Elize Parker-omnibus. Elize Parker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elize Parker-omnibus - Elize Parker страница 10

Elize Parker-omnibus - Elize Parker

Скачать книгу

Sy sluk hard om haar asem terug te kry. “Ek moes geweet het nadat jy van Adri ontslae geraak het, gaan ek volgende op jou tref-en-trap-lys wees. Ek dink ek sien deur jou planne … Eers saai jy onmin tussen my en Adri … en nou tussen ons en Carine. Maar dit gaan nie werk nie, Emmie. Bloed is dikker as water.” Sy maak die deur oop.

      “Moenie jouself bluf nie, Nelia. Julle was nog nooit ’n hegte gesin met gesonde familiebande nie. Daarvoor was jou ma se invloed te sterk gewees. Julle gesinsbande was aan die verbrokkel lank voordat ek op die toneel verskyn het.”

      Nelia draai om en sonder om links of regs te kyk, klap sy die deur toe. Sal die verlede haar nooit met rus laat nie? Hier is sy weer aan die vlug omdat haar emosionele lewe deur ’n klein voorval ontrafel is.

      Peter Becker. Sy is seker hy sal ’n betrekking vir haar hê. Hy het so geïnsinueer. Wanneer sy hier uit is, gaan sy hom kontak. Hoe gouer, hoe beter. Net Carine bind haar aan Kaapstad. Maar hoe lank nog? Die bloedband tussen haar en haar susters is nie so sterk nie. Haar en Adri se tienderjare en Carine se kleuterjare was die tyd van hulle grootste vervreemding. En dit is Ma Hettie se werk.

      Tog, gister en vandag verlang sy eindeloos na Adri … Sy vermoed Adri verlang ook na haar en Carine. Sy het haar ’n paar keer van L’Agulhas af geskakel om te hoor hoe dit met Carine gaan. Aan haar stem kon sy hoor Adri is verwese. Toe sy in haar kamer kom, is die eerste besitting wat sy inpak ’n foto van die drie van hulle toe hulle jonger was: ’n sewentienjarige Adri, die driejarige Carine in die middel en haarself as tweedejaarstudent op ’n tuinbank iewers in hul Bredasdorp-tuin.

      Een vir almal en almal vir een. Carine het dikwels in haar kleuterjare die Drie Musketiers se leuse op hulle van toepassing probeer maak. Min kon sy weet dat dit veel eerder tussen hulle drie “Elke vrou vir haarself” sou wees. Sou hulle, afsonderlik en saam, ooit Hettie se invloed kon ontgroei? Hoe lank gaan sy hulle vanuit die graf regeer?

      10

      ’n Soet karamelwalm hang oor die kombuis van Villa d’Este en dryf met die gange van die Italiaanse villa langs terwyl Carine die bruingebrande suiker om en om in ’n pot roer. Sy geniet dit om met die kos te help. Terwyl sy die lepel aflek, dink sy aan Adri.

      Sy hoor soms van haar. Adri probeer haar bel op tye dat Emmie nie tuis is nie. Hulle kry nie veel gesels nie, maar sy weet ten minste Adri het nie saam met Richard weggeloop nie. Sy het weggevlug van Villa d’Este na ’n rusie met Emmie. Nou skilder sy op L’Agulhas en maak hul vakansiehuis reg. Nelia praat nie oor Adri nie. Hulle het seker, soos in die ou dae, baklei.

      Carine was nooit mal oor Nelia nie. Haar oudste suster toon nie veel belangstelling in haar nie. Sy is te besig. Vir Nelia sal sy seker altyd die bevoorregte laatlammetjie bly.

      Haar lewe in Kaapstad is nie vrot nie. Emmie is goed vir haar en sy is gewild by die skool. By die Hotel Woltemade het sy ’n vriend in die hoofsjef, Gustave. Soms verlang sy na die Overberg en haar ou maats, en dan troos Emmie haar met mooi klere en duur speelgoed.

      Toe sy die toffierige karamel in die pan uitgooi, hoor sy dofweg hoe Nelia uit die studeerkamer op Emmie skree. Sy kan nie haar woorde uitmaak nie. Sy streel die vloeistof plat met die houtlepel.

      Sal Adri terugkom as Nelia haar goed vat en loop?

      Sy draai na die studeerkamer en luister fyn. Dit klink of Nelia iets verkeerd gedoen het en Emmie haar uittrap. Carine plaas die pan in die yskas. Sy stap na die agtertuin en gaan sit op die swaai. Stemme dryf uit die huis, maar word deur die suidoos weggewaai. Die geskree bereik ’n crescendo. Daarna klap ’n deur en Nelia se hakke kletter op die teëls na haar kamer.

