Nina en die wacky hare. Elizbè van der Colff

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Nina en die wacky hare - Elizbè van der Colff страница

Nina en die wacky hare - Elizbè van der Colff

Скачать книгу

tion>

      

      Nina en die wacky hare

      Elizbè van der Colff

       Illustrasies deur Chris Venter

      Tafelberg

      Vir my super-oulike dogtertjie, Cara.

      EvdC

      Ek dra hierdie boek op aan Ouma Leen,

      wat gereeld my hare deursoek het vir

      goggas met daai kammetjie.

      CV

      1

luis_3.psd

      Die solder

      “O, hierdie plek is spooky!” sê Nina toe haar kop deur die opening in die solder verskyn. Sy klim versigtig in en kyk om haar rond. Haar oë knip totdat sy gewoond is aan die skemer.

      Die vertrek is gepak met ou meubels waarvan die meeste met lakens toegemaak is. ’n Paar bokse staan rond. Alles is deurmekaar. Spinnerakke hang aan die dakbalke. Nina vryf haar kaal arms – sy voel skielik koud.

      Jessie, reeds binne, loop vol bravade deur die vertrek. “Ag, is jy al weer bang? Ek wed jou ons gaan iets hier kry, iets wat ons kan verkoop vir ons entrepreneursprojek.”

      “Ons sal vinnig aan ’n idee moet dink vir die projek, ons tyd raak min, Jessie,” sug Nina moedeloos. “Juffrou Morkel het juis weer vandag so aangegaan daaroor. ’n Mens sou dink die entrepreneursprojek was háár idee …” Iets kielie haar wang. Sy vryf daaroor en vee vies ’n spinnerak weg.

      “Ja, man, vier dae is báie tyd. Ons sal aan iets dink. En ons gaan die beste punte in graad 5 daarvoor kry!” sê Jessie met meer selfvertroue as wat sy behoort te voel. “En daai prys vir die wenner!”

      “Ja, ja, maar as ons nie opskud nie, gaan Ciska sowaar die Xbox wen! Ek het gehoor sy is al goed aan die gang. Ek het probeer uitvis wat sy gaan doen, maar sy wil niks sê nie.” Nina vryf haar neus. Dit voel of sy wil nies. “Juffrou Morkel is darem maar suur – ek dink nie ek het haar al een keer die afgelope week vandat sy in Juffrou Steenkamp se plek is sien glimlag nie,” sê Nina.

      “Ja, ek dink ons doop haar sommer … Morpot!” giggel Jessie. Sy kyk om haar rond. “Dalk is iets hierbo weggesteek wat sommer baie werd is, soos in miljoene rande … ons moet dit net kry.” Sy snuif. “Atiesjoe!” nies sy van die stofwolk toe sy die naaste laken van ’n homp aftrek.

      “Jessie, die goed hierbo is nie antiek nie, net oud. Dis niks werd nie. Niemand by die skool sal hierdie goeters wil koop nie. In elk geval, dit ruik soos vrot ertjies hierbo!” Sy hoor ’n ritseling agter haar. “En hier is definitief rotte,” ril Nina terwyl sy begin terugstap na die solderopening.

      “Eina!” gil sy toe sy oor iets struikel en val. Van waar sy op die grond op haar maag lê, sien sy tussen ‘n stoel se pote iets blink. “Hier’s iets …” sê sy en steek haar hand uit om dit op te tel.

      “Wat’s dit?” vra Jessie terwyl sy die voorwerp by Nina neem. “’n Sleutel?”

      “Dis vasgebind aan iets,” merk sy op toe die sleutel se toutjie styftrek toe sy daaraan pluk. Versigtig loer die twee maats agter die stoel.

      “’n Kis! ’n Regte egte skatkis! Jippie, ons het ’n skat gekry!” dans Jessie.

