Wanneer 'n droom waar word. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wanneer 'n droom waar word - Ettie Bierman страница 3

Wanneer 'n droom waar word - Ettie Bierman

Скачать книгу

kan nie. Ek moet my verlof bêre vir ’n kennismaand en vir die sewe maer jare wat voorlê terwyl ek ander werk soek.”

      Sy vertel hoofstuk twee van die Arno du Plessis-sage: die hysbakepisode wat die faksmasjienepisode opgevolg het; die nuusredakteur wat nie die appelkarretjie wil omkeer nie. Die sieldodende berigte en vergaderings, die mikroskopiese salaris en oortyd waarvoor sy nie vergoed word nie, die redigering en teemakery waarvoor sy ingespan en misbruik word.

      Vita is verontwaardig. “Die dêssitse blikskottels! Asof jy openbare eiendom en ’n vloerlap is! Ek weet jy was nooit ekstaties nie, maar ek het nie geweet die jop is só horribaal nie. Jy moes lankal gewaai het! Pak op en kom werk vir Andy. Hy’s besig om brumbies in te breek. Jy’s mos lief vir perde, jy sal gou leer.”

      “Ek kan my nie soos ’n cowboy op ’n wilde perd se rug sien nie.”

      Vita giggel. “Nee, ek ook nie, susding. Wat jy ook al doen, moet net nie teruggaan Soutpan toe en jouself daar gaan begrawe nie. Bly in Durban. ’n Stad het beter vooruitsigte as ’n plattelandse gehuggie in die middel van die woestyn. Wat van die lewensredders?”

      “Watse lewensredders?”

      “Of branderplankryers … Daai hunks op die strand. Is daar nie een by wie jy ’n pass kan maak nie? Een wat jou uit jou armoede en verveling sal verlos?”

      “Ek kom nie juis op die strand nie.”

      “Ja, omdat jy nie van hunks en spierpaleise hou nie. Sê mos jy vertrou nie ’n mooi man nie. Verkies mos sulke ondervoede bleeksiele wat net oor Confucius en Goethe kan filosofeer. Ek weet nie wáár jy uitval nie. G’n mens sal glo ek en jy het dieselfde gene nie. Besit jy darem ’n bikini?”

      “Nee.”

      Vita sug. “Jy verdien nie om in Durbs met sy Goue Myl te woon nie.”

      “Ek weet. Maar ek is nou hier, en ek kan nie blindelings oppak en trek nie. Wat doen ek met my meubels?”

      “Is daar nie vakatures by ander koerante of tydskrifte nie?”

      “Niks, ek het gekyk.”

      “Skryf ’n boek wat die Hertzogprys wen, dan kan jy aftree en doen wat jy wil.”

      “Wens ek kon, maar die M-Netprys betaal eintlik meer. Dalk moet ek samoesas op Kingsmead gaan verkoop, of bunny chows op die strand. Enigiets is beter as om weer vir Arno du Plessis se dwalende hande te moet vlug.”

      “Ek is ernstig: jy het nog altyd daaroor gedroom om eendag ’n boek te skryf. Jy het die talent, die verbeelding en die taalkennis. Die dissipline en alles wat nodig is. Nou is jou kans. Jy sal nooit weet as jy nie probeer nie.”

      Iets roer in Carmia se binneste. ’n Fladdering van opwinding … Maar sy is skepties. “Ek sal nie weet waar om te begin nie.”

      “Dis maklik: begin by die begin, skryf tot jy by die einde kom en tik ’n punt.”

      “Jy laat alles altyd so maklik klink! Gaan sit net voor die rekenaar en laat waai …”

      “Hulle sê skryf is 99% sweet en 1% weet.”

      “Dis daardie 1% wat my pla.”

      “Jy het mos al ’n kortverhaal geskryf wat gepubliseer is. Dit wys jou jy kan.”

      “Dit was lank gelede en ’n gelukskoot. Dalk het die keurder my jammer gekry ná my tiende probeerslag, of wou hy maar net van my ontslae raak.”

      “Carrie, ek’s lief vir jou, maar soms wil ek jou skud. Moenie so negatief wees nie! Hou op om te dink jy’s lelik en dom. Jy het massas talente. Haal hulle uit, stof hulle af en woeker met hulle. Skryf daai boek.”

