Sarah du Pisanie Omnibus 7. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie страница 5

Sarah du Pisanie Omnibus 7 - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

maak die twee kleintjies, wat nog steeds aan Alet vasklou, beslis los.

      “Julle twee ook.” Sy stem is nie meer so streng nie, maar dit dra genoeg gesag om hulle stil op hulle plekke te kry.

      “Juffrou, ek sal jou graag vir ’n oomblik in my kantoor wil spreek.” Hy draai na die klas. “Julle sit doodstil . . . nie ’n woord van julle nie. Verstaan?”

      “Maar, oom Louis . . . Ansie het my potlood . . . my nuwe potlood . . .”

      Alet voel die histerie in haar opstoot. Die klein Johani het geen respek vir die gelaaide atmosfeer nie. Die groter kinders staar haar verskrik aan. Alet stap voor Louis uit, te bang om om te kyk.

      “Johani!” Alet kan sweer dat sy stem vol lag is, maar sy sal nou nie haar maand se salaris daarop verwed nie.

      “Jy moet net soet wees . . . jy is nou groot, en as ’n mens eers in die skool is en juffrou of ek sê vir jou iets, dan luister jy en jy praat nie teë nie.”

      “Ja, oom Louis, maar . . .”

      “Dit is nou genoeg, almal doodstil totdat ek terugkom.”

      Alet staan stil en regop in die kantoor vir hom en wag.

      “Juffrou!” Louis se stem is kil en onvriendelik. “Hoe lank gee jy al onderwys . . .”

      “Dit is my tweede jaar, meneer Erlank; ek het verlede jaar ’n standerd twee-klas gehad.”

      “Jy het dus nog geen ondervinding van kindertuinklasse nie?”

      “Nee, meneer.”

      “Juffrou!” Louis se stem drup van sarkasme. “Mag ek jou vra hoekom jy hiernatoe gekom het?”

      Alet se hele houding raak geslote, sy kyk hom vas in die oë sonder om ’n woord te sê.

      “Dit is nie so ’n onbillike vraag as wat jy dink nie, juffrou! Geen regdenkende jong meisie sal haar sonder rede hier op die uithoek van die aarde onder die stof en sand kom be­grawe nie.” Louis skuif ’n paar papiere op die lessenaar netjies reg. “Ek het verwag dat jy al met pensioen moes gewees het, en dus nêrens anders ’n pos kon kry nie . . . daarom dat jy hiernatoe gekom het . . . Ek was blykbaar verkeerd.”

      “Blykbaar, meneer Erlank.” Alet klink heel onskuldig.

      “Wel! Daar moet ’n rede voor wees . . .” Louis slaan driftig op die lessenaar. “Ek laat my nie vertel dat ’n mens so iets onbesonne sal aanvang sonder ’n baie goeie rede nie.”

      Alet antwoord nie . . . staar net stil voor haar uit, en dit maak hom woedend.

      “As jy wil teruggaan, juffrou . . . as jy besef jy het ’n fout begaan, dan moet jy my nou sê sodat ek vandag nog met die Departement in verbinding kan tree en hulle dadelik iemand anders kan stuur. Ons kan nie wag tot die middel van die jaar en dan die kinders in die steek laat nie.”

      Sy lig haar kop beslis op, maar vou ongemerk haar arms om haar maag om die bewing te probeer keer.

      “Ek is nie van plan om die kinders in die steek te laat nie, meneer Erlank.”

      “Juffrou!” Louis se stem is sarkasties geduldig. “Ek hoop jy verstaan my reg . . . dit is nie dat ek dink jy sal dit doen omdat jy van swak inbors is nie, maar Walvisbaai is nie ’n plek vir ’n jongmeisie nie. Hier is feitlik geen ongetroude jong mense nie . . . Hier . . . hier is niks wat ’n mens kan doen om die tyd vir jouself interessant te maak nie . . .” Louis buk oor die lessenaar, sy stem sissend sag. “Hier is geen . . . wel, omtrent geen hubare mans nie . . .”

      “Ek verstaan, meneer Erlank . . . Ek is egter steeds nie van plan om halfpad tou op te gooi nie.”

