Helene de Kock Omnibus 7. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 7 - Helene de Kock страница 3

Helene de Kock Omnibus 7 - Helene de Kock

Скачать книгу

sy weer op die oop strand kom en gaan by die naaste duinpaadjie in, om die dorpie te bereik. Sonder om links of regs te kyk, loop sy na Vuurvliegie toe. En sy aarsel net ’n oomblik om straatop en straataf te kyk, of niemand haar gewaar nie. Maar die straat is leeg, net twee kleuters wat wankelrig op klein fietsies probeer ry. Toe stap sy oor die gras­perk en agterom die huis, waar sy weet ’n groot stoepdek is.

      Haastig klim sy die houttrappe na bo, en toe sy eindelik op die koel, skaduryke stoepdek staan, golf verligting oor haar. Eindelik alleen, dink sy. Heel vakansie nog spook sy om weg te kom van die ander af. Dis of sy hul goedige geskerts nie kan veel nie. Of sy tyd nodig het om te dink, of net sommer te sit.

      Sy kyk op na die takke van die groot denneboom wat byna heeldag deur heerlik skemer maak op die dek. En sy onthou wyle tant Fienie se woorde: “So ’n lekker boom dié. Altemit nie so kosbaar soos die bosbome, die witels en die kershoute en die stink­houte nie, maar nogtans ’n boom-boom. Hy beskut en beskadu en is nes ’n skouer waarteen ’n mens kan huil.” So het dié den dan die boom-boom geword.

      Die dek lê dik van die dooie bruin naalde, sien sy. Hier en daar het die wind ’n oop kol gewaai, maar selfs die twee houtdekstoele is vuil en vol droë blare. Daar lê allerlei opdrifsels teen die toe deur wat die huis binnelei.

      ’n Lus om skoon te maak kom in haar op. Onder op die grond lê ’n paar dooie takke, sien sy, en toe sy dit gaan haal, merk sy dat die blare nog nie heeltemal verdor het nie. Dit sal lekker veegoed wees.

      Sy vee en vee. Haar rug word seer en haar skouers pyn, maar met elke veeg word dit lekkerder. Die hele dek is naderhand skoon en ook die twee groot houtstoele, waarop ’n mens langbeen kan sit. Tóé eers is sy tevrede. En amper gelukkig. Sy gooi die takke weg en teug, hande op die heupe, na asem.

      Sy dink, toe sy in die groot denneboom se digte donker takke opkyk: Net ’n mens-mens soos tant Fienie sou vir ’n boom so lief kon word. Sy en haar amper-kind, soos wat sy Alfons genoem het. Hier het hulle altyd soggens ontbyt geëet en ook smiddae en saans versigtig in een hoek van die dek op ’n skottelskaar vuur gemaak sodat die rokies verby die boom-boom trek …

      Sy gaan sit in een van die houtstoele, krul haar bene onder haar in, laat haar kop agtertoe sak. En haar laaste gedagtes voordat sy wegraak, is soet en salig, en vol van donkeroog-Alfons en sy liewe tant Fienie.

      Die middag verloor sy hitte, word sag skemer toe die man met sy klein wit sportmotor onder die dak stilhou en swaarlittig van die langpad uitklim. Hy aarsel ’n oomblik, maar besluit om eers te verken voordat hy kom aflaai.

      Hy is groot en breedgeskouer en hy vee ’n paar maal moeg met sy hand oor sy gesig en sy donker kop tot waar die steil, sterk hare klam in sy nek krul. Toe loop hy eers óm die huis, skigtig soos iemand wat vreemd is. Maar by die houttrap huiwer hy nie, klim ligvoets boontoe.

      Op die dek gaan hy staan en sy mond sak oop in verstomming. Hy sien die skoon dek en vir Danien, waar sy soos ’n kind slaap met haar hand onder haar wang. Emosie kom en gaan op sy gesig. Sy groot bruin oë gaan tastend oor haar mooi gevormde liggaam in die kort strandjurkie, die blink rooibruin hare wat los om haar kop lê en die sagte, weerlose mond.

      “Danien …” sê hy, maar dis klankloos asof sy keel toegetrek het.

      Hy bly besluiteloos staan, maar sy oë bly op haar. Later sug hy en kyk op in die boom-boom se swartgroen donkerte en ’n frons trek op sy voorkop saam. En dit bly daar asof ’n diep kommer hom gepak het.

