Speurhond Willem in Australië. Elizabeth Wasserman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Speurhond Willem in Australië - Elizabeth Wasserman страница 2
2
Pa skuif sy bril vorentoe en frons. “Dis seker weer een van jou maats wat ons ’n poets wil bak. Wie stuur nou ’n brief aan ’n hond?”
Gewoonlik sorg ek dat ek eerste by die posbus uitkom, want in ons huis is pos vir die hond glad nie so vreemd as wat hy dink nie. Soms is dit pakkies, soms is dit groot bruin koeverte vol lugposplakkers. Willem het selfs sy eie e-posadres wat hy met ’n wagwoord beskerm wat ek net nie kan ontsyfer nie. Soms bestel hy goeters oor die internet en boonop gebruik hy dan my pa se kredietkaart vir sy aankope. My pa kom dit gelukkig nie agter nie. Of dalk dink hy dis maar net my ma?
Ek draai die brief om en dan sien ek dit: die rooi wasseël van die Britse koningshuis. My hart begin vinniger klop: waar Willem ter sprake is, weet mens nooit!
Ek skuif die brief onder my rekenaar se sleutelbord in. “Gaan jy dit nie oopmaak nie?” vra my pa.
“Dis seker maar net een of ander advertensie vir hondekos. Kom ons gaan eet eers,” sê ek. “Ek dink Ma is weer besig om een van haar spesiale geregte voor te berei.”
My pa sug.
Ná ete (geskroeide biefstuk met ’n groen sous, en ’n paar klonte kapokaartappel) gaan sit ek op my bed en trek die brief weer nader.
Ek lees dit blitsig en my asem slaan sommer bollemakiesie agter in my keel. “Willem gaan sowaar ’n medalje kry!”
My ma druk haar kop om my deur. “Wat sê jy daar, Adriaan, met wie praat jy?”
“Niks nie, Ma. Ek praat sommer met myself.”
Sy kom sit langs my op die bed en gee my ’n drukkie. Ek druk die brief vinnig onder my sitvlak in.
“Adriaan, ek en jou pa het gepraat. Miskien is dit tyd vir ’n nuwe hondjie?”
My hart klop nog steeds vinnig. Ek het ’n hond: een wat ’n medalje gaan kry, die Victoria-kruis nogal, en nou wil my ma vir my ’n ander een koop. My mond hang oop, en my ma dink dit is van blydskap.
Sy glimlag breed. “Môre! Of nee, oormôre. Môreaand is die kookwedstryd. Maar die dag daarna kan ons een gaan uitkies. Ná skool. Wat van ’n kleiner soort, dalk ’n Jack Russell? Nee, hulle kou alles … wat van ’n poedeltjie?”
’n Poedel? My ma wil sowaar vir my ’n poedel koop. Dit sal Willem ’n les leer!
“Ons kan een kry wat ’n bal gaan haal as jy dit vir haar gooi, ’n mooier een as Willem. Jy weet, Willem was maar knorrig, veral die afgelope tyd, en jammer om te sê, liefie, hy het nie altyd so lekker geruik nie.”
My ma babbel nou aanmekaar, maar my gedagtes skuif weg na die koninklike brief onder my boud. Ek moes vinnig lees, maar ek het klaar gesien wat ek wou sien: die medalje gaan in Sydney, Australië, oorhandig word.
Is dit dalk waar Willem is?
3
Daardie aand lê ek in my bed en dink.
Iets wat my ma gesê het, steek in my kop vas. Willem was die afgelope tyd knorrig.
Dit is waar. Was ek te stomp om dit agter te kom?
’n Paar keer in die week voor hy vertrek het, het ek wakker geword in die middel van die nag. En daar was Willem, besig voor die rekenaar.
“Wat maak jy, Willem?” het ek hom gevra.
“Slaap verder!” was ál wat ek uit hom kon kry. En eenkeer het hy iets gemompel oor kinders wat hom sooibrand gee. Ek het gedog hy praat van my, maar nou onthou ek skielik iets anders.
Willem het mos sy eie kinders. En hoofkommissaris Servin het so ’n maand of wat gelede vir Willem laat weet dat een van sy seuns, Sherlock, na Australië gestuur is om daar te gaan werk.
Sherlock … Australië … en ’n knorrige Willem?
Ek spring op en skakel my rekenaar aan. Willem het my geleer hoe om enigiets te vind op Google, en die hoofkommissaris se rekenaarmense het ons internet só gestel dat ek nie op webwerwe beland waar kinders nie hoort nie. Dit vat my net ’n paar minute om meer te leer. Daar is ’n hele string soekresultate oor Sherlock se doen en late in die land doer onder:
NUWE REKRUUT IN AUSTRALIESE SNUFFELHOND-SPAN LEWER VERBASENDE RESULTATE! lui een opskrif op ’n nuusblad. Die datum is so twee maande gelede, en daar is selfs ’n foto van Sherlock. Willem se oudste seun lyk soos ’n kruis tussen my hond en sy ma, Boris, die Russiese ruimtehond wat Willem se hart gesteel het tydens ons avontuur op die internasionale ruimtestasie. Hy is bruin en meer wollerig as sy pa, en spog met ’n breë glimlag wat glad nie eie aan my knorrige ou brak is nie.
Ek lees met ’n hart wat bokspring. Sherlock het blykbaar ’n hele klomp diere uitgesnuffel wat in die kloue van smokkelaars beland het: ’n koalabeer, ’n Tasmaniese duiwel en selfs ’n hele span buidelmuise oftewel wombats. Maar kort daarna het die moeilikheid begin, want ’n berig net ’n paar weke later laat my regop sit:
IS SHERLOCK DIE WONDERHOND DALK ’N SKAKEL IN ’N KETTING MISDADE?
Ek lees verder. In Australië is rooftogte aan die toeneem, en gesteelde goedere word landuit gesmokkel, versteek in die bagasie van mense wat hulle as gewone toeriste voordoen. En dit lyk of Sherlock sy snuffelneus moedswillig anderkant toe draai. Die verslaggewer beweer juis daarom was die polisie te laat om beslag te lê op ’n tas vol gesteelde juweliersware – onder meer die diamanthalssnoer van ’n beroemde operaster. Hulle ruik lont: is Sherlock dalk betrokke?
Nee wat, pure bespiegeling! Maar toe lees ek verder: Sherlock het skielik verdwyn. En volgens die verslaggewer is dit so goed soos ’n skulderkenning. ’n Reusesoektog is van stapel gestuur. Die polisie reken Sherlock hang nou iewers uit in die Australiese boendoe – blykbaar duisende kilometers droë veld, amper so groot soos Amerika.
Hy is laas gesien in die geselskap van ’n bende gevaarlike dingo’s.
Geen wonder Willem was so knorrig nie. Sherlock is in groot moeilikheid!
Ek kyk na die datum van die berig – dit alles het net ’n paar dae gebeur voor Willem padgegee het. Ek sit dadelik twee en twee bymekaar. Willem het na sy seun gaan soek!
Ek snuffel verder op die internet rond.
Australië klink gevaarlik. Wilde honde, krokodille en baie giftige slange. Willem is nie meer ’n jong hond nie – hy hoort nie in so ’n gevaarlike plek nie. Nie sonder my nie!
Ek wonder meteens oor sy medalje en lees weer die