Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua страница 29

Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

katterig,” sê hy speels. “Kan dit wees dat jy dalk jaloers is op die vroue wat in die uitgelese sosiale kringe beweeg?”

      Esna se groen oë blits nydig op hom toe sy rooi van ergernis sê: “Jy moet seker dink ek is verspot, Dewalt de Meyer!” Tog besluit sy in haar enigheid om haar jaloesie in die toekoms beter weg te steek. Dewalt moet nooit weet hoe jaloers sy op Natasha se sosiale agtergrond is nie.

      Esna besef dat sy nooit in die eksklusiewe kring waarin Natasha beweeg het, welkom sal wees nie – al trou sy met Dewalt. Sy sal maar altyd ’n buitestander bly.

      “Ek wil môreoggend baie vroeg vertrek,” sê Dewalt bedaard soos altyd. “Ek wil met Natasha praat – voordat my pa dalk die kans kry om haar verder te beïnvloed. As dit moontlik is, wil ek haar ook self na ’n prokureur vergesel sodat sy die egskeiding aanhangig kan maak.”

      Hiermee voel Esna tevrede en sy dring nie langer daarop aan om hom na Dennebaai te vergesel nie. Sy hoop nou maar net dat alles in Dewalt se guns verloop. Sy wil gou met hom trou en begin om die lewe ten volle te geniet.

      Terwyl Natasha in die bed lê, wonder sy wat die toekoms vir haar en haar ongebore kind gaan inhou. Terwyl haar hart vinnig klop, besef sy dat daar nou vir haar iets is om na uit te sien. Daar sal ’n klein deeltjie van Dewalt wees wat nóg Esna nóg enigiemand anders van haar af kan wegneem … Ja, haar kindjie sal net hare alleen wees.

      Natasha lê tot laat die aand aan haar kindjie en dink. Sy raak uiteindelik aan die slaap, maar selfs in haar drome lewe ’n seuntjie wat Dewalt se ewebeeld is.

      Irene verkeer nog heerlik in droomland toe Natasha na ontbyt strand toe stap. Sy loop oor die groot grasperk en merk nie dat Dewalt uit sy motor, wat langs die huis in die straat staan, klim nie. Sy is ook onbewus daarvan dat hy haar na die strand toe volg.

      Daar is al etlike swemmers tussen die golwe toe Natasha die strand bereik. Sy stap tydsaam langs die waterkant tot by ’n stil plekkie waar sy alleen met haar gedagtes en drome kan wees. Na ’n paar minute bereik sy die streep rotse wat op plekke ver in die see strek.

      Toe sy net teen ’n hoë rots wou opklim, sê ’n bekende stem meteens agter haar: “Ek dink jy moet dit liewer nie waag nie, Natasha. Hier waar ek staan, is dit veiliger om te sit.”

      Sy draai stadig om. Terselfdertyd voel sy hoe Dewalt haar arm neem en haar na ’n rots toe lei waar sy veilig kan sit.

      “Waar … kom jy vandaan?” vra sy ietwat verward en duidelik verbaas om hom hier te sien.

      “Ek het vanoggend baie vroeg van Die Arendsnes af vertrek,” verduidelik hy, ’n onpeilbare ondertoon in sy stem. Hy gaan sonder uitnodiging langs haar op die rots sit.

      “Hoe het jy geweet ek is hier op Dennebaai – of het jy my maar toevallig hier opgespoor?” vra Natasha versigtig.

      “Ek het jou nie toevallig hier raakgeloop nie, Natasha; ek het jou doelbewus kom opsoek,” dring Dewalt se mooi, diep stem deur haar gedagtes. “Ek hoor jy is swanger. Is dit waar?”

      Natasha is meteens doodsbleek. Dewalt raak nou heeltemal oortuig daarvan dat sy wel swanger is.

      “Wat maak dit saak of ek swanger is of nie?” vra sy verleë. “Ek is seker dat dit nie die rede is waarom jy hiernatoe gekom het nie, Dewalt.”

      “Jy het nog nie my vraag beantwoord nie. Toemaar, iets sê vir my dat jy regtig swanger is, dat dit nie sommer net ’n slim set was om nog meer geld uit my te kry nie –”

      Daar is hartseer in Natasha se mooi, donker oë wat ver oor die golwe staar – maar Dewalt se laaste, ongegronde aantyging ruk haar aandag terug na hom.