      Só sien Danien hom toe haar oë oopgaan en sy vir ’n oomblik verlore om haar rondkyk – ’n kort oomblik waarin sy tot haar sinne geskok word. Want sy herken hom oombliklik: Alfons. Net so effentjies vreemd lyk hy in die langbroek en wit hemp. Hier het sy hom nog altyd net in stranddrag gesien. Selfs na die houtkerk toe, Sondae, dra die jong klomp langbroek en dagrokkies, en laas was hy ewe sedig langs tant Fienie en het hy nie gelyk soos nóú nie.

      Wat is anders aan hom? vliet dit deur haar kop. Niks tasbaars nie. Niks sigbaars nie. Net ’n vreemd-volwasse aura wat haar be­koor en bang maak. Sy moet ’n roerinkie gemaak het, want hy kyk skerp af en sy mond trek in die óú bekende, effense laggie.

      “Hallo,” sê hy in sy diep, mooi stem.

      “Hallo, Alfons,” groet sy nietemin bedaard, self verbaas om te hoor dat haar stem funksioneer. En toe beduie sy met ’n skraal hand om haar rond: “Ek het net kom kyk hoe dit nog hier lyk en toe vee ek sommer ’n bietjie … dit … dit was so vol dooie naalde … enne …”

      “Toe word jy moeg en raak aan die slaap?” Hy lag sag en hou ’n hand na haar uit. Só natuurlik doen hy dit dat sy sonder aarse­ling haar vingers daarom vou, en sy skrik eers toe hul palms styf teen mekaar druk en hy haar nader trek om haar ligweg op haar voorkop te soen.

      “Hallo, Danien Fouché,” sê hy formeel, en toe sy nie ’n woord uitkry nie: “Om te dink ek het al ophou glo in ’n goeie fee, en kyk nou net, my stoep is skoon.”

      My kop kom tot net onder sy ken, dink sy, maar sy sê koelweg: “O, maar dit is ’n verligte fee dié, want ek reken ek het my kwota vir vandag gedoen.”

      Hy buig sy kop effens om haar reg in die oë te kyk, en die frons is terug op sy voorkop toe hy sê: “Ek wonder … Hoe verlig is jy werklik, mooi Danien?”

      Sy lig haar ken. Daar was ’n uitdaging in sy stem. Meer as dit: ’n oproep. Tot wat? wonder sy. Maar sy glimlag.

      “Verlig genoeg om my eie kop te volg, Alfons.”

      “Tot jy hom stamp?”

      Sy wil haar vererg, maar daar is iets in sy direkte blik, in sy hele houding wat gespanne wag op haar antwoord, en sy sê sag: “Nee, ek is verby die storm-en-drang, Alfons. En ek is nie meer ’n kind nie.”

      “Ek weet dit,” val hy haar amper ongeduldig in die rede. “En ek sien dit. Jy het ’n vrou geword, Danien. Maar dis nie wat ek jou gevra het nie.”

      Dit kan tog nie wees nie, dink sy verstom. Ons het so pas weer ontmoet ná jare se skeiding, en binne minute het ons gesprek verdiep tot dié tussen twee mense wat mekaar intiem ken. Maar was dit dan nie altyd so nie? Sy en hierdie man het ’n woordelose verstandhouding gehad sedert die dag dat hy haar bewend van vrees by die rotspunt kom haal het en op sy rug verder gedra het.

      Sy kyk op na hom en weet: Ek het ’n grondelose vertroue in hom. Ongegrond dalk ook, want veel meer as ’n paar insidente en ’n diepgesetelde intuïsie het ek nie. Ek weet met my hart dat ek hom kan vertrou …

      “Danien?” por hy dringend, asof hy bang is die oomblik sal vergaan voordat hulle klaar gepraat het. En hul gesigte is dig by mekaar toe sy hom antwoord.

      “Ek is nie onbesonne nie, Alfons. Ek volg my kop solank as wat ek weet dis reg so.”

      “En as jy nie vir seker weet nie?”

      Sy staar hom aan. Dis of die hele dag, die hele vakansie afge­stuur het op hierdie oomblik en hierdie vraag. Dit verwar haar, maak haar opnuut bang. Dis asof Alfons al die óú, ingewikkelde kwessies van die lewe in hierdie enkele vraag bewoord het en by haar, Danien Fouché, die antwoord wil hê. Een magtige antwoord wat rus en vrede sal bring.

      “Ek kan nie sê nie!” roep sy onthuts uit. “Ek was nog nooit in ’n situasie wat ek nie geweet het nie!”

      ’n Sekonde nog bly sy gesig so intens gekweld, en toe versag sy mond, en hy raak ligweg aan haar wang.

      “Toe

Скачать книгу