Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse страница 18

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

by my moet spook.” Cato ril.

      “Dit sal anders voel as die plek uitgeverf is en jou eie goed ingedra is.”

      Cato kom tot stilstand en kyk fronsend na Kristina. “Sal jý hier woon?”

      Kristina kyk oor haar skouer na waar die eiendomsagent en die eienaars op die trappies gesels. “Dalk … as ek …”

      Cato lag hardop. “Nice try.”

      Kristina ril ook liggies. “Dalk ís hulle bietjie creepy.”

      “Neil sal nou al so gatvol vir my gewees het. ‘Cato, ’n woonplek is net nog ’n voorbeeld van ’n ruimte wat werkbaar moet wees,’” aap sy Neil se stem na. “Mans verstaan nie dat dinge met ons moet praat nie.”

      Hulle klim in Cato se motor en kyk na mekaar. “As ek so aangaan, sal ek later in Big Pink moet gaan intrek.”

      “Kom ons gaan eet iets.”

      Cato skud haar kop. “Ek is moeg. Kan ons huis toe gaan, asseblief?”

      Cato klim nie dadelik uit toe hulle by die huis stop nie. “Hoe moet ek vir enige mens verduidelik hoe ek voel as ek dit self nie verstaan nie? Al wat ek weet, is dat ek bang is. Ek staan bang op en ek gaan slaap bang. Ek bly die hele dag bang en die ergste is, ek weet nie waarvoor ek bang is nie. Daar is die voor die hand liggende dinge, soos wat as ek nie van die teater ’n sukses maak nie en ek verloor al my geld of wat as my pa of een van julle ook nou skielik doodgaan. Maar dis meer as dit. Ek het vir myself bang geword omdat ek myself nie meer ken nie. Weet jy hoe voel dit om vreemd vir jouself te voel?”

      “Ja, ek weet.”

      Cato raak aan Kristina se hand. “Dit was ’n retoriese vraag.”

      “Cato, ons albei weet hoe sinneloos dit vir my is om jou te probeer bemoedig. Al wat ek vir jou kan sê en wat jy moet probeer onthou, is om geduldig met jouself te wees. Aanvaar dat jy op die oomblik nie jouself is nie. Moenie daarteen rebelleer nie, moenie die hele tyd wens vir iets anders nie. Jy gaan jouself mal maak. Aanvaar hierdie tyd.”

      “Wat as ek nié kan aanvaar wat gebeur het nie? Ek is nie ’n masochis wat plesier uit pyn put nie. Ek is net ’n doodgewone mens. Dis nie asof ek verwag het om die eerste bemande tuig Mars toe te bestuur nie. Ek het gewone verwagtinge gehad. ’n Man of iemand wat vir my lief is, dalk eendag ’n lekker werk, miskien ’n kind of twee, eendag as ek groot en slim is. Sommer net ’n gewone lewe. Ek weet ek het al my kwota moeilikheid in my lewe gemaak. Ek was ’n bliksem met my pa en Elizabeth en daar was tye wat ek geglo het ek is aan niemand iets verskuldig nie, maar donner, daar is mense wat al baie erger dinge aangevang het en húlle word nie so gestraf nie.”

      Toe Kristina nie antwoord nie, kyk Cato na haar. “Probéér ten minste, al help dit nie. As jy stilbly, freak dit my uit.”

      “Moenie dit sien as straf nie.”

      “As wat moet ek dit dan sien? Strome van seën?”

      “Die verloop van die lewe. Hopelik is daar êrens ’n ordelike plan. Een wat met baie groter insig en intelligensie beplan word as wat ek of jy het.”

      “Dis ’n kak plan wat mense so swaar laat kry en so pynig.”

      “Om daarop te antwoord, gaan ek dalk ’n gruwelike cliché moet gebruik en ek wil dit nie doen nie. So, aanvaar maar net as ek vir jou sê jy moet geduldig wees en jouself toelaat om deur al die emosies te gaan.”

      “Ontkenning, woede, onderhandeling en aanvaarding. Ja, die berader het so iets gesê. Die ontkenning en onderhandeling is in my geval onmoontlik. Aanvaarding is hoogs onwaarskynlik. So, ek sit met woede. Teenoor alles en almal. Ek het gister op ’n rondloperhond geskel omdat hy lewe. Watse bydrae kan hy op hierdie aarde lewer, terwyl Neil berge kon versit as hy die geleentheid gegun is?” Cato slaan met haar hand op die stuurwiel en gee ’n kras laggie. “En daarmee, dames en here, het ons aan die einde gekom van vandag se galbrakery. Skakel môre in vir ’n verdere aflewering.” Sy maak die motordeur oop en klim uit en toe hulle langs mekaar die huis binnestap, sit sy haar arm om Kristina se skouers. “As ek nou verskoning vra, gaan ek huil en ek wil nie nou met rooi pof-oë by Big Pink aankom nie.”