      “Wat, ’n slim set om nog meer geld uit jou te kry?” val sy hom geskok in die rede, en net sy weet hoeveel pyn hierdie onverskillige aantyging haar besorg. “Kyk, Dewalt, as jy hierheen gekom het met die doel om my weer in verband met ’n egskeiding te nader, sê dan so. Maar moet my asseblief nie met onsinnige beledigings kom ontstel nie,” gaan sy moedig voort. “Ek is nie ’n geldwolf nie, Dewalt. Die geldwolf is tuis in jou midde – jou minnares. Terloops, jy het gelyk. Ek is swanger, maar moenie dat dit jou hinder nie. Die kind hoef nooit te weet dat jy sy pa is nie. Ek sal hom vertel dat sy pa dood is. Jy hoef glad nie bang te wees dat ek jou met die kind sal belas nie. Dit sal nooit gebeur nie.”

      Sy kyk na sy mooi, slanke kunstenaarshande met die lang vingers. Sy wonder heimlik of haar kindjie ook sulke mooi hande gaan hê.

      “In verband met die egskeiding … het jy nog nie van plan verander nie, Natasha?” vra Dewalt onpersoonlik.

      Sy wag so lank om die vraag te beantwoord dat Dewalt al begin wonder of sy hom gehoor het. Toe kom haar stem sag, duidelik moeg en verwese: “Nou goed, Dewalt, as dit jou gelukkig sal maak, kan ons maar skei. Maar ek voel jammer vir jou. Jy gaan nou ’n groter teleurstelling tegemoet as verlede keer.” Sy haal haar skouers liggies op asof sy daarmee te kenne gee dat sy haar hande in onskuld was. As hy dan nie wil hoor nie, laat Esna hom maar weer ’n keer om die bos lei. En mag hy hierdie keer sommer ’n baie goeie les leer!

      “Wanneer sal jy met die skeisaak begin?” hoor sy hom opgewonde vra – asof hy nie haar laaste sin gehoor het nie.

      “Ek sal ’n prokureur die een of ander tyd in die week gaan spreek –” begin sy, maar Dewalt keer haar haastig.

      “Ek stel voor dat jy vanoggend met die saak begin,” begin hy versigtig. “Ek kan jou nou dadelik na ’n goeie prokureursfirma in Bergsig neem. Hoe gouer jy met die saak begin, hoe gouer is dit agter die rug. Ek sal verkies dat die saak afgehandel word voordat ek na Amerika vertrek,” jok hy sonder om te blik of te bloos. Hy wil net hê dat sy die saak aanhangig moet maak voordat sy pa dalk hier op Dennebaai opdaag om ’n stok in sy wiel te steek. Sy pa sal haar beïnvloed om die helfte van sy besittings te eis.

      “Nou goed, laat ons dan maar gaan,” sê Natasha ietwat afgetrokke en staan van die rots af op. Dewalt volg haar.

      “Ek sal seker eers die nodige dokumente in my handsak moet gaan haal,” sê sy moeg.

      “Dit is nie nodig nie,” help hy haar haastig reg. “Ek het al die nodige dokumente by my. Ek sal sommer ook die prokureur se fooie vereffen.”

      Dewalt raak nou al haastiger om Natasha by die prokureurskantoor te kry, want hy weet nie of sy pa dalk reeds in Dennebaai aangekom het nie.

      Daar is ’n senuweeagtige gejaagdheid in hom wat Natasha vreemd vind. Sy ken Dewalt as iemand wat altyd kalm en bedaard is, en nooit haastig om ’n gewigtige besluit te neem nie. Dit is net sedert Esna weer in sy lewe gekom het dat hy nou so teenstrydig met sy aard optree, besef sy.

      Natasha dink aan alles wat tussen haar en Dewalt plaasgevind het sedert hy oornag feitlik in ’n miljoenêr verander het. Dan besef sy meteens dat sy liefde vir Esna hom in ’n gevoellose swakkeling verander het. Ja, hy het inderdaad in ’n man ontaard wat vir haar afstootlik is.

      Sy kyk na Dewalt en sien dan ’n koue, berekenende blik in sy oë. Soos hy nou is, is hy vir haar onaanvaarbaar. Sy kan nog begryp waarom hul huwelik vir hom nou niks beteken nie – maar dat hy nie die geringste gevoel vir sy ongebore kindjie toon nie! Dank die hemel dat haar oë eindelik oopgegaan het. Hy is net so hardvogtig, berekenend en afstootlik soos sy geliefde Esna. Soort soek soort. Só ’n man kan sy tog nooit werklik liefhê nie!

      Natasha se blik dwaal na die huise teen die heuwel en na die mense se mooi tuine.

Скачать книгу