Sondag van die silwersee. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sondag van die silwersee - Maretha Maartens страница

Sondag van die silwersee - Maretha Maartens

Скачать книгу

      Sondag van die silwer see

      Maretha Maartens

      Mirre

      1

      Die deur is honderd en sewe jaar lank aan die ongenade van wind en weer oorgelaat en die verwaarlosing is voelbaar. Die wind waai ’n Kaap van Storms-waai.

      My nuwe huis se antieke voordeur smeek vir skuurpapier en ’n dik laag verf. Of ’n paar liter olie, want Buurman het vir Pa vertel die huis is ’n nasionale gedenkwaardigheid. Syne is nié, dankie tog. Die vissershuise hier naby die swemstrand is ’n goeie belegging, maar as ’n mens vir jou ’n nasionale gedenkwaardigheid aanskaf, waai die suidoos jou binne-in jou kombuis van jou voete af.

      Buurman het Andrew góéd uitgekyk.

      “Die vroumense sukkel maar met dié regulasie,” het hy met ’n kamma onnutsige knipoog in Andrew se rigting gesê. “Jy sal sterk moet staan, boetie. Jy’s tussen die duiwel en die diep blou see. Raak in hierdie dorp met ’n verfkwas aan ’n nasionale gedenkwaardigheid, en hulle maak met jou soos wat die munisipaliteite daar bo in die Noorde met mense maak wat pofadders en mambas met hamers doodslaan. En verf jy nié . . .”

      “. . . slaan sy jóú met die hamer op die kop,” het Andrew gegrinnik.

      Hy het dit nie nodig geag om vir die buurman en sy vrou te sê dat ons nie saam intrek nie. Dalk wou hy my nie in my kwaad sterk nie. Andrew het 434 redes ten gunste van saamwoon, terwyl ek net een innerlike oortuiging het. En dié, het Andrew in November nog geglo, kon met passie, met drif, met verwyte, stilstuipes, stormagtige rusies en inkwisisies oor die egtheid van my liefde vir hom omvergewerp word.

      Eina, vervlaks. Houtsplinter in die vinger. Tel jou seëninge, Farah, al is hulle klein en houterig. Dit ís ’n splinter, nie ’n angel nie. Dit kon ’n skerpioensteek gewees het, of die byt van ’n knopiespinnekop.

      Pa het gesê ek moet die huis laat fumigeer, enigiets kan in die barste en krake wegkruip. Ek het nie. In helder daglig het ek ook nie opgelet waar die groot lukwartboom sy skaduwee gooi nie. Vanaand weet ek: iemand sonder langtermynvisie het dit veertig, vyftig jaar gelede só geplant dat enigiets jou vanuit die groewe tussen die deurpanele kan aanval.

      Ek is gedaan, óp. Ek verlang na Vanderbijlpark se besoedelde lug, na windstilte, na die staalraffinadery se torings op die vaal vlakte. Ek verlang na my onbesorgde jeug van drie, vier maande gelede. Ek weet nie of ek van die Kaap van Storms hou nie.

      As ek toe geweet het wat ek nóú weet, het ek Novembermaand vir my ’n karavaan aangeskaf. Dan het ek nou lekker in ’n karavaanpark gebly, met sigeuners as bure aan weerskante. As ek dan heeltemal radeloos met Andrew sou raak, sou ek by Uil&Kameel kon bedank en versit. Dalk Willowmore of Rietbron toe, waar ek vetkoek of pannekoek sou bak en verkoop om aan die lewe te bly.

      Of, nee. Dit sou nie nodig gewees het om te bedank nie. Uil&Kameel Kunsskool is ’n lugspieëling.

      Ek het ’n beker sterk, swart koffie en ’n grondboontjiebottertoebroodjie – volgraanbrood, botter, grondboontjiebotter dik geplak – nou dringend nodig. Dis hoe ek en Pa immers al sewentien jaar lank maak as ons tenk leeg is.

      Ek weet die kruidenierswarekassie bo die kombuiswasbak hiér is nog dolleeg. Ek wou vanmiddag, ná my eerste skooldag, winkel toe gaan, maar in plaas daarvan was ek in kantore en geboue wat gewone mense slegs met bystand deur die Amerikaanse Geheime Diens en die destydse Skerpioene kan binnedring.

