'n Dorp soos Silwer Streams. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos

Скачать книгу

het Piet onbegrypend gevra.

      Sarel Snyman het hom eendag kom konfronteer. By die bank, in sy kantoor. Ja, en wát bedoel jy met jou stories oor my en Johanna in die Kaap? het hy geskreeu. En of hy wat Saais is weet wat van hom gaan word as die fabriek se rekening by sy bank gesluit gaan word.

      “Siestog,” het Saais vir Piet vertel, “die arme fool het toe nie lank genoeg gelewe om sy dreigement uit te voer nie. En sy fabriek ook nie.”

      En nou sit ék met die welriekende begunstigde van sy aansienlike boedel hier langs my, dink Saais en kyk by die kar se venster uit. Joan Cuttmann. Speel darem in die week saam brug, ry Sondagmiddae saam met Sannie en ou Gert. Kry mekaar Woensdae en Saterdae by die rolbal. Soms op ’n Vrydagmiddag ook. Maar oor die jare kon hy nie eintlik vat aan haar kry nie. As hy haar sien, dan sien hy haar man met die verwronge gesig in sy kantoor.

      “Vir wat giggel jy so, Saais?” Sannie draai haar kop dat sy skuins agtertoe kyk.

      Sy probeer natuurlik witvoetjie soek omdat sy voor by Gert ingeklim het. “Moenie vir my sê jy en Johanna sit en speel voetjie-voetjie daar agter nie!” roep sy uit.

      Jaloers! Van pure uitbundigheid wil Saais sommer begin lag. Hy leun vorentoe en vat liggies aan haar skouer, dat sy goed weet hy praat met haar. Dat sy tog niks moet dink van Johanna wat soos ’n blymoedige paal hier langs hom sit nie. “Dis g’n mensbloed daai nie!” sê hy vir haar. “Dis visbinnegoed. Die kinders vang vis hier, elke naweek. Dis karpderms!”

      Dit maak hulle stil, sien hy tevrede. Ou Gert sit net voor hom en uitstaar, konsentreer dat hy vrek. Kyk net hoe wit is die kneukels om daai stuurwiel!

      Die kar beweeg teen tien kilometer per uur oor die bruggie. Oral is daar mense op die smal, opgeboude voetpaadjie teen die kant van die brug. Sommige kom van die oorkant af, die meeste van die dorp se kant. Hulle kry mekaar iewers in die middel, die oë soek-soek in die rivier, die arms wys met die stroom af asof hulle iets sien. Wanneer hulle aan die oorkant kom, draai hulle weer terug. Sommer spelerigheid, weet Saais. Wat sal hulle nou sien wat die polisie nie gesien het nie? En wat is daar dan nou eintlik op ’n Sondagmiddag op ’n dorp soos dié te doen?

      Hy wonder wat sal ou Gert sê as hy moet weet hy was vroegmôre al hier by die brug, met sy eie kar. Moet hy hulle nie maar inlig nie? Dit sal hulle ’n rukkie besig hou.

      Ouderling Gert, wat op daardie vroeë uur saam met sy klomp medefariseërs in die voorste kerkbanke gesit het en hard probeer het om nie te wys hoe die besigheid hulle verveel nie.

      Toe was hy al hier, hy en die res van die dorp se sondaars wat toe reeds die koerant gelees en die berig gesien het. Saam met die ander, wat nie koerante of enigiets anders lees nie, wat die hele ent van oorkant die grootpad af gekom het om te kom kyk waarvan die nuusdraers praat. Maar hy wat Saais is het meer as hulle almal geweet; hy het immers die man wat die lyk ontdek het huis toe gevat. Niks daarvan in die koerant nie. Dat Saais Vogel, afgetrede bankbestuurder, langs hom gesit het, gesien het hoe hy bewe en nie ’n woord kan uitkry nie.

      Hy besluit om maar eerder sy mond te hou. Sannie sit ook Sondae in die kerk, is selfs ’n voorsitter of ’n sameroeper van iets daar. Ook ou Langjohanna met die spits nekkie sit die kerk vol. Die koppie swaai nou heen en weer om niks te mis nie. Joan Cuttmann. Iewers aan die rand van die waarheid.

      “O, gatta!” roep Gert skielik.

      Saais weet nou al om na die sitplek voor hom te gryp terwyl Gert skerp rem. Maar arme Sannie is amper nog ’n slag deur die voorruit. Kan die man dan nie gouer praat nie! Kan hy nie beter bestuur nie!

      Die kar ruk dood; hulle is seker so in die middel van die brug, dink Saais. Die nuuskieriges drom dadelik om die kar saam. En skielik is dit donker rondom hulle. Iemand kap agter op die kattebak. Saais kyk om. Dan begin die hele kar skud. Dis asof ’n groot hand uit die lug Gert Esterhuizen se Corolla beetgekry het.

