Kies die lewe. Solly Ozrovech

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Kies die lewe - Solly Ozrovech

Скачать книгу

      

      Kies

      dieLewe

      366 Dagstukkies

      Solly Ozrovech

      Lux Verbi

      Januarie

      Gebed

      Hemelse Vader,

      hier aan die begin van ’n nuwe jaar, kom ek na U toe, die Almagtige en Alwyse, wat van die begin af ook die einde sien.

      Voordat ek op die nuwe onbekende pad gaan, moet ek bely dat ek alleen veilig sal wees as U met elke tree my hand vashou.

      As die pad voor my donker lyk, laat my in die lig van die geloof verder gaan.

      As te veel vir my oog verborge is, laat my getrou bly aan dit wat ek wel weet en sien.

      As ek nie my bestemming in die verte kan bespied nie, laat my dankbaar wees vir die enkele tree wat ek wel kan sien.

      As ek u wese nie kan begryp nie, laat my kinderlik-vertrouend vashou aan u beloftes.

      As dit my soms aan geloof ontbreek, laat my nooit die liefde en die hoop verloor nie en, Here, kom my ongeloof tot hulp.

      As ek nie insig in u plan met my het nie, laat my dit in gehoorsaamheid nie bevraagteken nie.

      As ek hierdie jaar suksesvol is, hou my dankbaar, nederig en ootmoedig.

      As teleurstelling en mislukking op my wag, bewaar my van wanhoop.

      Of my drome en ambisies bewaarheid word en of my ideale tot as word in my hande – dierbare Vader, hou my vas in liefde en leer my dat alles ten goede meewerk.

      Maak my blymoedig in die nuwe jaar.

      Ek bid dit in die Naam van Hom wat deur sy dood dit vir my moontlik gemaak het om die lewe te kies – Jesus Christus, my Here en Verlosser.

      Amen.

      1 Januarie

      Deuteronomium 30:11–20

      Kies die lewe!

      Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. – Deut 30:19

      ~

      Baie mense het die vermoë verloor om sinvol te lewe. Hulle voer van dag tot dag ’n sleurbestaan. Daar is geen opwindende toekomsverwagting meer nie – die hoop en die vreugde om te strewe na ’n geestelike ideaal het gesterwe.

      Maar Christus het belowe: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Ons het deur sy verdienste die genade ontvang om vol en ryk te lewe; om liefde te gee; om skeppend te bestaan; om deur groei nuwe dimensies van die gees te ontdek en deur geesteskrag van die wêreld ’n beter plek te maak.

      Om Christus te kies, is om die lewe te kies. Hy omskep die alledaagsheid van ’n kleurlose bestaan in bruisende lewe en die lewe word in Hom ’n opwindende avontuur.

      Christus is die wesenlike verskil – Hy maak alles nuut. Hy is die Gewer van die oorvloedige lewe. Hy leer jou om só te lewe dat jy vry word van ’n doellose bestaan en op jou beurt weer ’n geur versprei wat lewe wek.

      Here, leer my om só te lewe dat elke dag sinvol sal wees, dat ek die oorvloed kan ken van ’n lewe – die lewe wat ek in Christus gekies het – tot u eer alleen.

      2 Januarie

      Jesaja 40:27–31

      Die arendsvlug

      […] maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke […] – Jes 40:31

      ~

      Die lewe is vol kleinighede wat heeltemal buite verhouding opgeblaas word. Ons word so maklik vasgevang deur nietighede en ons moontlikhede word beperk deur ’n eng benadering en kleingeestigheid.

      ’n Positiewe Christen ontvang die genade om uit te styg bo irritasies deur te berus in die teenwoordigheid van die lewende Christus. Dit is onmoontlik om kleinlik en bevooroordeeld te wees as die liefde van Christus jou hart, jou gedagtes en jou lewe in beslag neem.

      Om die liefde van Christus uit te leef, beteken om verhef te word tot die hoogtes waarop ons hemelse Vader begeer dat al sy kinders sal leef.

      Wat ook al jou omstandighede is, moet nooit toelaat dat kleinlikhede jou so opeis dat jy die geestelike werklikhede miskyk wat diepte, betekenis en doelgerigtheid in jou lewe bring nie.

      Deur bewus te word van God se teenwoordigheid, is jy in staat om die lewe in perspektief te sien en om dié dinge te onderskei wat werklik belangrik is. Dán vlieg jy met arendsvlerke.

      Dankie, Here, dat ek van U die krag ontvang om met arendsvlerke bo kleinighede uit te styg.

      3 Januarie

      Matteus 28:16–20

      Hy is altyd by jou

      En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. – Matt 28:20

      ~

      Die lewe vereis soms van ons om aanpassings te maak. Een van die moei­likste aanpassings om te maak, is wanneer die kring van be­kendes en geliefdes kleiner word namate hulle die een na die ander wegval en jy omring word deur afsydige onbekendes. “Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde” (Pred 1:4).

      Jy moet daarteen waak om morbied en bitter te word, of in selfbejamme­ring te versink. Om in jou eensaamheid te kan aanpas by ’n nuwe tydvak, vereis van jou groot verdraagsaamheid, veral teenoor die nuwe geslag. Gun aan hulle die geleenthede wat jy gehad het, waardeer hul doelgerigtheid, hul eer­like bedoelings en hul ywer vir dit waarin hulle glo.

      Versoen jou met die feit dat dit wat wás, tot die verlede behoort en alleen van waarde is as dit in die hede dien om die toekoms te besiel. Vertroetel jou mooi herinnerings, maar moenie toelaat dat dit jou aan die verlede vasketting nie.

      Daar is tog waardes wat nooit verander nie: geloof, hoop, liefde en bo alles, Jesus Christus, wat altyd dieselfde is, tot in alle ewigheid. In dié wete, kry jy die krag om by enige omstandigheid aan te pas en nog tot sy eer te leef.

      Onveranderlike God en Vader, ek dank U vir al die mooi herinnerings wat U my gun. Maar ek vertrou ook op U vir die onbekende toekoms.

      4 Januarie

      Spreuke 16:1–9

      ’n Onfeilbare lewensplan

      Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. – Spr 16:3

      ~

Скачать книгу