Wie met vuur speel. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wie met vuur speel - Deon Meyer страница 6
By R1 500 gee die akademikus ook die stryd gewonne, en R200 later ook die Jood. Die afslaer kyk half teleurgesteld na die bieër agter die pilaar om die bod op hom toe te slaan, maar dan lig Ragel haar hand.
Die afslaer se gesig verhelder en die vertrek bruis.
Pilaar bie voort en hulle neem die prys verby R2 000. Mense fluister harder.
“Wys jouself, jou lafaard,” prewel sy as Pilaar steeds vir haar gesigloos bly.
Sy en Frikkie het die prys van elke boek op die inkopielys deeglik bespreek. Hulle het ooreengekom dat sy nie met meer as R100 verby hul ooreengekome perk sal gaan nie. Frikkie het gedink dit sou nie sinvol wees om meer as R3 000 vir die Du Toit te betaal nie.
“Tweeduisend vyfhonderd,” sê die afslaer met groot lekkerkry. Die toeskouers se koppe draai van Ragel na die onbekende koper, asof hulle ’n tenniswedstryd volg. Dis of hulle bang is een van die twee gaan bes gee.
Teen R2 900 vererg Ragel haar vir Pilaar. Weet hy wat die waarde van die boek is? Of is dit ’n amateur wat skielik koopkoors gekry het? Niks is so skrikwekkend op ’n veiling as wanneer ’n ryk amateur met professionele kopers begin meeding nie.
Die omstanders voel haar spanning aan. As die prys deur die grens van R3 000 bars, begin ’n klompie spontaan hande klap.
Dan beweeg Pilaar effens. ’n Oomblik lank sien sy die man se profiel en grys pak.
“R3 150.”
“R3 200.”
“R3 250.”
“R3 300.”
Die afslaer het nou sy oordrewe kalmte verloor en sy stem styg effens met elke bod.
Ragel kook van binne. Die man weet nie wat hy doen nie. Hy gaan die hele koop verongeluk. Sy weet Frikkie gaan bitter ongelukkig wees. Maar hy sal nog meer teleurgesteld wees as sy ophou bie.
“R3 500.”
Dit is asof Pilaar nie meer die spanning kan verduur nie. Hy tree agter die pilaar uit om Ragel beter te kan sien, maar sy is nou te woedend om eens in sy rigting te kyk. Jy het beweeg, lafaard, dink sy. Die einde is nou naby. Sy maak haar gereed vir die nekslag.
Maar dit wil nie kom nie.
“R3 600.”
“R3 650.”
“R3 700.”
“R3 750.” Ragel staar reguit voor haar uit. As sy die mal man ignoreer, sal hy dalk net verdwyn. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe hy elke keer net sy kop effens knik om die prys nog ’n kerf op te stoot.
Verbete dink sy: Ek kan aanhou, my vriend. Kan jý?
Dan skiet die prys deur R4 000.
“R4 100,” sê die afslaer, weer met ’n tikkie teleurstelling in sy stem.
Pilaar kyk af grond toe om te wys dat hy klaar is. Die skare mor. Die afslaer se skouers val. Hy slaan die bod op Ragel toe.
2
Ragel is besig om die tjek vir haar aankope uit te skryf wanneer die man skuins agter haar kom staan.
Sy kyk nie om nie, want sy weet dit is hy. Sy gee die tjek aan die afslaer se assistent agter die lessenaar en kry haar dokumente vir die boeke. “Baie geluk,” sê die middeljarige vrou. “Die Du Toit is ’n wonderlike werk.”
“Dankie,” sê Ragel. Wanneer sy omdraai, is die man nog daar. Hy is langer as sy, groot en fors in sy grys pak. Sy kyk op in sy gesig en besef sy ken hom van iewers.
Hy glimlag. “Mag ek vra wie dit is wat my onder die tafel ingebie het?” vra hy en sy blou oë is bakens. Ragel is nie voorbereid op sy hartlikheid nie.
“Het jy geweet wat die boek werd is voor jy soos ’n besetene te kere gegaan het?”
Onder die welige snor verbreed sy glimlag. “Is jy kwaad vir my? Ek was nie daarvan bewus dat ek oortree het nie.”
Sy vriendelikheid maak dit vir haar moeilik om kwaad te bly, maar dit irriteer haar dat sy nie weet van waar sy hom ken nie. Boonop het hy soos ’n regte amateur gebie.
“Ek dink dit is ’n oortreding as ’n mens nie deeglike navorsing doen voor jy jou op ’n professionele terrein waag nie. ’n Veiling soos dié is nie ’n plek vir amateurs met geld om te mors nie.”
Hy lag hardop. “Goed, goed, ek is skuldig. Mag ek pleit om versagting van vonnis, edelagbare?”
Een van die afslaers se mense het haar aankope netjies verpak en staan nou reg om dit motor toe te dra.
“Nee,” sê sy vir die grynslaggende man voor haar en stap deur toe. Sy weet sy het pas redelik kinderagtig opgetree, maar nou wil sy net daar wegkom.
“Vierduisend eenhonderd rand?” sê Frikkie verstom.
“Ek weet, Frikkie. Wat sou jý gedoen het? Wees bly jy kan die boek in jou hande vashou.”
Hy skud sy kop ongelowig en prewel weer die bedrag. Dan kyk hy van die boek af op. “Weet jy glad nie wie hy is nie?”
“Ek weet ek het hom al gesien. Onlangs. Iewers.” Sy sien weer die gesig voor haar. Dit is nie net sy bekendheid wat haar pla nie. Daar is ook iets anders . . .
Hoekom reageer sy só? Die man is aantreklik met sy dik blonde hare, oë van asuur en vierkantige kakebeen. Maar wat is dit wat haar terselfdertyd so afstoot? Sy grinnik? Die vel wat so intens bruingebrand is?
“Dis sy houding,” sê sy hardop aan Frikkie, wat besig is om elkeen van die nuwe aankope soos minnaresse te leer ken; hy hoor haar skaars.
Ragel weet dit is sy seksualiteit. Blatant, openlik. Selfversekerd.
“Ons sal net ’n bietjie langer moet wag voor ons ’n wins kan maak,” sê Frikkie.
“Ons sal hom tog nooit weer sien nie,” sê sy.
“Hoe nou?”
Sy skrik uit haar gedagtegang. “Jy is reg. Dit bly ’n goeie belegging.”
Ragel se kantoor is met ’n groot glasvenster van die res van die winkel geskei – nadat Frikkie by haar aangesluit het en hy haar ou lessenaar in die winkel gekry het. Terwyl sy alles kan sien wat aangaan, gee dit haar terselfdertyd privaatheid met telefoonoproepe. Sy maak die glasdeur oop en sê oor haar skouer: “Mevrou Kemp kom vanmiddag in en ek het nog nie eens gekyk wat ek vir haar wil aanbied nie.”
Dan maak sy die deur agter haar toe en gaan sit by die lessenaar. Sy trek die aankopeboek nader en vul die jongste besonderhede in. Haar gedagtes dwaal weer na haar optrede by die veiling.
Sy wil haar reaksie teenoor die man rasionaliseer. Sy het lanklaas ’n sinvolle verhouding met ’n man gehad. Is sy só uit oefening? Of is dit die