Kringe in 'n bos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kringe in 'n bos - Dalene Matthee страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Kringe in 'n bos - Dalene Matthee

Скачать книгу

      

      Dalene Matthee

      KRINGE IN

       ’N BOS

      Tafelberg

      VIR LARIUS,

      AMANDA, TONI

      EN HILARY

map_kringe.tif

      1

      Kort ná sonop is hy aan die rand van die Bos en hy kry die karige plankgeboutjie sonder veel gesoek. Hy klop en wag. Die ou bruinman wat kom oopmaak, skrik en staar hom ontsteld aan.

      “Baas Saul?”

      “Ek kom leen die geweer, Maska.”

      “Die geweer?” vra die oue agterdogtig. “Om wat te maak?”

      “Ek het besluit dat Terblans nie Oupoot sal skiet nie. As iemand dit dan moet doen, sal dit ek wees.”

      Iets soos paniek maak ou Maska se klein swart ogies wild. “Jy? Jý gaan hom skiet?”

      “Ja.”

      “Nee!” Dis ’n smeking om genade; hy steek sy hande voor hom uit en skud sy kop. “Nie jy nie. Asseblief, baas Saul …”

      “Leen my die geweer.”

      “Maar ek het net twee koeëls!” skiet hoop die ou man binne. “En niemand in hierdie bos sal vir jou ’n enkelte koeël bysit nie, hulle sal jou nie help nie, baas Saul.”

      “Twee koeëls is genoeg. Het jy kruit?”

      “Dit lyk vir my die rykmanslewe het jou kop saf gemaak!” ruk ou Maska hom skielik op. “Lyk vir my jy vergeet lat Oupoot Oupoot is! Lat al die slim van al die olifante …” Hy bly stil en staan ’n oomblik verbyster. In sy desperaatheid het hy die verbode naam gebruik en hy probeer dit vinnig regpraat: “… lat al die slim van al die grootvoete saam in sy kop sit. Laat Freek Terblans hom kom skiet en laat dit klaarkom.”

      “Gee my die geweer. Freek Terblans sal hom nie skiet nie.”

      “Baas Saul …” Die ou man slaan weer oor na pleit. “My hande het geweer gedra vir die Engelsman wat die slag hier kom grootvoete skiet het. Ons was vier man wat alles moes dra en as die een geweer leeg geskiet was, had ons die volgende een gelaai en reg vir die vat …” Saul weet die ou man probeer tyd wen deur te praat. “Ek het in my lewe nie ’n man gesien wat kan skiet soos daardie man nie, hy had grootvoete in ’n ander land ook geskiet … Maar toe kom draai die wind en ons staan onderkant die koei en toe sy storm, toe’s daar nie tyd vir goed of sleg skiet nie, toe’s dit net skiet! Weet jy hoe lyk ’n grootvoetkoei met ’n kwartpond lood in die long? Nee, jy weet nie. Weet jy hoe sy klink? Hoe sy die wêreld uitmekaar skeur terwyl sy in haar eige bloed versuip? Nee. Maar my oë het dit gesien. My ore het dit gehoor. Toe sy die bloed eers deur haar slurp begin spuit, was dit of sy blind word van woede en die Engelsman skree ons moet laai, maar ons kan nie …”

      “Want julle sit in die bome en die gewere lê op die grond,” maak Saul vir hom die storie klaar. Toe hy ’n kind was, het hy ou Maska dit dikwels hoor vertel en altyd agterna die vreeslikste nagmerries gekry waarin dit hy was wat voor die bebloede woede moes uit en nie kon nie. Elke keer het hy in doodsangs wakker geskrik en hom met die wete getroos dat die Engelsman tog daarin geslaag het om die ou koei met ’n hartskoot te verlos.

      “En sy was nie eers amper so groot soos Oupoot nie,” voeg Maska waarskuwend by.

      “Leen my die geweer.”

      “Jy kan dit nie loop doen nie!”

      “Jy mors my tyd, Maska!”

