maar die skoorsteenveër laat kom,” stel Otto voor.
“Ek het ’n beter idee.” Tannie Sharon steek ’n vuurhoutjie aan en gooi dit op die hoop hout. Die hout vat dadelik vlam. “ ’n Bietjie rook behoort die vabond op sy plek te sit.”
O, gonna! Otto kyk benoud na die vlamme en die grys rookwolke wat in die skoorsteen opstyg. Hy kan niks doen nie, want dan sal tannie Sharon lont ruik.
“Ha … ha … tiesjoe!” weerklink dit feitlik onmiddellik van bo af. “Wat de ongeluk … . is julle mal? Kan ’n mens nêrens in hierdie plek rus vir jou siel kry nie? Die stofsuier word aanhoudend gebruik en mens kan nie eens in die skoorsteen tot rus kom nie …” Sir Tony se geskel word deur ’n hoesbui onderbreek. “Die plek is erger as ’n rookkamer. Ek is nie ’n stuk ham nie!”
Tannie Sharon vee haar hande aan ’n vadoek af. “Dit behoort die ding te doen. Die sop is in elk geval ook amper reg. Otto, sal jy asseblief die tafel gaan dek? Otto? Waar is jou ore?”
“Um, ja, natuurlik sal ek.” Otto probeer sy bes om ongeërg te lyk.
“Dis nou genoeg. Genoeeeeg!” skree Sir Tony hard. “Dis nie meer snaaks nie. My agterstewe is aan die brand!”
Toe tannie Sharon in die kombuis verdwyn, gryp Otto ’n nat lap, hol kaggel toe en gooi dit op die gloeiende kole. Dit stink verskriklik en die rook trek sulke bolle die lug in, maar uiteindelik is die vuur geblus. En só kom tannie Sharon se beheptheid met skoonmaak tot die redding.
“Die vuur is dood,” sis Otto in die skoorsteen op. “Jy moet nou dadelik uitkom, Tony!”
“Nee!”
“Toe, kom nou. Jy is hopeloos te fyngevoelig.”
“Het jy nog die bril op?”
“Nee, toe, maak gou. Dis deksels koud buite en ek kan nie vir tannie Sharon keer as sy weer die vuur wil aansteek nie.”
“Nou goed, nou goed, ek gee oor.” Sir Tony is heeltemal oortrek van die roet en hoes amper sy longe uit. Sy gewone deurskynende kleur het in ’n lelike rokerige grys verander. “Jy wen.”
“Reg,” sê Otto tevrede. “En nou gaan jy my vertel wat jou storie met die bril is.”
“Oukei,” kom dit roggelend van Sir Tony se kant af. “Ná aandete in die kamer. Maar dis ’n taamlik lang, grieselrige storie.”
Spookmarteling!
“Dis onmoontlik! Het Sir Tony dit rêrig gesê?” Emily laat die swaar naslaanboek oor die Middeleeue, waardeur sy en Otto vir die geskiedenistaak moet worstel, op die vloer val. Die harde slag weerklink deur die hele biblioteek en almal se koppe draai in hulle rigting. Juffrou Pienaar, die bibliotekaresse, gee hulle ’n vuil kyk toe Emily die boek haastig optel.
Otto praat steeds saggies met haar. “Sir Tony is oortuig daarvan ons sit die pot heeltemal mis as ons dink Archibald was ’n liewe oom wat hom in sy vrye tyd met die bonatuurlike besig gehou het. Hy het die spooknavorsing baie ernstig opgeneem. Sir Tony sê hy was skoon behep daarmee. Dit was … vreemd.”
Emily skud haar kop. “Ek verstaan nie so mooi nie. Hoe … is die spooknavorsing gedoen?”
“Oom Archibald en sy assistent, Bernard, het eksperimente gedoen. Ná ’n rukkie het hulle uitgevind dat aluminium ’n soort gif vir spoke is. Daarna het hulle probeer uitvind of dit in staat sou wees om spoke heeltemal …”