      “Jy kan dalk die mense geld vra om na jou pof-oë te kyk. Soos die freaks by die sirkusse.”

      Hoe ironies, dink Cato toe sy laatmiddag die verhoog met die besem uitvee, dat sy in hierdie stadium van haar lewe vir mense se vermaak sorg. Onder normale omstandighede is dit ’n moeilike taak, maar soveel te meer nou. Wat is die nut van vermaak? wil sy vir almal vra. Is dit ’n manier om vir ’n uur of drie van die werklikhede van die lewe te vergeet? Jouself te verbeel dis nie so erg nie? Maar aan die einde van die aand wag daardie pakkie vir jou by die deur, of as jy gelukkig is buite op die sypaadjie en as jy regtig geseënd is, haal jy dalk die huis voor die sak in jou skoot land. Soos ’n gevangene op dagparool. Hoe lekker kan ’n dag buite die tronk wees as jy weet jy moet vanaand weer teruggaan? Sy vermoed sy sal eerder nie die vergunning gebruik nie. Miskien was hierdie nie ’n goeie tyd om ’n teater te koop nie. Dalk moes sy gesoek het vir iets wat meer sin maak. Maar wat maak werklik sin? Alles voel irrelevant, kom sy agter. Van tande borsel in die oggend tot eet. As sy so daaroor dink, maak dit dan ook nie saak waar sy woon nie. Sy kan haar oë toemaak en blindelings op ’n naam druk en dit behoort reg te wees. Al hierdie gesoek en gewag op ’n konneksie is ’n mors van tyd en energie. Asof sy hoop op iets. Asof daar ’n plek is waar dit beter sal wees. Waar die kat haar nie sal vind nie, want op die oomblik kom die spreekwoordelike kat net weer terug. Elke liewe dag. Geen dag is lank genoeg en geen plek ver genoeg om daarvan weg te kom nie. Dit agtervolg haar deur die dag, soms ’n paar treë agter haar en kan sy haarself dalk vir ’n oomblik verbeel sy is ontslae daarvan, maar wreed is die ontnugtering as dit om die volgende hoek weer vir haar wag. Soms loop dit sommer voor haar uit. Sekelstert. Soos dit iets met nege lewens betaam. Hoe oorleef jy iets met nege lewens? wonder sy terwyl sy ’n laaste vee oor die verhoog gee.

      “Ek kan nie môre vroeg hier wees nie,” praat ’n stem skielik agter haar en sy ruk soos sy skrik. Nelson staan met ’n uitdrukkinglose gesig agter haar.

      “Hoe laat sal jy hier kan wees?” Dis asof hy ’n “geen toegang”-bordjie voor hom dra en sy vind dit moeilik om in sy oë te kyk. ’n Mynveld lê tussen my en hierdie man, dink sy. Soveel groter en meer ingewikkeld as die gaping tussen swart en wit is dié tussen swart mans en wit vroue.

      “Twee-uur.”

      “Weet Adriaan jy gaan laat wees?”

      Hy knik. “Hy het gesê ek moet vir jou kom sê.”

      Dis op die punt van haar tong om te vra waarom hy gaan laat wees, maar sy bedink haar en knik en hy stap met ’n regop rug terug kombuis toe. En sy bly agter met die besem in haar hand.

      Laataand staan Cato agter in die teater en luister hoe die jong sangeres die gaste met haar besonderse stem bekoor. Almal sit aandagtig en luister. Meegevoer na ’n plek of plekke sonder sorge. Asof daar ’n kennisgewing by die deur is wat sê: Geen trollies. Maar julle moet almal vanaand terug, dink sy met ’n gevoel van jammerte. Terug na die volgelaaide trollies. As jy gelukkig, is tref jy ’n trollie met geoliede wiele. Die alternatief is ’n steeks trollie. Dwarstrekkerig. Asof jou vrag nie swaar genoeg is nie.

      Adriaan sit in die kantoortjie toe sy daar kom.

      “Wat dink jy van haar?”

      “Fluweel.

Скачать книгу