'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank. Nico Nel & Uys van der Hoven

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank - Nico Nel & Uys van der Hoven страница 3

'n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank - Nico Nel & Uys van der Hoven

Скачать книгу

sieklik en kranklik geword het en te swak was om al die pligte op die vier plase te behartig. Hulle het voormanne aangestel om op die plase te boer en verder het hulle stewige beleggings teen goeie rente gemaak. In die bank in ’n aparte kluis het ’n groot klomp Rembrandt-aandele gelê wat Johannes toentertyd al gekoop het toe hy reeds ’n welgestelde man was en ene Rupert aandelekapitaal nodig gehad het vir ’n sigaret-onderneminkie wat hy wou begin. Die sertifikate is nou sulke geel, met vulpen ingevulde dokumente, maar is elektronies al menige keer verveelvoudig. Hulle groot rietdakstrandhuis voor by die see op Hermanus, met al die antieke meubels in, het hulle jare laas besoek.

      Hulle was sommer baie welgestelde mense, maar helaas kinderloos, ’n klein, onbenullige feitjie wat nie ongesiens by die twee oumense se broers en susters se kinders verbygegaan het nie. Hoe ouer oom Johannes en tante Gertruida geword het, hoe liewer het die volgende geslag familie vir hulle geword. Hoe sieker hulle geraak het, hoe meer het die kinders in hulle siektes belanggestel en gereeld vir die dokter gevra wat die prognose is. As die dokter sê dit lyk goed, het die een wat praat die mondstuk van die telefoon toegedruk, omgekyk na die angstige luisteraar, gewoonlik die eggenoot of ’n werklose volwasse seun, en die skouers opgetrek. Hulle wou net die beste vir die twee oumense hê.

      Hulle liefde vir die twee pragtige bejaarde mense het nie perke geken nie en ’n filantropiese waansin jeens die twee gryse, uitgeleefde mensies het van hulle besit geneem, soms ten koste van hulle eie minder kapitaalkragtige ouers. Hulle kon net nie genoeg gedoen kry in die tyd tot hulle beskikking nie. Hulle het angstig saam met die dokter gewag op die bloedtoets-uitslae en by hulle eie dokters of kinders wat in die mediese beroep is gevra wat beteken die tellings. Hulle het nie geweet hoe hulle oor ’n telling van vyftien moet voel nie, of hulle bly of bekommerd moet wees nie.

      Hulle het Johannes en Gertruida se prokureur van tyd tot tyd gebel en met ’n sagte, bekommerde stem gevra of al die administrasie darem in orde is en gesê dat as daar iets, ja, werklik enigiets is waarmee hulle kan help, die prokureur maar net moet skree, geen moeite sal te veel wees nie. Die boekhouer is ook daarop gewys dat hy te eniger tyd maar net op hulle nommer kan druk. Hulle het probeer hulpvaardig klink. Presies hoe dit klink het elkeen maar geïmproviseer, soos wanneer ’n werker sy baas bel om hom mee te deel hy kom nie werk nie, want hy is siek. Hulle probeer siek klink soos iemand wie se rug seer is. Griep of verkoue is makliker om in jou stemtoon in te bou, maar ’n maagaandoening is die moeilikste.

      Hulle het, tot hulle ontsteltenis, nie geweet wat Johannes en Gertruida se testament bepaal nie. Hierdie onsekere, twyfelagtige ding het aan hulle almal, en daar was sewe van hulle, begin vreet tot op die grens van ’n obsessie. Toe Johannes eendag sy liefde vir diere verklaar en in dieselfde asem ’n organisasie noem wat omsien na mishandelde diere, het hy uit verskeie oorde gehoor watter skelm spul hulle is en hoe roekeloos hulle geld mors, om nie eers van die korrupsie te praat nie!

      Hulle het mekaar met ’n mate van agterdog begin be­jeën en ’n ongesonde onderlinge wedywering het posgevat. Hulle was bang die effe seniele oumense doen iets onverantwoordeliks. Hulle het skaamteloos begin veg om die twee se guns. ’n Ongekende deernis en liefde vir die twee brose oumensies het by die een klomp opgewel saam met hulle suspisie en mistrouigheid teenoor die ander broers- en susterskinders.

      Die een susterskind het hulle Saterdae gehelp om inkopies in die dorp te gaan doen. Eers het sy ’n bussie en twee rolstoele gehuur en saam met hulle by die winkel ingegaan. Sy het die een se rolstoel gestoot en haar opgeskote seuntjie die ander een. Sy het die seuntjie aangemoedig en bykans verplig om hulle Oumie en Oupie te noem – troetelnaampies vir twee lieflike oumense “vir wie ons baie lief is en hulle vir ons”.

