Kus vir die Kluisenaars. Esta Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn страница

Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn

Скачать книгу

      

      Kus vir die Kluisenaars

      Esta Steyn

      Tafelberg

      Een

      Aan die agterkant van die stewige, vuilwit muur van die voorstedelike begraafplaas brul die verkeer onstigtelik. Aan hierdie kant draal die dominee se stem langsaam soos lui treinrook en bly oor die oop graf hang.

      Dis skuins ná drie en die onverwagte November-hitte is ondraaglik. Fransie van Zyl voel hoedat die rooibruin kleigrond effens onder haar voete wegsak. Sy verskuif van posisie en bekyk die groepie mense: uiteenlopende karakters uit die kunskringe van Kaapstad, joernaliste, studente … en ou Jakes natuurlik. Hy was Melissa se regterhand wat haar raamwerk gedoen het, haar ateljee uitgeverf het. Hy was altyd daar vir elke los werkie en lekkende kraan. Ou Jakes van die Griek se kafee langs die ateljee. Goeie, geduldige mens wat hy is. Sy sien hoe hy nou ’n sakdoek uithaal en vinnig oor sy rooi voorkop en dan oor sy oë vee. Sy skouers ruk en sy groot, vlesige lippe vou verdrietig oor mekaar. Melissa se dood moes hom swaar getref het. Dit was hy wat haar lyk Saterdagoggend in die ateljee ontdek het.

      En nou, deur newels van lighoofdigheid, onthou Fransie sy gebroke stem toe hy haar gebel het met die nuus. Dis so onwerklik. Is dit alles regtig waar? As sy maar net deur hierdie dag kan kom, sal sy later probeer aanvaar dat haar stiefma dood is. Nie vandag nie. Want vandag voel dit asof Melissa nog hier is. Sy kyk oor die koppe van die mense na die groen toppe van die sipresse met die wit muur op die agtergrond. Bo-op die muur is rye en rye bottelskerwe ingemessel wat hier en daar in die son flits. Onder die muur, bo-op ’n dor graf, het ’n bloedrooi malva jolig aan ’t ranke gegaan. ’n Entjie verder staan ’n skewe kraan met sy bek skuins gedraai en dit drup, drup, drup. Die nat kol onder die kraan kring wyer en wyer uit. Die spel van groen en wit en rooi herinner skerp aan Melissa se uitbundige kwashale kleur.

      Só sal ek haar onthou, dink Fransie wrang: só, soos die kleure hier vandag. Van bottelgroen blare en vars rooibruin aarde, van rooi malvas teen die wit muur. Lewegewend, aards, vol passie en tog vol vrede. Melissa von Meelis, meesteres van kleur en kontras. Die bekende roulynolieen terpentynreukie wat deel van haar ateljee was, sal mettertyd vervaag en al wat uiteindelik sal oorbly, is haar beskeie M.v.M.-handtekening in die linkerhoekie van baie skilderye op baie uiteenlopende plekke.

      Iemand hou ’n mandjie met roosblare na Fransie uit. Sy neem ’n grypie van die ligroos flentertjies. Die kneusgeur daarvan is deurdringend pynlik.

      Voordat sy besef die seremonie is verby, sien sy ou Jakes met krom skouers wegstap. Toe loop sy ook. Sy loop deur die swaar ysterhekke en sien Jakes se geel kombi oorkant die straat wegtrek. Sy kyk die voertuig hartseer agterna. Dié geel kombi was ’n besondere deel van Melissa se lewe. Sy het dit somtyds geleen om iewers op die platteland te gaan skilder. Toegerus met ’n opvoubed, gasstofie en yskas, was dit die ideale voertuig. Soos ou Jakes altyd sê, ’n mens hoef net te sorg vir jou “breakfast” en jou “bedding”.

      Die eerste keer dat Melissa so ’n uittog in die kombi gemaak het, was verlede jaar, Augustus 1979. Sy het nooit ooit ’n woord gerep oor waar presies sy was nie. Dit was asof die omswerwinge ’n fyn draad van herinneringe was, wat sy bang was om met woorde te versteur. En later toe Fransie begin verstaan dat dit ’n geslote deel van haar stiefma se lewe sal bly, het sy ook nie meer daaroor uitgevra nie. Twee maande gelede was dit die laaste maal dat Melissa met die kombi weg is. Toe sy ná ’n week terugkom, was sy stiller as gewoonlik. Daar was ’n vuur in haar donker oë en sy het begeesterd aan die uitstalling begin werk. Die foto’s, die sketse en die halfklaar doeke wat sy saamgebring het, het getuig van ’n plek by die see. ’n Baai vol bruin klippe, ’n wolkelose hemel. Dit was dan ook die oorsprong van die skildery wat uiteindelik die gunsteling op die uitstalling sou wees. Die klippe op die voorgrond was ronde spatsels verf, ’n fyn impressionistiese aanslag wat onmiddellik ontroer. Die wit hemel bokant die vuilgroen waters het die balans van diepte en kontras oorgedra.