      “Ek kan nie. Dis baie moeiliker as ’n kortverhaal. Ek het nie ’n benul hoe om so ’n enorme stuk werk aan te pak nie.”

      Vita druk skynbaar die gehoorbuis toe en praat met iemand op die agtergrond. ’n Manstem antwoord. Dan kom sy terug na haar suster toe. “Hierdie oproep kos jou ’n fortuin. Ek het nog tonne om kwyt te raak en jou mee te breinspoel, maar my kombuis staan vol honger mans wat ontbyt soek. Ek maak gou emma necks, dan bel ek jou terug, dan kan ons rustig gesels.”

      Carmia het vergeet dis nou oggend in Aussieland. “Emma necks? Het die skape deesdae name? Of is dit hoendernekke?”

      Vita lag dawerend. “Ek moet daai een vir Andy vertel! Nee, dis Strine – ’n afkorting vir ‘Australian’ – vir ‘ham and eggs’. Die Aussies praat nie van ‘bacon’ nie, hulle noem dit ‘ham’, soos die Amerikaners. Ek het hulle geleer om poetoepap daarby te eet, met ’n tamatie-sheba bo-oor geskep. Ek moet wikkel! Gaan maak vir jou koffie of kyk TV. Ek bel jou terug, so oor ’n uur.”

      2

      Carmia is in die bed met ’n boek toe die foon eindelik weer lui, amper elfuur.

      “Jammer, dit het bietjie langer geduur,” maak Vita verskoning. “Daar was ’n dingo by die lammers. Groot konsternasie! Ek het ook agternagehardloop om te gaan kyk. Die ding lyk soos ’n mak hond, net groter en meer aggressief. Waar was ons gewees? O ja, by Margo Vermeulen …”

      Vita het nog altyd die manier gehad om rond en bont te spring en dan te verwag jy moet byhou by wat in haar kop aangaan. Carmia frons onbegrypend. “Wie?”

      “Die bekende ontspanningskryfster. Jy weet mos van Margo Vermeulen? Sy skryf liefdesverhale en reisverhale.”

      “Ja, natuurlik, almal weet van Margo. Maar hoe het jy by háár uitgekom?”

      “Ek ken haar, onthou jy dan nie? Ek het ’n tyd lank met haar kleinseun uitgegaan. Deneys Vermeulen. Boeing-kaptein en ’n beeld van ’n mansmens. So ’n sexy smoocher, jy wil hom net gryp en kamer toe sleep. Maar so befoeterd jy kan met hom ploeg. Dwars en dominerend. Toe ons uitmekaar is, het dit op ’n rusie uitgeloop wat my ’n week lank migraine gegee het. Hy’s moeilik, maar sy ouma is ’n engel, die totale teenoorgestelde van hom.”

      “Ek onthou jy en Deneys was nogal ernstig. Jy’t gesê hy’s jou droomman. Tot en met die groot rusie. Waaroor was dit nou eintlik?”

      Vita antwoord vaag: “ ’n Simpel misverstand, toe ruk hy hom op. Dis tipies hy – ’n droom as jy dieselfde deuntjie as hy hoor, maar ’n nagmerrie as daar ’n vals noot kom.”

      “Ek dog hy is Margo Vermeulen se seun?”

      “Nee, kleinseun. Sy ouers is dood in ’n motorongeluk toe hy klein was, en Margo het hom grootgemaak. Sy is versot op hom, en dit moet ek toegee: hy is erg oor haar ook. Baie liefdevol en beskermend. Die Vermeulens is van KwaZulu-Natal se uitgelese aristokrasie, die sogenaamde suikerbaronne. Hulle woon noord van Durban, naby Ballito, op ’n spoglandgoed genaamd Skamanga. Een of ander Zoeloewoord, ek weet nie wat dit beteken nie.”

      “Dit beteken wildepiesang. Ek het die naam in ’n tuinboek teëgekom. Maar hoekom op aarde het jy nou aan Margo Vermeulen gedink?”

      “Omdat sy jou kan touwys maak oor hoe om ’n boek aan te pak,” sê Vita selfvoldaan. “Die kwaaivriendskap is tussen my en Deneys, nie tussen my en Margo nie. Ons het nog steeds kontak.

Скачать книгу