      Die ander een het Sondae padkossies gepak en kniekombersies oor die twee oumensies se knieë gegooi in ’n ander gehuurde bussie waarmee hulle die twee liewe bejaardes op ritte geneem het die kontrei in en na hulle plase toe. Dit het Johannes goed gedoen om sy diere en oeste te sien, maar dit was soms onafwendbaar dat hulle heel toevallig ook dooie diere gesien het, afgebrande weiding, ’n stukkende dam of ’n trekker wat in ’n dam ingeloop het en daar laat staan is. Dit het die oumense hewig ontstel, ’n ontsteltenis wat die bestuurder wat per ongeluk op daardie droewigheid afgekom het, fyn in die truspieëltjie dopgehou het vir tekens van ontsteltenis wat kan uitloop op verdere verval. ’n Ander een het die uitgeleefde paartjie se albums geneem en al die ou foto’s uitgehaal en dit deeglik chronologies in pragtige nuwe albums gerangskik. Sommige ou vergeelde foto’s is oorgedoen en vergroot deur ’n slim kind op die dorp wat baie weet van rekenaars, digitale kameras en moderne drukkers. Voor in elke nuwe album het hy in groot letters laat skryf sodat swaksiende mense dit maklik kan lees: Aan liefste oom Johannie en tannie Truitjie, hiermee die mooi herinneringe van julle pragtige lewens soos saamgestel deur Kobus en Marietjie wat soos julle kinders is. Hulle het ook die vrymoedigheid geneem om so ’n klompie van hulle eie foto’s van hulle as ’n hegte gesin tussen die ou foto’s in te glip, veral waar hulle saam met die ouer paartjie afgeneem was, waarvan daar min was, maar wat reggestel is deur die aankoop van ’n nuwe digitale kameratjie en beplande kuiertjies waar lekker baie foto’s vir die nuwe album geneem is. Veral een foto waar Kobus as jong seun hand om die skouer met oom Johannes staan, is vergroot en neem een volle bladsy in beslag. Die onderskrif wat Marietjie in sierskrif aangebring het, lui: Soos pa en seun. Van die foto’s van die ander broers en susterskinders se kwaliteit was te swak om in die albums opgeneem te word en is weggelaat, veral daardie waar hulle met een van die twee oumense verskyn.

      Tannie Gertruida was die eerste om te sterf. Dit het ’n fanatiese geskarrel in die familie afgegee. Hulle het soos brommers om oom Johannes gekoek en seker gemaak daar word notisie geneem van hulle verdriet. Hulle het met vurige entoesiasme die reëlings vir die begrafnis getref, blomme gekoop en laat rangskik, die begrafnisondernemer gespreek en hom probeer oorreed om ’n sitplek-ordelys vir die kerk op te stel, met hulle langsaan oom Johannes – dit is geweier.

      Toe die een broerskind met oom Johannes in sy motor by die kerk aankom en omstap om die deur vir die oom oop te maak, is daar reeds vyf ander om hom voor te spring om oom Johannes se hand te vat en saam hand aan hand met hom die kerk in te stap. Twaalf ywerige, oopgesperde hande word by die oop motordeur ingedruk en tas binne-in die kar rond op soek na ’n ledemaat van oom Johannes, veral een van sy hande, want dit sal beteken dat hy nie weer daardie hand sal los voordat hulle in die voorste ry reg voor die kansel gaan sit vir die gedenkdiens nie. Toe oom Johannes hulle wegwaai om op eie stoom uit te klim, val hulle so effe en onwillig terug soos ’n rugbyskrum as die skeidsregter beduie hulle moet ’n groter gaping tussen die voorrye los, maar toe hy uit is, sak hulle op hom toe en raak plein kommin en stamp mekaar skaamteloos weg om besit van die eerste prys. Dat hulle pakke of stywe rompies aanhet, skrik hulle nie af nie en hulle gryp en klou soos ’n trop hiënas aan Johannes asof die oom ’n stuk vleis is wat geëet moet word vir oorlewing. Groot wit sakdoeke word dramaties tydens die diens uitgewapper en trompetterende snuite beklemtoon hulle verdriet wanneer Johannes hulle kant toe kyk. Vingers wat voor die diens in ’n bietjie Tabasco gedoop is en waarmee ongemerk aan die oë gevat word, sorg vir ’n mooi stroom trane.

      Toe Johannes alleen in die dorpshuis moet sien kom klaar ná Gertruida se dood het die wederhelftes van die hoopvolle potensiële erfgename self geen steen onaangeroer gelaat om sy lewe vir hom op te kikker nie. Hulle kon nie genoeg koeksisters aandra nie – dit was ’n ope geheim dat Johannes baie lief is vir koeksisters. Die stroom kaartjies wat Johannes deur die pos ontvang het, was dik en gereeld op die herdenking van enigiets waaraan die potensiële erfgename kon dink: op Johannes se verjaarsdag, op wyle Gertruida se verjaarsdag, die herdenking van hulle troudag, Gertruida se sterfdatum, die aankoop van Johannes se eerste plaas, die datum waarop Johannes se stoetram die eerste keer Suid-Afrikaanse kampioen geword het en die instuur van die eerste kanola-oes. Die wed­ywering is om aan Johannes te toon hoe belangrik die datums vir die stuurder van die kaartjie is, soveel so dat dit onthou is. Die datum is onthou juis omdat Johannes so naby aan sy of haar hart is.

      Toe die jongste van die generasie opponente op vyf en veertig swanger raak met, volgens hulle, ’n totaal onbeplande laatlammetjie, en dramaties aankondig dat

Скачать книгу