      Die siele wat soos vlermuise in daardie kantore skuil, het verras gelyk wanneer ek die naam Uil&Kameel Kunsskool gebruik. Een belangrike man, sy kop so blink soos sy lessenaar se blad, het soveel binnepret oor dié naam gehad dat hy die vogtigheid met ’n wit sakdoek uit sy ooghoeke moes vee.

      “Uil en kaméél. Didn’t the name make you suspicious, Ma’m?” het die man met die wit sakdoek gevra.

      “Glad nie. Ek het foto’s van die skool gesien,” het ek skaapagtig geantwoord. “Meneer Lotter het hulle vir my gemail.”

      “Mister Lotter?”

      “Yann Lotter, die skoolhoof.”

      Die man met die blink kopvel het simpatiek vorentoe geleun, sy elmboog op die blink lessenaarblad. Papierlose omgewing, modelvoorbeeld van effektiwiteit en produktiwiteit.

      “En die geboue op die foto’s het ooreengestem met die geboue op die terrein waar jy vanoggend was? The buildings on the photos and those you saw through the fence?”

      “Identies,” het ek hom verseker. “Behalwe vir die steiers en kruiwaens en lere, die bouers se goed. Op die foto’s is daar heelwat bouers en verwers. Die kennisgewingbord op die foto’s is nog altyd daar: Uil&Kameel Kunsskool, Opening Soon.”

      Yann Lotter het die bouers en messelaars, die verwers en kruiwastoters op die sogenaamde skoolterrein afgeneem, maar van homself was daar nie ’n enkele foto nie.

      “En alles het kosjer gelyk?”

      “Absoluut,” het ek geantwoord. “Meneer Lotter het my ’n hele paar keer gebel. En wanneer ék na die skool gebel het, was hy byna sonder uitsondering op kantoor.”

      Vier, vyf keer het ek, Farah Olivier, Yann Lotter se wense tot die letter toe uitgevoer.

      “Juffrou Olivier, ek het ’n ouerpaar en hulle seun hier by my in die kantoor; ek wil hulle nie ophou nie. Ons behoort binne vyf minute klaar te wees. Sal jy so vriendelik wees om . . . kom ons maak dit vyf minute . . . om my oor vyf minute weer te skakel?”

      “Met plesier, meneer Lotter.”

      Die goedgelowige ou meisietjie van Vanderbijlpark eet alles mos vir waterblommetjiebredie op. Te lekker.

      “Waaroor moes jy hom dan terugbel?” wou die amptenaar wat daarin geslaag het om vir hom ’n papierlose omgewing te skep van my weet.

      “Hy het gesê ons is ’n span,” het ek moeg gesê. “Ons is by baie dinge betrek.”

      “Óns? Jy en Lotter?”

      “Nee, sy personeel,” het ek probeer verduidelik.

      Ek vertel van die keer toe hy my uit ’n vergadering gebel het. Die komitee het name van komponiste en liriekskrywers gesoek wat vir hulle ’n tweetalige skoollied kon skryf. Dit was dringend; die leerders moes dit al op die eerste skooldag van die nuwe jaar sing. Ek onthou die baie stemme op die agtergrond toe ek teruggeskakel het met die inligting.

      “Komponeer jy dan skoolliedere, Miss Olivier? Of skryf jy die woorde vir skoolliedere?”

      “No, Sir.” Ek het my al dieper in my selfverwyt ingepraat. “Ek is ’n kunsonderwyseres, ek weet baie min van musiek af. Meneer Lotter het gehoop ek ken iemand wat op kort kennisgewing ’n skoollied kon komponeer – ’n universiteitsdosent byvoorbeeld, of ’n koorleier wat verwerkings van bestaande liedere doen. Hy het gesê hy soek iets met die klank van ‘Ballad of the Green Berets’.”

      Yann Lotter het die wysie oor die telefoon vir my geneurie. Die goedgelowige ou meisietjie van Vanderbijlpark het dit nie vreemd gevind dat die skoolhoof van ’n splinternuwe privaatskool so iets in die middel van ’n komiteevergadering sou doen nie.

      “Ek sien,” het die man van die papierlose omgewing gesê. “Very interesting. En jy kon baie stemme op die agtergrond hoor. So, dit was ’n gróót komitee?”

Скачать книгу