      Kluisenaarskus.

      Fransie onthou nou daardie aand toe Melissa die skildery klaargemaak het. Dit was ’n paar dae voordat die uitstalling sou begin. Melissa het met haar lang swart hare op ’n bankie voor die groot esel gesit. Haar oorjas was bespat met verf en haar swart oë was rusteloos. Fransie het geweet om haar nie te steur nie. Sy het stilletjies op die groot rottangstoel gaan sit en later koffie gemaak. Maar Melissa se koffie het gestaan en koud word. Af en toe het sy nog ’n haal op die doek aangebring en dan weer peinsend teruggestaan.

      “Francisca,” het sy oplaas gesê, “my probleem is dat ek nooit weet wanneer ek klaar is nie. Is ek nou klaar, Cisca?”

      Fransie het opgestaan en vir die soveelste maal saam met haar stiefma voor die doek gaan staan. Sy het eers na die toneel voor haar gekyk en toe na Melissa se gesig. Op veertig was sy steeds ’n beeldskone vrou. Haar swart hare het deurmekaar oor haar smal skouers gehang en daar was ’n peinsende frons op haar voorkop. Sy het haar vingers rusteloos om die kwas in haar hand beweeg en toe haar hare agter haar oor ingedruk. Die kwaspunt het ’n wit veeg oor haar hare gelos. “Wat dink jy, Cisca?” Haar stem was hees, bekommerd.

      “Hierdie skildery is vir jou baie belangrik, nè?”

      “Al my werke is vir my belangrik en jy weet dit.” Amper oplaaiende driftigheid.

      “Wel, as ek moet eerlik wees, hierdie is jou grootste, jou beste. Dit sal die hoogtepunt van jou uitstalling wees.”

      “Dankie, liewe Cisca. Dis wat ek beplan. Dit hoort so. Sê nou net vir my dat ek klaar is.”

      “Sit neer jou kwaste. Dis klaar … dis ’n treffer! Kom, ek maak vir ons vars koffie.”

      Dit was toe dat die ronde trane in Melissa se oë gevorm het. Een vir een het hulle stadig haar wange klam gemaak. Sy het nie ’n geluid gemaak nie, nie die trane probeer keer nie. Eers ná ’n lang ruk het sy sag gesê: “Ek sal eendag weer soontoe gaan … eendag.”

      Waar is Kluisenaarskus? het Fransie toe gewonder.

      ’n Oomblik lank het sy gehoop, verwag, dat Melissa iets meer sou sê. Sy het nie. Sy het haar vuil oorjas onverskillig van haar afgestroop en dit op die vloer neergegooi. Sy het niks weer van die skildery gerep nie. Nie toe die kunsrubriek van die koerant dit as ’n Von Meelis-meesterstuk beskryf en ’n foto van haar daarby plaas nie. Ook nie op die uitstalling toe dit vele belangstellendes se aandag vasgegryp het nie. Selfs nie op die laaste aand toe ’n onbekende man die skildery kom koop nie.

      Die volgende môre het ou Jakes Melissa se lyk ontdek op die rottangmat van die ateljee.

      Dit was Saterdag, vyf dae gelede.

      Die Kaapstadse kunstenares Melissa von Meelis (40), is Vrydagnag noodlottig met ’n rewolwer gewond. Haar lyk is Saterdagoggend in haar ateljee in Tamboerskloof aangetref. Von Meelis se tweede uitstalling het Vrydagaand suksesvol in die C. F. Combrinck-saal ten einde geloop. Haar uitstalling het werke van hoë gehalte en besondere integriteit opgelewer en is deur talle bekende persoonlikhede bygewoon.

      Geen misdaad word vermoed nie.

      Iewers, gedurende die uitstalling, het Melissa begin verander. Dit was ’n vae, naamlose ding. Melissa het gesê sy kan nie slaap nie. En sy, Fransie, het aangeneem dat die harde werk wat die uitstalling voorafgegaan het, sy tol geëis het. In die tweede week van die uitstalling is Melissa dokter toe en sy het ’n voorskrif vir slaaptablette gekry. Dit was die eerste maal dat Melissa so iets moes gebruik. Maar daar was iets meer as net die slaaploosheid. Daar was die onrus in haar oë. ’n Wilde, donker onrus. Maar dit het Fransie eers later onthou. Te laat. Toe eers het sy besef dat daar iets was wat Melissa begin jaag het. Wat was dit?

Скачать книгу