      “Goed . . . juffrou! Jy is baie slim en baie koppig . . . Jy wil hier bly . . . mooi! Maar . . . jy gaan jou kant bring, dit belowe ek jou . . . moenie dink ek gaan jou verskoon omdat jy ’n vrou is nie.”

      Alet sê nie ’n woord nie, maar wat sy in haar hart dink, is onheilspellend bitter en swart.

      “Dit is al, juffrou, en gaan probéér asseblief om jou klas te beheer! Ek kan nie werk met so ’n chaos langs my nie.”

      Alet sluk swaar aan die krapperigheid in haar keel. Sy haal ’n paar keer diep asem voordat sy weer by haar klaskamer ingaan. Die kinders is stil en beskou haar ondersoekend. Hulle is vir haar jammer, want dit is seker nie eens vir ’n juffrou lekker om kantoor toe te gaan nie.

      “Nou ja, ek dink ons het nou almal kennis gemaak. En weet julle wat dink ek nog . . . ek dink nie ons gaan vandag op hierdie eerste dag van die kwartaal al met lesse begin nie . . . ek gaan vir julle een van die mooiste stories lees.”

      Haar soet stem hou die kinders asemloos gevange en hulle sug van genoegdoening toe Aspoestertjie met die prins wegry en die stiefsusters die gelukkige paartjie jaloers agterna moes staan en kyk.

      Onseker draai Alet in haar klas rond toe die kinders uit is vir pouse. Sy weet nie of sy veronderstel is om iewers te gaan tee drink nie. Sy sal in elk geval liewer sterf van die dors as om self te gaan ondersoek instel.

      “Juffrou . . . meneer sê juffrou moet kom tee drink in die kantoor.”

      “Dankie, Elias, ek kom.” Sy draai onnodig in die klaskamer rond sodat die teedrinktyd tot die minimum beperk is.

      Die tee is onsmaaklik en die gebarste koppies en nerf­af pierings doen niks om dit aangenamer te maak nie. In doodse stilte drink sy haar tee. Louis is besig om vorms in te vul en sy sit styf en regop aan die ander kant van die lessenaar.

      Stilweg neem Alet haar voor om van môre af self die tee te maak. As sy dan die tee in so ’n gelaaide atmosfeer moet inwurg, dan kan dit darem ’n aantrekliker en smaakliker koppie tee wees.

      “Dankie, meneer Erlank . . . As jy my sal verskoon, ek het nog ’n paar dingetjies wat ek in my klaskamer moet gaan doen.”

      Louis kyk half gesteurd op.

      “Dit is reg, juffrou. Ek sal bly wees as ek jou ná skool ’n paar oomblikke kan spreek. Daar is ’n paar dingetjies wat ons moet bespreek.”

      Die dag verloop sonder verdere voorvalle. Alet laat die kinders verf en dit hou hulle die res van die dag stil en gelukkig. Sy gebruik die tyd om die kinders onderlangs dop te hou en op te som.

      Die grootste gedeelte van die klas is doodnormale, gesonde, lewenslustige kinders wat sy, as sy ’n opsomming moet maak, beslis sal klassifiseer onder kinders wat uit goeie, gemiddelde huise kom. Daar is ’n paar wat armoedig lyk, hul kleertjies is dun gewas maar skoon en netjies. Hierdie kinders is bleek en maer. Ongemerk gaan Alet hul name weer in die register na en merk verbaas op dat al vier dieselfde van het.

      Alleen in ’n bank sit ’n mooi donkerkoppie. Sy is netjies en haar klere is van ’n goeie gehalte en baie smaakvol. Welvarendheid staan in hoofletters oor die meisietjie ge­skryf. Marinda Steenkamp. Alet wonder wie haar ouers is. Sy is blykbaar nie juis gewoond om met die ander kinders te meng nie. Die kinders behandel haar met baie respek, maar min warmte.

      Diep in haar hart verwens sy die ongeskikte Louis Erlank. Sy sou so graag die kinders met hom wou bespreek sodat sy elkeen se agtergrond

Скачать книгу