Landskap met diere. Welma Odendaal
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Landskap met diere - Welma Odendaal страница 4
Daar het dikwels twee of drie mans in vaalbruin klere koponderstebo in hulle tuin geskoffel. Sy het hulle vanuit haar kamervenster dopgehou, en soms in die bloedige son vir hulle koue water geneem. Hulle het die blikbeker gulsig by haar gevat en die water met lang teue gedrink totdat die beker leeg was. Sy kon haar oë nie van hulle afhou nie. Hulle voete, wit van die stof, was aan die kante gebars en gekraak soos ou leer. Maar as sy té lank buite in hulle teenwoordigheid getalm het, het haar ma haar na binne geroep.
In die groot droogte van daardie tyd het die leivore opgedroog, en kon hulle nie meer water afkeer om die vrugtebome te lawe nie. Die ou bome het skraps gedra en die vrugte was klein en sonder sap, hoewel sommige baie, baie soet was. Sy kan onthou dat sy in die vroegoggend saam met haar pa deur die boord gestap het en ryp vrugte gepluk, oopgebreek en daaraan gebyt het, totdat sy ’n vruggie gekry het wat soet genoeg was om te eet. Die res het hulle op die hoop blare en verlepte perskes gegooi wat reeds deur die bandietwerkers onder die bome saamgehark is.
Maar haar pa sou nie meer lank by hulle wees nie. Die droogte het voortgeduur en hy het gesukkel om met sy groente en vrugte ’n bestaan te maak. Lateraan het hy op die paaie gaan werk en weeksdae glad nie huis toe gekom nie. Sy en haar ma het alleen in die klein huisie naby die rivier gebly en gedoen wat hulle kon.
Die bandiete het ook nie meer gekom om in die tuin te werk nie. Smiddae na skool het sy alleen by haar kamervenster gesit en uitgekyk oor die verdroogde tuin en takkerige bome met hul dofgeel blare.
Haar pa is laat Vrydagmiddag voor die huis afgelaai. Hy was donker gebrand, vuil en moeg. Sy lyf was afgerem en sy hare het grys geword; sy lippe was vol droë sere wat oopgebars het en hy het sterk geruik, baie soos die mans wat voorheen in hulle tuin kom werk het.
Die eerste dag van die naweek het hy net geslaap en nie veel met haar en haar ma gepraat nie. Vroeg Sondagoggend het hy alleen in die tuin geloop, sy hemp sonder boordjie ’n wapperende wit vlag wat van een boom na die ander beweeg. Maar laatmiddag het hulle steeds soos voorheen die lang bult uit gestap in die rigting van die tronk, ’n draai om die groot klipgeboue gemaak, en dan weer afgestap na hulle huis. Sy kon nooit enige van die prisoniers agter die hoë heinings en onverbiddelike klipmure sien nie.
Maandagoggend, voor die son op was, het ’n groot vragmotor voor hulle huis stilgehou en haar pa weer weggevat na die harde werk op die paaie.
Een middag, dit was steeds somer en warm, het hulle weer die stowwerige pad teen die bult uit gestap. Haar pa was opgeruimd dié dag. Hy het sy arm om haar skouers gehad en sy gesig was skoongeskeer, sy hare glad agtertoe gekam. Hy het geruik na badseep en iets anders, iets soos naeltjies en appels. Hy het hulle meegedeel dat hy nie meer vir lank paaie toe sal gaan nie; dat hulle vir hom ’n werk as waterfiskaal by die munisipaliteit aangebied het. Ondertussen gaan hy nie meer elke week terugkom huis toe nie, want hulle bou nou verder van die huis af pad, diep die platteland in, en daar is nie vervoer om hulle naweke terug te bring nie.
Haar ma het stil gaan staan, vooroor gebuig en haar maag vasgehou.
Sy het haar pa se hand styf vasgegryp. Daar is dan nie reën nie, waar gaan hy die water kry om uit te keer? het sy gewonder.
Julle moet sterk wees, ek sal die geld huis toe stuur, het haar pa gesê. Dit sál binnekort weer reën.
Hulle het die afdraande huis toe in stilte teruggestap.
Sy is na haar kamer en het gehoor hoe haar ma in die kombuis huil. Sy het lank op haar bed gelê en luister na die gemurmel van haar ma se verdriet en haar pa se sagte stem, voordat sy bewus geword het van ’n sterk reuk, soos ou vis, in haar kamer. Sy het ’n geritsel onder haar bed gehoor, op haar hurke gaan sit en die deken opgelig. Sy het skaars die klein ogies gesien of iets skarrel onder die bed uit en vlieg met ’n vaart onder die hangkas in. Sy het geroep: Pa, Pa!
