Kus vir die Kluisenaars. Esta Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn страница 3

Kus vir die Kluisenaars - Esta Steyn

Скачать книгу

die afsender. Elias van Egeren, Dorkasbaai, Posbus 10, Rusthalt. Sy lees dit verward oor en oor. Sy laat die koevert op haar skoot sak. Dorkasbaai. Waar op aarde het sy dié naam vantevore gehoor? Sy wil-wil onthou, maar dit glip weg saam met ander gedagtes. Dit was nie by Melissa nie, dit weet sy. Dit was ná die begrafnis toe sy moeg en moedeloos gevoel het. Sy het die naam gelees. Sy het nog gestruikel oor die naam, en dit was nie so lank gelede nie.

      Sy haal een brief uit sy koevert en haar oë glip verwonderd oor die skrif. Haar hart klop met innerlike afwagting, want sy weet dat sy besig is om ’n blik in Melissa se lewe te kry, dié deel wat altyd geslote gebly het. Daardie deel wat sy oorsprong by haar omswerwinge in ou Jakes se geel kombi gehad het.

      Die brief is die suiwer taal van ’n liefde wat groot was. So groot, dat dit selfs nou, in vreemde hande, diep ontroer.

      Dorkasbaai Posbus 10 RUSTHALT 30.09.1979 Liefste Melissa Ek stap oor die grond van Dorkasbaai en ek weet dat ek al weer op pad is na die klein kliphuisie. Ek maak die deur oop en ek drink die laaste bietjie van jou verfreukies in sodat die reuk al opgeraak het. Jy, hare oor die skouers en gesig deurleef van liefde. Kom jy ooit weer? Ek is maar net Eli wat verlang. En wat is verlange anders as om te huil in ’n grafstil hart? Elias

      *

      Dorkasbaai Posbus 10 RUSTHALT 10.11.1979 Melissa, Melissa! Ek huiwer elke keer voordat ek aan jou skryf. Ek huiwer omdat ek bang is om jou in ’n bepaalde koers te dwing. Maar nogtans kan ek dit nie help nie. Ek móét aan jou skryf. My verlange is dan so groot. Vanoggend was ek by die baai van die Kluisenaarskus. Toe het ek gedink aan wat jy gesê het, dat die klippe sal praat oor ons liefde. Maar hulle het daar doodstil in die waters gelê, dood soos ek, bang soos ek, dat jy miskien nie weer sal kom nie.

      Die aand voordat jy weg is, het ek vir jou gesê dat ek my lewe daaraan sal wy om jou lief te hê. Ek sê dit nou weer, want dit is so. Dit sal nie verander nie.

      Liza se toestand het effens verbeter, maar volgens die psigiater sal sy moontlik nog lank onder behandeling moet bly. Die plan is nou dat sy by haar suster, Louisa, in Seepunt sal gaan bly tot tyd en wyl sy weer sonder die behandeling kan voortgaan. Party dae sien ek nie kans om weer ’n lewe saam met haar te begin nie. Daar was alreeds te veel pyn en verwarring. Ek wonder soms of daar ooit iets tussen my en haar was. Die Here weet, ek verwonder my dat ek nog met haar getroud is, want al wat ek kan onthou van die tyd saam met haar, is die frustrasie en die leegheid.

      Melissa, jou koms het my met soveel hoop gevul. Dis so asof ek nou glo dat daar iets goeds vir my op pad is. Elias

      Twee

      Fransie bly verslae sit voor die briewe van Elias van Egeren. Wie is die man? Die man wat Melissa liefgehad het met ’n liefde wat sy verdien het. En waar is Dorkasbaai? Kluisenaarskus … die plek van die skildery. Dit was dan die baai met die klippe wat Melissa geskilder het. En nou eers kan Fransie verstaan waarom al Melissa se vuur en hartstog in elke kwashaal daarvan gelê het. Want dit was ’n plek van liefde.

      Dorkasbaai. En steeds wil die naam ’n bekende klank hê.

      Sy kyk na die datum van die heel eerste brief en sien dat dit omtrent ’n jaar en twee maande gelede geskryf is. Melissa se uittogte in ou Jakes se geel kombi beteken dus dat sy vir Elias gaan opsoek het. Miskien, wie weet, het sy vir die eerste maal toevallig op die plek afgekom toe sy die platteland ingevaar het om nuwe plekke te gaan skilder.

      Sou hierdie man, hierdie Elias, ooit weet dat sy geliefde Melissa dood is?

      En meteens maak die skrikgedagte haar koud: lê die oorsaak van Melissa se selfmoord nie miskien op die vreemde Dorkasbaai nie?

      Ja, Elias van Egeren, wie hy ook al mag wees, het baie gedagtes in haar kom loswoel. Dis asof sy nou impulsief haar pa se huwelik met Melissa teen hierdie man se liefde kom opweeg. Haar pa, en daardie troudag! Dit was ’n dag wat sy later wou opsluit. Apart van gisters en môres, apart, om nie weer opgerakel te word nie. Maar nou met die blou briewe van die man Elias, nou is alles oopgevlek en hoe onthou sy nie!

