Abel se lot. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Abel se lot - Chris Karsten страница 23
“Later, Jules, en dan kan ons ry en die maskers gaan soek. Wanneer Afrika weer rustig is.”
“Dis jammer, Mister Lotz. Ek’t so uitgesien na ons ekspedisie.”
“Dis net uitgestel, nie afgestel nie. Miskien kan jy intussen, soos gewoonlik, alleen gaan soek. Ek sal graag weer met ’n galery wil begin, iewers in Europa, miskien in Hamburg. Die Duitsers vrek oor sulke artefakte uit Afrika, veral outentieke relikte, nie die brouspul van straatsmouse nie.”
Jules vra nie uit oor sy Europa-planne nie, en Abel verswyg die naam van sy e-pos-vriend in België. Van Ignaz Bouts in Brugge hoef niemand te weet nie, selfs nie Jules nie.
Abel kan sien sy vriend het nog baie op sy gemoed.
“Mister Lotz, ek’s seker daai ding in Johannesburg … alles net ’n misverstand, ’n gróót dwaling, nie waar nie?”
“Ja, ’n dwaling, Jules. Maar dis ernstige sake. Daarom dat ek so vinnig moes padgee. Daarom dat ek ook hier onveilig voel. Hulle weet ek’s oor die grens Mosambiek toe. Hulle weet ek’s iewers in Afrika.”
“Maar Mister Lotz, hoekom vlug? Is dit nie beter om jou saak te gaan stel nie?”
“Jules, jy ken die polisie. Ken jy die polisie in Suid-Afrika? Hulle wil nie werk nie. Hulle soek kortpaaie, die weg van die minste weerstand. Hulle kry eers ’n naam, ’n verdagte, vind hom klaar skuldig, en daarná begin soek hulle na bewyse teen hom. Hulle fabriseer en bekonkel dit selfs, dis wat hulle doen. Hulle soek nie éérs die bewyse nie. Is dit nie die bewyse wat na ’n verdagte moet lei nie? Is dit nie hoe dit werk nie, Jules? Ek wil nie in ’n sel gaan sit en krepeer terwyl die regte moordenaar los loop nie. Weet jy wat is die waarde van siviele eise wat elke jaar teen die polisie in Suid-Afrika ingestel word vir wederregtelike arrestasie? Miljoene, Jules. Daarom dat ek so vinnig moes padgee. Sien jý kans om vir iemand anders se dade in die tronk te gaan boet?”
“Nee, Mister Lotz.” Jules skud sy kop. “Gaan liewer vort. Laat hulle eers die werklike moordenaar vastrek, dan kan jy terugkom. Dan gaan soek ons saam na die maskers, op jou pad terug Johannesburg toe. Jy gaan mos terug Johannesburg toe, nè, Mister Lotz?”
“My moeder is daar, ek kan haar tog nie alleen los nie.”
“En die masker van Idia ook.”
“A, die koninginmoeder van Afrika,” sug Abel. “Dit was ’n wonderlike ding wat jy vir my gekry het, Jules, daardie masker van Idia.” Hy vee oor sy wange, sy vingers onder die nuwe bril met amber lense in.
“Mister Lotz … jy hoef nie daaroor te praat nie. Ek’t maar net gewonder oor die Idia.”
“Dis oukei, Jules.” Weer ’n sagte sug. “Dit was ’n pragtige geskenk vir my moeder, so gepas. Jy moes haar gesien het met daardie masker oor haar gesig, so rein en vorstelik. Nou kry ek die kans om Idia se doodsmaskers in die museums te gaan besigtig, in Stuttgart en Londen, miskien selfs die een van ivoor in die Metropolitan in New York.”
Jules sit sy koppie neer en skuif sy stoel tru. “Mister Lotz, ek …”
“Jules, ek’t ’n bespreking op die veerboot. Sal jy my kan vat, as jy nie te besig is nie? Miskien kan ek ’n taxi …”
“Ek sal jou vat, Mister Lotz. ’n Vriend ry nie met ’n taxi hawe toe nie. En die bakkie?”
“Sal jy na die bakkie kyk terwyl ek weg is? Jy kan dit gebruik, rondry as jy wil.”
“Ek sal hom mooi oppas, Mister Lotz. Dis ’n duur bakkie, kan sien dit het jou baie geld gekos.”
Toe Jules Daagari uitstap, bestel Abel nog koffie.
Hy is regtig bly dat daar onder sy slagoffers net twéé vroue is, nie drie nie. Hy is bly dat die adjudant dit tog oorleef het. Adjudant Ella Neser. Die skraal een met die kort, swart hare en funky bril. Hy sou so graag haar vel ook wou oes, was amper klaar toe hy versteur is.
Abel is nie ’n moordenaar nie, net ’n kosmiese reisiger. En die velle is donateurs se bydraes vir die omslae van sy joernale. Hy het al ’n pou, van die konstellasie Pavo, vir die omslag van sy Kosmiese Reise, Vol. I, en hy het ’n haas, van die konstellasie Lepus, vir Kosmiese Reise, Vol. II. Ella Neser, as sy werk nie so wreed en onverwags onderbreek is nie, was besig om ’n verskietende ster te skenk vir Kosmiese Reise, Vol. III, oor sy waarnemings van asteroïede, komete en meteore.
Hy beplan tien volumes, en is vasbeslote om sy ensiklopediese sterre-atlas te voltooi en te laat bind. Op elke omslag die gebreide, getatoeëerde vel van ’n jong vrou, sag soos maagdeperkament. Maar elke tatoe – en dit is ’n streng vereiste – moet van kosmiese betekenis wees. Hy het nog net twee, maar hy het geen twyfel dat hy omslae vir ál tien sy joernale sal kry nie. Daar is baie donateurs, hulle moet net oortuig word om ’n stukkie van hulle vel te skenk.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.