Kies die lewe. Solly Ozrovech

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Kies die lewe - Solly Ozrovech

Скачать книгу

u wil vir my lewe sal ken.

      18 Januarie

      Lukas 9:23–27

      Geestelike ondervoeding

      Wat help dit ’n mens as hy die wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan. – Luk 9:25

      ~

      Elke mens wil graag iets met sy lewe bereik; hy wil die bevrediging smaak dat hy nie verniet gelewe het nie. Daarom stel hy vir homself doelwitte en werk met die inset van al sy kragte vir die verwesenliking van dit wat hy as essensieel vir sy sukses beskou.

      Hy versamel alles wat geld en sosiale prestige hom kan bied: ’n steeds groeiende inkomste verhoog sy gevoel van sekuriteit; vriende wat hom kan help om sy doelstellings te bereik en aan hom toegang verleen tot die regte sosiale kringe, word vir hom steeds belangriker.

      Desnieteenstaande gebeur dit so dikwels dat mense wat alles bereik het en oorlaai is met die goeie dinge wat die lewe kan bied, nog onvergenoegd is. Hulle word toenemend bewus daarvan dat hulle iewers iets van kardinale belang misgeloop het.

      Wanneer besittings en alles waarvoor materialisme staan, vir ’n mens be­lang­riker geword het as God; wanneer stoflike dinge vir jou belangriker geword het as geestelike waardes; wanneer ’n balansstaat belangriker is as inte­gri­teit en eer­likheid; dán ly jy aan geestelike ondervoeding.

      Geen mens wat God uit sy lewe weglaat, kan waarlik suksesvol wees nie. Maar as jy geestelik ook groei tot volwassenheid in Christus, leer ken jy die ware betekenis en doel van die lewe.

      Dankie, Here Jesus, dat U dit moontlik gemaak het dat u Heilige Gees sin en betekenis aan my lewe gee en my die vermoë gee om dié dinge te onderskei waarop dit werklik aankom.

      19 Januarie

      Efesiërs 3:14–21

      ’n Heerlike waarheid

      Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. – Ef 3:16

      ~

      Die rykdom wat ’n lewe in God bied, oortref jou wildste verwagtings. Wanneer jy voel dat jy tot oorlopens toe vervul is met sy liefde, vrede en krag, krap jy nog maar aan die oppervlakte van die goudaar van sy genade.

      Die enigste ding wat jou kan weerhou van ’n ryker ervaring met God, is jou eie onvermoë om dit te ontvang. Die grootste gawe wat jy van God kan ontvang is ’n steeds groeiende hunkering na Hom. Dit klink soos ’n teenstelling: as jy God ken, ervaar jy sy volheid, en juis in hierdie vervulling setel die begeerte om Hom steeds beter en meer intiem te ken. Dit is wat die Gees van God in jou lewe doen.

      Dit is nie maar net ’n vlietende emosie wat op jou neerdaal wanneer jy godsdienstig voel nie. Dit is ’n konkrete daad van geloof in die krag van die inwonende Gees van Christus juis wanneer dit voel asof die lewe dreig om uitmekaar te val.

      Jy moet jouself gedurig daaraan herinner: “Christus leef deur sy Gees in my!” Mettertyd sal jy volkome sekerheid hê en vanuit sy krag leef. Daar lê jou innerlike krag en sterkte. Loof die Here daarvoor.

      Hoe sal ek U ooit genoeg kan dank, Here, dat u Gees in my kom woon het. Gee dat ek dit sal laat blyk in die omstandighede waarin ek leef en werk.

      20 Januarie

      Psalm 8:1–10

      Selfvertroue

      U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. – Ps 8:6

      ~

      Die Bybel leer op baie plekke dat hoogmoed en verwaandheid voor God sonde is. Maar ’n mens kan ook na die ander kant toe sondig: jy kan te min van jouself dink. Jy vergelyk jouself so maklik met ander en dink: Ek is nie só slim nie; ek is nie só sterk nie – of só mooi, só begaafd soos daardie persoon nie.

      Sonder selfvertroue kan geen mens positief en konstruktief leef nie. Jy kan nie jou Godgewilde taak uitvoer nie.

      Dink maar aan Josua wat, ná Moses se dood, die byna bomenslike taak gekry het om God se volk te lei. Hoe sou hy die volk kon aanvoer as hy hom gedurig met sy voorganger, die imposante Moses, vergelyk het? Hoe sou hy die volk die beloofde land kon inlei as hy net altyd gedink het: Ek is nie so ’n groot figuur soos Moses nie. Hy was ’n leier, ’n profeet, ’n Godsman soos daar nog nie vóór of ná hom was nie. Hoe kan ek, Josua, in sy skoene staan?

      Maar God het hom gedurig aangemoedig: Wees jy net sterk en vol moed …

      Dit moet vir enige mens rede tot selfvertroue wees – nie omdat hy dink hy is so besonders nie, maar omdat hy glo dat God self sy taak aan hom gegee het. Daarmee saam gee Hy ook die krag en die moed en die selfvertroue om dit uit te voer: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Ps 18:30).

      Barmhartige Vader, wys my deur u Heilige Gees wat my taak is en gee my in genade die vertroue om dit tot u eer uit te voer.

      21 Januarie

      Jakobus 1:19–27

      ’n Gewillige oor

      […] dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister. – Jak 1:19

      ~

      ’n Wyse man het gesê: “’n Mens het twéé ore en één mond sodat jy twee maal soveel moet luister as wat jy praat.” Die meeste mense vind dit makliker om te praat as om te luister. Hulle voel verleë in oomblikke van stilte en probeer dit met niksseggende woorde te vul. As ons nie mekaar se stiltes verstaan nie, sal ons ook nie mekaar se woorde verstaan nie.

      Die Skrif leer ons dat daar ’n tyd is om te praat en ’n tyd om stil te bly. Om die fyn ewewig hiervan te ontdek en toe te pas, is ware wysheid. Om maar net stil te wees, is nutteloos. Ons moet konstruktief stil wees en dit beteken om intelligent en begrypend te kan luister.

      Dit geld veral in ons verhouding met God. Gebed is nie ’n monoloog van my kant nie. Ek moet leer om na God te luister sodat my gebed ’n opheffende en besielende tweegesprek tussen my en my God word. As jy die vermoë ont­wikkel om in die stilte na God te luister, sal jou innerlike oor sy stem opvang en jy sal gereeld en met verwagting pleit: “Praat, Here, u dienaar luister” (1 Sam 3:10). Sy wil vir jou lewe sal duidelik word en jy sal meer en meer gevoelig word vir sy stem. Met God in die stilte, hoor ’n mens wonderlike dinge, as jy maar net gewillig is om te luister.

      Here, dankie vir u Heilige Gees wat my leer om te luister. Laat my u stem herken wanneer ek U in die stilte ontmoet en laat die luister na U my hoogste vreugde wees.

      22 Januarie

      Jesaja 59:1–8

      Produktiewe gebed

      Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie. – Jes 59:1

Скачать книгу