      Dit was sewe jaar gelede op ’n warm dag in Januarie toe sy vyftien was. Kruisendal het ’n warm somer beleef en reeds vroeg die oggend was die hitte pakkend. Die geel rok het op haar bed gelê, uitgestryk vir die troue. Die sagte geel rok wat Melissa spesiaal vir haar in die stad gaan koop het. Dit was twee-uur die middag en sy moes bad en aantrek, maar sy het haar kamerdeur hardhandig toegetrek en by haar lessenaar gaan sit. Sy wou nie kerk toe gaan nie. Die minute het verbygetik en sy het gehoor hoedat haar pa stort en vrolik saam met die water se geruis fluit. Sy het tam opgestaan en die foto van haar ma op die spieëltafel in haar hande toegeskulp. Mamma!

      Mamma, hoor hoe simpel fluit hy. Ek verstaan nie, Mamma. Hy is tog die prinsipaal en al die kinders kyk altyd op na hom. Maar nou lag hulle vir hom. Hulle noem hom “The merry master”. Dis oor haar dat hy so verspot is, Mamma. Oor Melissa. En ek hoor hoedat hulle hom beskinder en saggies in die gange lag sodra ek aankom. Dan kyk hulle kastig skielik weg nes hulle my sien. Dis alles oor Melissa. Mamma. Sy het alles verander. Sy het ’n paar maande gelede oom Pluimpie se wit huisie daar onder by die Kruisrivier gekoop en bedags sit sy daar en skilder met haar lang, los, swart hare en haar lang, dun vingers. Sy is nog jonk, die mense sê iets in die dertig. ’n Kunstenares. Toe stel die skool haar aan vir die kwartaal toe juffrou Bester met langverlof gaan. Mamma moet sien hoe sy skool toe gekom het! Haar hare nie eers ordentlik gekam nie. En haar klere is lang, bont rokke met gekleurde gordels en sandale. Ek weet dat meneer De Waal een aand lank by Pa in sy studeerkamer was en ek weet hy het kom praat oor haar, oor juffrou Von Meelis se kleredrag. Sy wil nie eers hê die kinders moet haar “juffrou” noem nie, net Melissa, want sy is nie eintlik ’n onderwyseres nie. Party kinders, soos Joey-hulle, noem haar op haar naam. Ek sê vir haar niks. Ek sê vir haar jy en jou as ek met haar moet praat. In die begin was sy vreeslik vriendelik met my. Dis oor Pa, het ek later uitgevind. Oor hom. Hy het een pouse met haar in die kunsklas gesit en gesels. Deur die venster kon ek haar swart hare sien saam met Pa se grys kop. Pa het skielik grys geword na Mamma se siekte, eers net so effens-effens en toe sommer skielik oral. Ek het op die skoolgrond gestaan en deur die kunsklas se venster sy hand op haar skouer gesien. Toe het ek geweet.

      Later het sy na ons huis toe gekom. Pa het haar vir ete genooi. Ek was so skaam, Mamma. Ou Katriena moes allerhande spesiale kosse maak, want sy eet nie vleis nie. By die saalbyeenkoms het sy daar op die verhoog tussen meneer De Waal en juffrou Brink gesit. Meneer De Waal met sy donkerblou pak en juffrou Brink met haar groen tweestukkie en sy met haar lang, bont romp, swart bloes, kettings en kaal tone. En sy sit vir Pa en kyk voor al die honderde kinders. Sy sit daar en kyk met haar groot swart oë en geheimsinnige laggie. Selfs party matriekseuns is verlief op haar. Sy sal definitief beter by een van hulle pas. Maar Pa!

      Toe kom juffrou Bester terug en Melissa hou nie meer skool nie. Dit was daardie tyd dat sy oom Pluimpie se huisie begin restoureer het. Pa het vir haar ’n bouer gekry en Pa het een Saterdag saam met haar gaan teëls uitsoek.

      Saans het Pa haar stoele se vernis gesit en afskuur. Ek was verlig toe die Desembervakansie begin, sodat ek onder die kinders se oë kon uitkom en wegkom van die gefluister in die gange waar stukkies van gesprekke altyd na iets soos Von Meelis klink. Maar, Mamma, die vakansie was net ’n week aan die gang, toe kom Pa my een aand sê dat hy met haar gaan trou voordat die skool heropen. En dan kom sy by ons woon en oom Pluimpie se huisie kan hulle dan vir haar ateljee inrig. Mamma, en nou is dit vandag en die geel rok lê op my bed en Pa is klaar gestort en die badkamerdeur is oop en die seepwalms kom in die gang af.

      Fransie onthou nou hoedat sy die geel rok in haar hande beetgekry en gefrommel het. Sy wou hê die ding moes kreukel. Sy het dit om en om gewring in ’n lang geel rol en toe op die vloer neergesmyt. Maar die syerige materiaal het kreukel-traag oopgevou op die mat.

      “Francisca!”

Скачать книгу