      Carine sien deur Nelia se venster hoe sy haar kaste oopruk. Sy gooi wild klere in tasse. Dit is asof sy deur ’n bomenslike krag gedryf word. Toe Nelia uit haar kamer stap, draf Carine om die huis. Nelia gooi haar tasse in haar studentekar. Sy verdwyn ’n paar keer in die huis voordat sy die kattebak toemaak. Sonder om om te kyk, klim sy in en klap die motordeur toe.

      Carine kyk rond, bang Emmie sien haar indien sy na Nelia toe stap. Sy sluip om die motor en klop teen die vensterruit. Met Nelia was sy nooit voor op die wa nie. “Waarheen gaan jy?”

      Nelia draai die venster af. Carine sien haar oë is rooi gehuil. Sy het Nelia nog nooit sien huil nie. Nie eens toe Hettie dood is nie. Dit moet erg wees! Nelia kyk halfblind na haar. Sy skakel die motor aan. “Ek gaan ander werk soek.”

      “Wat van my?” Carine se onderlip bewe. Eers het Adri sommerso weggeraak. Nou is Nelia op pad.

      Nelia wys met haar kop na Villa d’Este en na Emmie aan die bopunt van die trappe. “Ek is jammer, Carine, ek kan jou nie saamvat nie. Emmie sal goed vir jou sorg. Ek sal nooit vir jou ’n ma kan wees nie. Ek het te veel ideale om te verwesenlik om mooi na jou te kyk. Buitendien, ek het nie geld om vir jou te sorg nie. Kyk mooi na jouself. Ek sal jou bel,” sê sy. Sonder ’n verdere woord los sy die koppelaar.

      Carine hardloop vir ’n rukkie met haar vingers klouend aan die oop venster. Sy los die motor toe Nelia versnel en staan met haar arms langs haar sye en kyk hoe die kar in die laning verdwyn. Sy draai terug. Emmie kom na haar toe aangestap. Sy kom sit op haar hurke voor Carine en omhels haar. Hierdie keer glip Carine se arms nie om haar nek nie. Sy is beslis nie meer haar redder nie. Emmie is nou die heks wat Adri en Nelia weggejaag het.

      “Nelia wil so ’n rukkie haar eie ding gaan doen … nes Adri. Jy hoef nie bekommerd te wees nie. Ek sal goed vir jou sorg.”

      Carine hoor die desperaatheid in Emmie se stem. Sy wéét met ’n kind se onbewustelike intuïsie dat Emmie daarna smag om ’n kind te hê. Maar Carine het nog nooit so alleen gevoel nie. Sy wil nie by Emmie bly nie. Sy wil by haar susters wees.

      11

      “Waarom juis nou?” skree Adri teen die wind in terwyl sy oorhaastig oor die rotsstrande van L’Agulhas, Afrika se mees suidelike stranddorpie, struikel-stap. Op Frans beteken dié dorpsnaam Kaap van Naalde. Vandag brand vuurwarm naalde in haar gemoed – veel seerder as die skrape aan haar bene wanneer die soutwater daarteen spoel. ’n Digte mis, vol soetsuur alikreukelreuke, krul om haar toe sy die hoogste rotspunt uitklim en oor die see uitkyk. Sy weet onder die oënskynlik onversteurbare seemantel lê vele skeepswrakke vol eeue oue geheime. So min soos die see sy geheime kan prysgee, kan sy haar geheim bekend maak.

      Sy is swanger.

      Die doktersuitspraak voel soos ’n doodsvonnis. Emmie se woorde is bewaarheid – of kry haar vloek bloot ge­stalte?

      Adri stut haarself teen ’n rots. Die malende waters trek haar nader soos ’n magneet. Haar kop draai met die verbysterende wete: sy is swanger, swanger, swanger.

      Die jong dokter was nie simpatiek nie. “Is jy getroud?” het sy met ’n opvallende blik na haar ringvinger gesê. Sy het iets uitgestotter oor ’n voornemende huwelik, maar sy kon sien die dokter glo haar nie. Sy het volgens ’n kalender die baba se waarskynlike geboortedatum bepaal. Adri was drie maande swanger.

      Die dokter het ’n paar pamflette oor swangerskap en geboorte aan haar oorhandig. “Is jy hier met vakansie?”

      “Ek woon voorlopig op L’Agulhas,” het sy huiwerig gesê.

      “Ek wil jou oor ’n maand sien.” Daarmee was die besoek afgehandel. Sy moes kontant daarvoor betaal. Met die terugplaas van haar beursie in haar handsak het sy gewonder hoe sy die besoeke ses maande lank gaan bekostig. Indien sy nie eens die doktersbesoeke kon bekostig nie, hoe kon sy ’n baba op haar eie onderhou?

Скачать книгу