      Ook nuuskierig bestudeer Nina die kis, wat agter die stoel staan waaraan die sleuteltjie vasgebind is. Dit is ’n outydse houtkis. ’n Paar houtinsetsels voel grof onder haar hande en haar vingers maak patrone in die stoflaag op die deksel toe sy daaraan vat. “Kom, sluit gou oop, hier is die sleutelgaatjie!”

hoofstuk%201a.TIF

      “So, hier is jou wonderlike skat!” lag Nina toe sy die klomp hoede binne-in sien en van hulle begin uithaal. Daar is ’n gekraakte spieël aan die binnekant van die deksel. Die een helfte van haar gesig lyk effens hoër as die ander kant toe sy daarin kyk. Sy giggel en steek vir haarself tong uit. “Wonder wie s’n dit is, of liewer was, die goed lyk stokoud.”

      “Ek het geen idee nie. Dit moes seker die vorige eienaars van die huis s’n gewees het. My pa het mos eers die naweek die nuwe trapleer na die solder ingesit, so dis beslis nie ons s’n nie,” sê Nina.

      “Ja, ek het nooit eens geweet julle het ’n geheime kamer hierbo nie. Wonder wat van die ou trap geword het? Hier moes tog een of ander tyd een gewees het.”

      “Jy kan my eet as ek weet. Vandat ek kan onthou was dit maar so.”

      Jessie haal ’n swart-en-rooi pet uit die kis en sit dit skeef op haar donker hare. Sy loer vir haarself in die gekraakte spieël.

      Nina, nou meer gerus, begin ook grawe tussen die hoede en sit vir haarself ’n rooi gebreide mus op. “Jessie, kom ons maak ’n haarstalletjie vir ons projek – ’n stalletjie met goeters wat jy in jou hare kan sit. Soos knippies, rekkies, jels, sjampoes …” sê sy, terwyl sy vat-vat aan haar lang, blonde hare wat onder die mus uitsteek.

hoofstuk%201b.TIF

      Toe Jessie nie antwoord nie, loer sy na haar. Jessie sit steeds tjoepstil voor die spieël en staar na haarself. Haar oë is wyd oop en dit lyk nie of sy weet wat om haar aangaan nie. Vir Jessie om langer as vyf sekondes stil te wees, is voorwaar uitsonderlik.

      “Jessie!” Nina pluk aan haar arm, maar Jessie staar steeds soos ’n pop voor haar uit.

      “Ag, sies man, Jessie, hou op grappies maak!” Sy begin haar onder die arms kielie. Gewoonlik kan Jessie ’n gekielie nie verduur nie, maar nou staan sy roerloos.

      Nou bekommerd, gryp sy Jessie aan die skouers en begin haar skud terwyl sy gil: “O, jittetjie! Jessie!”

      Van die geskud val Jessie se pet af. Skielik knip-knip Jessie haar oë en kyk om haar rond asof sy vir ’n oomblik verlore is.

      “Hei, is jy oukei?” vra Nina, nou verlig dat Jessie darem weer by is.

      “Huh? Ja, toemaar, Nina, moenie stres nie, ek’s oukei!” Jessie lyk nog steeds dromerig.

      “Wat het met jou gebeur? Dit het gelyk of jy op ’n ander planeet was.”

      “Amper so iets, ja. Jy sal nooit raai wat gebeur het nie … dis so weird!” sê sy met pieringoë.

      “Wat? Wat? Sê … ek het my doodgeskrik – ek dog jy’s dood of iets.” Nina voel aan Jessie se voorkop. “Is jy seker jy voel nie siek nie?”

      “Nee, ek’s doodreg, maar ek dink nie jy sal my glo nie. Jy sal maar self moet sien,” sê Jessie geheimsinnig.

      “Wat sien?” Nina begin wonder of Jessie nie iewers die kluts kwyt geraak het nie.

      “Dit het gebeur die oomblik toe ek in die spieël kyk … maar ek sê niks verder nie. Jy moet self sien,” sê Jessie vasberade.

      Nina sug moedeloos. Uit ondervinding weet sy dat as Jessie eers iets besluit het, sy baie moeilik van plan verander. Jessie sal nie vertel nie.

Скачать книгу