Daar is 'n ou in my aarbei-smoothie. Janie Oosthuysen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Daar is 'n ou in my aarbei-smoothie - Janie Oosthuysen страница 3

Daar is 'n ou in my aarbei-smoothie - Janie Oosthuysen Eerste liefde

Скачать книгу

sy naam wees?

      Sê nou hy vra my vir die sportdag? Dís nou vir jou ’n date. Dink net, ek en S. Jonker die hele dag saam. Ek kan dit nie help nie, ek glimlag by die gedagte.

      Ongelukkig vang ek Riaan se oog en hy lig ’n sardoniese wenkbrou. Vies kyk ek weg. Die jerk moenie idees staan en kry nie. In elk geval, ek en Mia gaan nog elke jaar saam sportdag toe, dis ons tradisie al van graad agt af.

      “Ek’s lus om ’n party te hou, dalk die aand voor die sportdag, wat dink julle?” Mandy kyk onseker rond. Die reaksie stel haar duidelik nie teleur nie.

      “Cool!”

      “Sê net wat ons moet bring!”

      “Ek moet nog my ma vra, maar sy sal nie omgee nie. Ek sal julle later laat weet dan kan ons alles finaliseer, oukei?”

      Die party gaan heng cool wees. Mandy se pa het ’n groot skuur op hulle plaas waar ons kan braai en dans. Dalk is hý ook daar, die ou van die kaartjie. En Something Jonker. Wie weet, dalk is dit een en dieselfde persoon. Dink net hoe jaloers sal almal wees as ek daar opdaag met ’n erg verliefde S. Jonker aan my sy.

      As ek net kon uitvind van wie die simpel kaartjie kom. As ek net kon seker wees dis van hóm en nie die een of ander chancer nie.

      

      Na skool sit ek af na die plaaslike kunsgalery langs die dorpsbiblioteek. Daar word ’n week lange uitstalling gehou van Suid-Afrikaanse skilderye, afdrukke en etse. Ou Esel het die geleentheid om ons met ’n kunstaak te martel met oop arms aangegryp.

      Vraelys in die hand dwaal ek deur die saal. Van die werke is te koop en hier en daar pryk ’n rooi plakker teen ’n houtraam. ’n Klein skilderytjie, weggesteek teen ’n pilaar, wink my nader. Dis ’n vrouegesig met halftoe oë en ’n blougroen hoed op.

      “Pieter van der Westhuizen,” lees ek. “Vrou met hoed. Boring.” Tog is daar iets in die gesig wat met my praat. Dalk die oë. Daardie oë wat nie wil sien nie. Ek lig my hande om hulle oop te vee, maar net toe praat ’n Kurt Darren-stem agter my.

      “Hierdie een. Dis die een wat ek soek.”

      Eintlik hou ek nie van Suid-Afrikaanse sangers nie, maar Ma is mal oor hom. Waarom sou “Kurt” nou juis hierdie skildery wou hê? Net toe ek begin dink ek kan dit gebruik vir my taak?

      “Meisie, jy mag nie aan die skilderye vat nie,” sê die galeryassistent.

      “Ek het nie daaraan gevat nie,” protesteer ek.

      “’n Mens vat nie so aan alles met jou vuil hande nie.”

      “Maar ek hét nie daaraan gevat nie,” stry ek terwyl ek toekyk hoe sy mý skildery van die muur aflig. Ek kan myself nie langer keer nie en gee ’n tree nader. “Die skildery? Wat gaan daarmee gebeur?”

      “Hierdie meneer het dit gekoop.”

      Ergerlik kyk ek om. “Maar dis op uitstalling. Dis nie te . . .”

      Die res van die sin steek vas in my keel. Hy mag ’n Kurt Darren-stem hê, maar dis waar dit eindig. Daar is ’n keep tussen sy swart oë toe hy die skildery met skraal vingers uit die assistent se hande neem en dit bestudeer.

      Ek voel soos ’n idioot terwyl ek wegstap. Tog, om die een of ander rede, kry ek die man nie uit my kop nie. Dis weird, veral omdat dit ’n wildvreemde persoon is wat minder as niks in my lewe beteken nie.