      “Moenie dit van my vra nie, baas Saul. Toe almal in hierdie bos jou wou stenig, het ek vir jou gepleit.”

      “Dankie. Net jammer dit het nie gehelp nie,” sê hy spottend. “Ek dink as hulle kon, sou hulle Freek vra om my ook sommer te skiet.”

      “Dis nie nou tyd vir daardie klas praatjies nie! Draai om en loop klim op die skip – jy’s te lank al nie meer een van onse mense nie, baas Saul.”

      “As jy nie vir my die geweer gee nie, sal ek een op die dorp loop kry. Maar Terblans sal Oupoot nie skiet nie, dit sê ek jou nou vir die laaste keer.”

      “Jy was van altyd af eiewys en annerster.”

      “Nes julle.”

      “Wat?”

      “Toe maar. Gaan jy vir my die geweer leen, of moet ek teruggaan dorp toe om een te kry?”

      “As ek vir jou die geweer gee,” sê ou Maska radeloos, “sal jy my dan belowe lat jy by Gert Oog sal loop probeer om ’n paar koeëls te kry?”

      “Dit sal nie nodig wees nie!” keer Saul ongeduldig. “Watter kant toe is hy? Oupoot?”

      Die ou man haak eers die koeëlsak en kruitbus tydsaam van die draadhaak af. “Hulle sê hy skuil Homtini se kant toe,” sê hy amper onhoorbaar. En toe hy die geweer aangee, is daar ’n stil hovaardigheid in sy houding.

      Minute later loop Saul Barnard die Bos in en dit voel vir hom hy loop agteruit in homself in. Die feit dat hy op pad is om Oupoot, koning-olifant van die Bos, te skiet, voel onwerklik en terselfdertyd die mees onvermydelike daad van sy lewe.

      Die vorige dag nog was hy aan boord van die Pictor. Die driemasbark van 450 ton het, seile opgerol, stuurboordkant teen die houtkaai vasgemeer gelê en hy het aan die bakboordkant gestaan en die oorkantste oewer van die meer bespied … Was die gevoel van onrustigheid wat hy nie kon afskud nie, ’n voorgevoel wat hom wou waarsku dat die verlede nog nie heeltemal klaar was met hom nie? Nee. Dit was die haas in hom om weg te kom.

      Gister. Die luggie uit die suidooste was ’n lafenis ná die bedompigheid van sy kajuit. Wes, waar die see deur die gat tussen die koppe kom, het die branders wit geskuim oor die rif en die gety die groot uitgestrekte meer binnegebring tot waar klein kabbels teen die houtromp van die Pictor kom aanklots het.

      Twee spierwit seevoëls het laag oor die meer aangevlieg gekom; hy het hulle met sy oë gevolg tot waar hulle met ’n wye sirkel bokant die grootmas kom draai het soos klein wit seile wat van die maste losgekom het. Hy het hulle egter nie op hul noordwaartse vlug gevolg nie, maar sy rug gekeer gehou op die bedrywighede van die dek en die kaai.

      Dit was ’n warm dag.

      Drie varke, ses bokke, ’n klompie hoenders en ’n paar makoue het gehok en vasgemaak op die kaai gewag om gelaai te word: kos vir die lang vaart Engeland toe. Sterk hande en ratse voete het die varswatervate teen die laaiplank opgerol; regs van hom op die dek het ’n matroos seewater oor die vate met die botter en pekelvleis gegooi om dit koel te hou. Alles moes wag vir die hout om klaar ingelaai te word voordat dit in die ruim kon af.

      Toe ’n sweep dorp se kant toe klap, het hy geweet dis nog ’n swaargelaaide wa met hout uit die Bos. Geelhout-dwarslêers. Venyn het in hom opgeskiet en die ongeduldigheid in hom aangeblaas. Vier dae lank was hulle al aan die laai, van lig tot donker, en die haas om weg te kom, het in hom opgelaai soos die hout in die skip se ruim. Hy was die eerste passasier wat aan boord gegaan het en daar was ’n dringendheid in hom om teen die boegreling te

Скачать книгу