Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux страница 18

Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux

Скачать книгу

volgende naweek stad toe en sal Saterdagmiddag by Olivia kom inloer. ’n Halfuur voor Alet kom, gaan sê Olivia vir Nicolas dat sy ’n ondraaglike tandpyn het en dat haar tandarts gesê het sy kan sommer nou kom, hy sal spreekkamer toe kom.

      “Dis baie skielik,” sê Nicolas vir haar.

      “Ek weet, ek moes op iets hards gebyt het.”

      Hy kyk haar uitdrukkingloos aan. “Dan moet jy vir Alet bel en sê jy kan nie hier wees nie.”

      “Ek kan nie,” jok sy gemaklik. “Ek weet nie waar sy is of by wie sy bly nie. Jy kan haar mos solank geselskap hou, ek sal hopelik nie lank wees nie.

      “Dis geen probleem nie,” sê hy.

      Sy klim in haar motor en ry. Om die middag om te kry, gaan fliek sy eers, wip dan by Mart in en drink daar koffie en ry eers huis toe toe dit al begin donker word. Sy moet in haar doel geslaag het, want Alet se motor staan in die rylaan, maar van haar, Nicolas en die kinders is daar geen teken nie.

      Olivia weet sy behoort baie gelukkig te voel, maar sy sit bedruk in die kombuis met ’n gebakte eier en broodjie terwyl sy vir hulle wag en toe hulle kort voor nege ingewaai kom, is sy suur.

      “Hallo,” sê Nicolas vir haar. “Foei tog, ek kan sien die tand is nog seer. Kon hy niks doen nie?”

      Sy gluur na hom en kyk na die kinders wat tamatiesous op hulle kenne het en moeg en neulerig is. “Waar was julle so lank?”

      “Vir ’n wonder het hulle my nie laat kook nie,” sê Alet opgewek. “Ons het almal gaan hamburgers eet.” Sy kyk op haar horlosie. “Nou het ek my kuier met jou misgeloop,” sê sy vir Olivia. “Ek moet ry.” Sy waai vir die kinders en Nicolas stap galant saam met haar na haar motor toe.

      Olivia neem die kinders boontoe en tap badwater in. Al is hulle moeg, babbel hulle aanmekaar. Dis net tannie Alet voor en agter. Sy het hulle stories van leeus en seekoeie en renosters vertel, sy kan voëls se geluide namaak, sy het selfs ’n mak apie buite haar rondawel en hy eet uit haar hand uit. Olivia luister na alles en kan glad nie verstaan waarom sy nie blyer is nie. Die kinders hou van Alet, Nicolas vind haar geselskap plesierig anders het hy nie so vrolik gelyk nie en sy self keur Alet goed. Waarom voel sy dan asof sy iemand wil slaan?

      Sy lees net ’n kort storie omdat die kinders so moeg is en na sy hulle in die bed gesit het, gaan sy kombuis toe om vir haar koffie te maak. Nicolas sit by die kombuistafel en lees die aandkoerant, maar hy kyk op toe sy inkom.

      “Foei tog,” sê hy simpatiek. “Ek kan sien die tand pla nog. Kon die tandarts niks –”

      “Jy hét dit al gesê,” val sy hom bitsig in die rede. “My tand makeer niks nie, dankie.”

      “Niks nie? Jy bedoel dit was …”

      Sy ruk die ketel rond en mors op die toonbank. “Die kinders sê hulle het baie lekker gekuier.”

      “O ja,” verseker hy haar. “Alet is regtig ’n sprankelende entjie mens. Die kinders het aan haar lippe gehang. Hulle is mal oor haar stories van die wilde diere.”

      “Dis gaaf,” sê sy en leun teen die toonbank, haar arms oor haar bors gevou. “Dan hoef ek nie langer skuldig te voel nie.”

      Sy wenkbroue skiet op. “Het jy skuldig gevoel? Ag nee, dit was glad nie nodig nie. Ek het vir Alet verduidelik hoe skielik die tandpyn ontwikkel het en sy het baie begrip gehad. Ons het ’n baie aangename middag en aand gehad.”