      Reg voor Saais vlieg Sannie se hande na haar ore toe. “O, heretjie, Gert, ry net! Ry net!”

      Gert sukkel met die aansitter, karring, karring. Die ding wil nie vat nie! besef Saais, ligweg paniekerig. Die pers vlekke slaan in Gert se nek uit. Hy kry nie die regte rat nie. Skielik ruk die kar vorentoe. Weer stol die enjin. Johanna gryp na Saais se arm. Van agter af kom ’n hou op die kattebak, stemme skree. Saais kyk om en sien die vuiste, die wit tande wat kwaai flits.

      Dan stámp Gert die ratkierie en die Corolla vlieg agteruit. Na alle kante toe spat die mense weg. Sannie gil, maar die kar tru teen ’n vaart ál met die smal rybaan langs. Gert se kop ruk om. “Ry net!” bulder Saais, “hou net reguit!” Die Corolla se enjin skree, die regterkantste bande skuur teen die bruggie se randsteen. Gert trap die petrolpedaal net dieper in. Saais maak sy oë styf toe.

      Dan swenk die kar skerp. Johanna val teen Saais; hy waag dit om sy oë oop te maak. Hulle is pas verby die bruggie se ingang, sien hy. Teen die water. Dan begin die kar se agterkant swaai; heen en weer. Heeltemal buite beheer. Vir ’n oomblik kan Saais sweer dat Gert die stuurwiel laat los het. Hy wil weer op die man skree, maar dan mis die Corolla die swart kar met die getinte ruite met ’n paar sentimeters en skok tot stilstand. Die bierdrinkers by die mobiele sjebien se oë wys wit. Sannie skree weer. Of is dit Johanna hier teen sy gesig? Oplaas kry Gert ’n nuwe rat. Die enjin gil, ’n dik modderboog skiet agtertoe, die Corolla gly-gly tot dit die teerblad tref en brul dan teen die opdraandjie uit. Saais waag dit nie om óm te kyk nie.

      Eers toe hulle by Piet Paai se kafee verbyjaag, haal Sannie haar hande van haar ore af. Dadelik verminder Gert spoed. Johanna draai haar ruit af en hyg buitentoe. “Ag, dankie, Gertjie,” fluister Sannie en kyk na Gert. Sy vat-vat aan sy skouer.

      Gertjie se gat, dink Saais, eensklaps woedend terwyl hy die naarheid in sy keel terugsluk.

      6

      Elnatan Wait weet nie watter rigting om in te slaan nie. Hy weet net hy moet hier uit. Besluiteloos staan hy by die pastorie se tuinhekkie.

      As dit nie vir die hitte was nie, is ’n Sondagmiddag eintlik die mees geskikte staptyd, besef hy. Dit is eintlik so logies. Spar is lankal toe. Piet Paai het ’n uur gelede sy deure vir die siësta gesluit; hy sal laatmiddag weer oopmaak vir die aand se brood- en melkkopers. Die jonges met die haastige klein motortjies is al lankal met die grootpad langs, op soek na lewe op ’n beter plek. Of oor die laagwaterbruggie. Elnatan skud sy kop, ineens bewus van die effense klopping in sy bors; daaraan wil hy nie dink nie.

      Hy vat maar ’n koers. Dis grafstil, daar is nie ’n siel op straat nie. Niemand wat gegroet of te woord gestaan of na geluister moet word nie. Hulle lê agter hulle diggetrekte gordyne, dikgeëet aan vet vleis en rys en aartappels.

      Elnatan kan om die dood nie onthou wat hy vanmiddag geëet het nie. Het hy hoegenaamd geëet?

      Hy luister na sy sagte voetval, asof dit iemand anders s’n is, iemand langs hom, asof hy droom. Maar die eerste sweetkrieweling in sy nek bring hom terug na die omgewing. Die streperige skaduwees van die ry hoë bloekoms in Kerkstraat.

      Dis hélwarm. Hoekom draai hy nie maar terug huis toe nie? Die lafenis van sy studeerkamer; sy kop op die lessenaar se koel blad.

      Die toring se kort skadu val skuins oor die plaveisel voor die kerk. Hy kyk op, sien die afskilferende verf teen die toringmuur, die duiwemis wat in strepe daarteen afloop. Oor die duiwemis het ouderling Oosthuizen vanoggend weer sy mond vol gehad. Die ryk boer wat almal in die omgewing behandel asof hulle in sy diens is. Op sy dag was hy glo ook burgemeester. (“Kyk, hier is die sertifikaat teen die muur, hulle het my mos ná vyf

Скачать книгу