      Karike loer verbaas by haar kamerdeur uit toe ek by die woonstel instap en my tas in die hoek van die sitkamer neergooi. “Ek dag jy’s kunsgalery toe?”

      “Jy’t verkeerd gedag.”

      “Wat eet jou?” Sy kyk intens na my. Dan flikker haar oë. “Hier was netnou iemand by die deur. Jou gesoek. ’n Ou.”

      Onwillekeurig trek ek my asem in. Dadelik besef ek my fout. Stupid. Stupid. Stupid. Dit was net wat sy wou hê. Dit is ook so. Sy skreelag: “Yolandé het ’n kêrel, ’n kêrel, ’n kêrel, ’n kêrel! Yolandé het ’n kêrel, tra-la-la-la-laaa!” Toe slaan sy haar deur agter haar toe.

      Met lang hale stap ek kombuis toe. Daar is twee leë koffiebekers op die toonbank, vars krummels op die vloer en ’n vuil pan op die stoof – duidelik Karike se werk. Ek bal my vuiste. Maar wat sal dit help om kwaad te word? Ek kan tog nie alles vir Ma los nie, sy werk haar klaar halfsimpel. Nee, Aspoester sal maar weer die vloere skrop.

      Maar wie het my gesoek?

      Vyftien minute later klop ek met ’n bakkie jogurt en ’n appel in die hand aan Karike se deur. Met ’n vrolike, vals stem vra ek: “Karike, wie was hier vir my?”

      Ek hoor Mercia giggel. Toe, skaars hoorbaar bo die geluid van Never Say Never, kom die antwoord: “Tog niemand, lekker uitgevang!” Dis ’n rukkie stil, toe gil die tweestuks dit uit: “Tra-la-la-la-laaa!”

      Die bloed suis in my ore. Vanaand praat ek met Ma, al krap dit haar ook hóé om, Karike is besig om ’n monster te word. Ek raap my tas op, stryk aan kamer toe en plak die appel, die jogurt en die tas op my lessenaar neer. Skielik sukkel ek om asem te haal. Sê nou my prins het nog ’n skuif gemaak? Hoe wonderlik fantasties sal dit nie wees nie?

      Met bewende hande pak ek my boeke uit. Daar is niks. Vies laat val ek die tas op die vloer. Met die wiskunde-toets het dit ook maar beroerd gegaan. Dit was nie net Riaan wat niks geleer het nie. Maar ek kon nie. Nie gisteraand nie en ook nie nou nie, my kop gons te veel.

      Ek haal die koevert uit my wiskundeboek en lees die goue woorde op die swart kaartjie nog ’n paar keer. Trek die sierlike letters met my vinger na. Wie ken ek wat so kunstig is?

      Toe Ma SMS sy gaan laat wees, klink sy so moeg dat ek niks oor Karike sê nie en sonder ’n woord vir ons bevrore Woolworths-cannelloni in die mikrogolfoond ontdooi.

      Teen tienuur kruip ek in en droom van ’n swart deken met goue patrone op wat my kamer vol lê. Ma se oë, halftoe in ’n bleek gesig, staar oral uit die mure na my. Pa se foto, net so in die raam, staan eenkant op die vloer.

      Natgesweet ruk ek wakker. Nog nooit was Pa net ’n foto eenkant op die vloer nie. Nog elke keer het hy met ’n breë glimlag nader gestap en sy arms om my geslaan. Bewend tel ek die foto van my bedkassie op en hou dit in die maanlig wat deur my oop venster skyn.

      Pa was amper te mooi vir ’n man.

      Lank staar ek na die dromerige oë, so baie soos myne en so anders as dié van die man in die kunsgalery. Sý oë het dwarsdeur my gekyk. Met die foto op my bors lê ek terug teen my kussing … tot ek onrustig begin droom van ’n Oosterse prinses op ’n karmosynrooi towertapyt bo goue spuitfonteine, waar ’n prins in ’n swart gewaad met sy hand teen die son op haar wag …

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком,

Скачать книгу