Onthou my. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Onthou my - Helena Hugo страница 5
Jessie kom sit langs Janine. “Jy’s bleek. Wat makeer?”
Janine tel Riekie op haar skoot. “Hulle hou my besig, ek slaap sleg.”
“Ons kry vanaand gaste.”
“Weet ek dit nie.”
“Hulle sal nie lank kuier nie. Kerk is agtuur môreoggend.”
“Sjuut, julle!” Jenny skuif nader aan die televisie. Sy verstaan genoeg Engels om die dialoog te volg.
Riekie raak knieserig. Jessie vat haar by Janine en dra haar, al klaende die gang af. Janine kyk ’n stukkie van die speelgoedmanewales, staan dan op en loop kamer toe.
Riekie rus teen Jessie se skouer. Sy neurie haar aan die slaap, wieg haar op die maat van “Kersfees kom, Kersfees kom …”
Janine trek die bababedjie se lakens reg. As sy nie meer hier is nie, sal Jessie haar dogtertjies grootmaak. Dis ’n aaklige gedagte en dit kan gebeur, sy kan doodgaan – soos sy deesdae voel, so maklik.
Jessie sal ’n goeie ma wees. Sy lê die slapende Riekie versigtig neer, fluister: “Skatlik.”
“Sy is, veral as sy slaap.”
“Ek hoor haar snags.” Jessie staan ’n entjie weg. “Jy moet my kom roep as dit te erg raak,” sê sy saggies.
“Jy werk, ek kan jou nie van jou nagrus beroof nie.”
“My werk is nie veeleisend nie.”
“Wanneer jy hier is, help jy my heeltyd. Ek weet nie wat ek sonder jou sou doen nie.”
“In Londen het jy alleen reggekom.”
“Nie sonder Esther en ons kerk se Baby Circle nie.”
“Dis goed dat jy nie alleen was nie.”
“Daar was tye dat ek so alleen was, ek het julle briewe oor en oor gelees.”
Jessie sit haar arm om Janine. “Selfde hier.”
“Ek sien nie kans vir vanaand nie.”
“Die Kowalski’s het ons laas jaar genooi. Vanjaar is dit ons beurt.”
“Ek wil nie ’n pretbederwer wees nie, maar ek het gehoop dis net ons.”
“Jy is onseker oor Bennie, of hoe?”
“Oor hom én die res van die dorp. Ons moet môre kerk toe en almal sal my aangluur.”
“Vra my, ek moes ook daardeur. Wat my bekommer, is dat jy so bleek is.”
Janine voel die warm blos in haar nek opstoot. “Ek is moeg, dis al.”
“Dan moet jy jou kans waarneem en rus voor ons geselsery vir Riekie wakker het.”
“Hoe laat kom hulle?”
“Vieruur. Ons eet twaalfuur ’n toebroodjie, vanaand braaivleis.”
Teen drieuur voel Janine beter. Jessie help haar om Jenny en Riekie te bad en partytjierokkies aan te trek. Bennie Kowalski kom weer ter sprake en Janine belowe om ten minste ’n bietjie moeite te doen met haar voorkoms. Toe was en blaas sy haar hare en smeer lipstiffie aan. Haar blomrok sit nog lossies, hoewel die lae hals haar vol borste beklemtoon. Nadat sy ’n laaste draai voor die spieël gemaak en vooroor gebuk het, besluit sy om die rok met ’n kuitbroek en ’n oorhangbloes te vervang, sagte lap wat tot by haar kuiltjie toeknoop en elke kurwe netjies verbloem.
Die gaste sit onder die afdak en tjips eet toe sy by hulle aansluit. Aunty Anny het Riekie op haar skoot en Jenny staan penregop langs ouma Leen. Die mans is soos gewoonlik om die vuur. Janine gee aunty Anny ’n drukkie, sy voel die geneentheid van die ouer vrou na haar toe oorspoel. Geen verwyt nie, net aanvaarding.
“Jou dogtertjies is pragtig,” sê sy. “Hoe gaan dit met jou? Het jy al tot verhaal gekom?”
“Dankie, aunty Anny, ek voel elke dag beter.”
“Ek is bly. Ons was bekommerd oor jou. Jy het darem vanmiddag bietjie kleur op jou wange. Dis mos nou somer hier, nie winter soos in Londen nie. Jou ouma sê my julle was al op die strand.”
“Eergister, die kinders geniet dit. Jessie ry, maar sy werk volgende week.”
“Jy moet Bennie vra om julle te vat, vir jou en die kindertjies. Ons sal vir hom instaan by die winkel.”
Janine bloos. Om aan haar en Bennie op die strand te dink is genoeg om haar benoud te maak.
Hy kom na hulle toe aan met ’n bord vol skaapworsies. “Lusmakertjies.” Sy oë rus op haar met onverbloemde bewondering. “Hallo, Janine, hoe gaan dit?”
“Goed, dankie.”
“Jy lyk ook goed, ek bedoel … mooi. Wil jy sit?”
Hy dans om haar rond, sleep twee stoele nader. Sy kies een en sit dit amper mis.
“Bennie, die wors! Jy hou die bord skeef!” Dis Jessie wat ingryp.
Hy herstel merkwaardig, wikkel die worsies wat na die kante toe oorhang, weer middel toe. Jessie bied vir haar ’n wyntjie aan. “Wit of rooi?”
“Vrugtesap, asseblief.”
Verbeel sy haar of is die glimlag om Jessie se lippe net te veelseggend?
“Mango of lietsjie?”
“Mango is goed. Ek kan self.”
Maar Jessie keer. “Ek bring vir jou.”
Bennie buig voor haar. “Kry vir jou ’n worsie.”
Hoe dankbaar is sy nou sy het nie die blomrok aan nie. Sy wil ’n stukkie afbreek, maar haar vingers is dom.
Hy gryp ’n bord van die tafel af en oorlaai dit. “Hou so, dan deel ons.” Met dié draai hy na ouma Leen. “Ouma? En Jenny?”
“Sê dankie vir oom Bennie.”
“Dankie, oom Bennie.”
“Pasop, hy’s warm.”
“Gee hier, Ouma blaas.”
“Mag Riekie ’n worsie eet?”
“Ja, sy eet als.”
Janine kyk vir die worsie wat soos ’n katstert op die bord krul. Almal lag en skerts en sy veg teen trane. Hoort sy hier? Jenny en Riekie, die onskuldiges, wel. Maar sy? Sy het alles wat goed en reg is in die wind gestrooi, haar eie kop gevolg en nie een van hulle in ag geneem nie, minste van almal vir Bennie.
“Aha, hier’s