      Sy gluur net na hom en toe na die ketel wat nie wil begin kook nie.

      “Om die waarheid te sê,” gaan hy voort, “sy het my en die kinders genooi om een naweek na die wildplaas toe te kom. Sy sê daar is soms stil naweke en ek moet haar net laat weet wanneer dit ons pas. Ek voel ook dis niks minder as reg nie,” gaan hy vroom voort. “Jy kry byna nooit ’n hele naweek af nie, maar as ons nou weggaan, kan jy ’n ordentlike –”

      “Ek het meer as genoeg vrye tyd,” sê sy kortaf. “Het ek miskien gekla?”

      “Nee, maar dit is nie ’n maatstaf nie. Jy is so ’n gewillige werker en kla nooit nie. Goeiste, ek wens my personeel by die kantoor was so onselfsugtig bereid om –”

      Sy pluk ’n kassie oop en haal koffiebekers uit. “Wil jy koffie hê?” val sy hom stuurs in die rede.

      “Ja dankie.” Hy lyk steeds simpatiek. “Kan ek nie vir jou ’n pilletjie kry nie? Dis duidelik dat jou tand –”

      “My tand makeer niks nie.”

      Hy klik sy tong. “Maar weet jy wat het my vanmiddag vir die eerste keer getref? Ek het nie vir jou voorsiening gemaak vir ’n mediese fonds nie. Dis regtig baie nalatig van my. Ek kan net dink wat ’n tandarts sal vra vir so ’n besoek oor ’n naweek. As jy vir my sy naam en telefoonnommer kan gee, sal ek hom bel en sê hy moet die rekening vir my stuur.”

      “Die rekening is nie ’n probleem nie. Dis my saak.”

      “Nie ’n probleem nie?” herhaal hy. “Het hy dit vir jou as ’n guns gedoen?” Hy knik sy kop wys. “O, ek sien. ’n Persoonlike vriend, seker. Dis lekker om ’n tandarts as vriend te hê.”

      “Nicolas,” sê sy dreigend. “Skei asseblief uit. Ek is moeg vir die onderwerp.” Sy gaan sit by die verste punt van die tafel en drink ’n sluk koffie. Dis hopeloos te warm en sy trek ’n gesig en sit die beker vinnig neer.

      “Oppas,” waarsku hy. “Dis warm.”

      Sy druk haar lippe opmekaar. “Wat het jy met Yvonne gedoen?” vra sy na ’n ruk. “Of gee sy nie om dat jy so met ander meisies rondrits nie?”

      “Sy het vanaand iets aan,” antwoord hy kalm. “En ek het verlede week vir haar verduidelik wat jou plan is.”

      “My plan?” vra sy oorstelp. “Watse plan?”

      “Dat ek weer moet trou. Ek dink sy vind dit billik. Sy hou ook nie van die oppassers wat ek in diens moet neem nie.”

      “Vir wat trou jy dan nie met haar nie?” vra sy vies.

      “Olivia,” sê hy betigtend. “Jy is dan die een wat gesê het ek mag nie.”

      “Dis ter wille van die kinders.”

      “Presies. En ek moet erken ek dink jy is reg. Yvonne sal nie ’n goeie stiefma uitmaak nie.”

      “Alet sal,” sê sy somber. “Die kinders hou baie van haar.”

      “Dis waar,” stem hy saam.

      Dis ’n hele ruk stil. Olivia sit en afkyk na haar koffie, haar gedagtes deurmekaar.

      “Ek sal my tog daardeur laat afsit,” sê sy skielik.

      “Waardeur?”

      “Deur wat iemand anders sê. As ek met iemand wil trou, sal ek dit doen al is die hele wêreld daarteen.”

      “Mits jy dertig is,” voeg hy by.

      Sy skiet ’n giftige blik in sy rigting. “Vanselfsprekend.

Скачать книгу