Haar pa het die dier probeer uithark, maar tevergeefs. Dis ’n likkewaan, het hy gesê. Hy is seker ook maar net op soek na water. Haar pa het die buurman gaan haal en saam het hulle die likkewaan gevang en in ’n goiingsak gesit. Hulle is met hom vort na die rivier, en sy het gewonder of hy in die droë lope sal oorleef.
In haar kamer was die likkewaanreuk nog sterk, so sterk soos die reuk van die mans in die tuin.
Vroeg die Maandagoggend is haar pa weer by die huis opgelaai. Soos die reën het hy lank weggebly, en eers nadat die reuk van die likkewaan in haar kamer net ’n vae herinnering was, het hy teruggekeer na die huis naby die rivier.
Slagoffer
Sy lê buite onder die peperboom met die dogtertjie langs haar. Sy klem styf aan die handjie wat nou reeds koud geword het. Kil in die snikwarm dag hier buite. ’n Bloukopkoggelmander skuif nuuskierig nader en hou haar met sy spits ogies dop, doodstil, net die flikker van sy dartelende tong wat wys dat hy nie deel is van die warm, blouswart klip waarop hy lê nie.
Toe haar man van die veld terugkom, het hy haar en die kind onder die boom gevind. Hy het gesukkel om die kind se hand uit hare los te maak, maar uiteindelik het sy laat gaan, moeisaam opgestaan en agter haar man, wat die lyfie in sy arms gedra het, teruggestap huis toe.
Die koggelmander het lank reeds die hasepad gekies.
Die volgende namiddag het Ragel haar kind in ’n sagte sybokhaartjalie toegedraai en neergelê in ’n kissie van kareehout wat haar man aanmekaargetimmer het. Die hitte was te fel dié tyd van die jaar in die Boesmanland, en hulle kon nie wag vir ’n behoorlike begrafnis nie. Hy het met pik en graaf ’n graf in die klein familiekerkhof aan die voet van die berg uitgekap. Hy moes tot ounag werk om die gat diep genoeg te kry sodat die jakkalse die kind nie later uitgrawe nie. En daar, onder die sterre en die lig van die halfmaan, op die werf waar die klippe soos profete die hitte vir die volgende dag uitstraal, het Ragel haar kind begrawe.
Die bus tussen Pofadder en Springbok was Ragel se enigste kontak met die buitewêreld. Gereeld een keer ’n week wanneer die bus met die pos verbykom, het hulle by haar stilgehou om ’n koppie tee te drink en die geriewe te gebruik. Dit was al buitemense wat sy soms in weke gesien het, die busdrywer en sy handlanger. Vir die res was dit net sy en die siek kind in die versengende hitte van die Boesmanland. Haar man is soggens vroeg al uit na die boerdery en wanneer hy laataand teruggekom het, was hy feitlik te moeg om sy aandete klaar te eet, sodat hy soms net daar by die etenstafel aan die slaap geraak het. Buitendien was hy nie ’n spraaksame man nie.
Ragel is nie oorspronklik van hierdie wêreld nie. Sy is ’n geleerde vrou en haar mense gegoede vrugteboere in die Overberg. Sy was al ’n paar jaar in die onderwys toe sy die man van die Boesmanland getrou het. Haar familie het probeer waarsku dat die wêreld waar hy vandaan kom anders is as waaraan sy gewoond is, maar niks kon werklik vir Ragel voorberei op die ongenaakbaarheid van haar nuwe tuiste nie. Die bossieveld wat eindeloos strek, die opstal vasgedruk teen die swartklipkoppies met net enkele Javapeperbome op die werf om skuiling te bied teen die dorheid en hitte. Die somer is die hel vanself, het sy huis toe geskryf, en wanneer die winter uiteindelik kom, slaan hy sy kloue só diep in dat die krippe en waterpype ys, en jy in jouself wil inklim vir ’n bietjie warmte. Maar sy het uitgehou en uiteindelik tog ’n soort bestaan in dié harde wêreld gevoer.
Ná ’n jaar is hulle eerste kind gebore. Stil-stil het die klein stukkie mens haar dorre wêreld binnegekom en Ragel se lewe verhelder.
Die dogtertjie was maar van die begin