Sophie en Sophia (Ultrasatyn). Elizabeth Engela

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sophie en Sophia (Ultrasatyn) - Elizabeth Engela страница 3

Sophie en Sophia (Ultrasatyn) - Elizabeth Engela

Скачать книгу

      Haar broers kyk vinnig na mekaar. “Dit was heel toevallig …” begin Josh, maar sy lig haar vinger om hom stil te maak.

      “Niks wat julle twee doen, is toevallig nie. Vir ingeval julle vergeet het, kan ek julle daaraan herinner dat ek sewe-en-twintig is, nie sewentien nie? Ek kán na myself kyk.”

      “Soph,” paai Josh. “Ons is maar net bekommerd oor jou veiligheid. En Derek is tog soos nog ’n broer vir jou. Ons wil maar net seker maak jy’s oukei. Ons het nie bedoel …”

      “Moenie vir my kom ‘Soph’ nie,” raas sy. “Julle drie hoef my nie meer op te pas nie, oukei? Dis wonderlik dat ek drie broers het wat bekommerd is oor my, maar ek sal self regkom,” eindig sy en kyk ergerlik in hulle rigting. Maar nie een van die drie steur hulle meer aan haar nie.

      Derek bekyk die bank wat haar broers sopas teen die een muur neergesit het. “Dink julle nie dit sal beter werk as dit hiér staan nie? Anders mis ’n mens die ongelooflike uitsig,” vra hy en haar twee broers gaan staan langs hom en kyk na die ruimte waarna hy beduie.

      Sophie kyk hom verras aan. “Dankie!” roep sy en gooi haar een hand in die lug. “Dis wat ek ook sê, maar dink jy die twee wil luister?”

      Derek stap nader en tel die bank aan die een kant op. Die spiere op sy arms bult onder die wit T-hemp wat hy aanhet en Sophie se mond word kurkdroog.

      Josh en Chris brom en kla, maar tel die bank aan die ander kant op en saam dra hulle dit tot waar sy dit oorspronklik wou hê. Sophie kyk lankal nie meer na die bank nie, haar oë is vasgenael op Derek se gespierde arms.

      Sjoe, sy onthou daardie arms. Sy onthou die gespierde bolyf. Sy …

      “Sophie?” vra Chris en stap fronsend op haar af. “Is jy oukei? Ons praat met jou en jy is skoon afwesig. Waarna staar jy so?” vra hy en kyk om.

      Sophie knip haar oë. Gelukkig het Derek wegbeweeg. “Ek is fine, net dors. Wat van ’n bier? Ek het spesiaal vir julle gaan koop.”

      Sy stap kombuis toe, maak die yskas oop en druk haar gesig vir ’n oomblik in die koelte. Sjoe, die man gee haar glad gloede.

      Toe sy die bier uithaal, is Derek reg agter haar. Hy vat die drie bottels by haar. Sy vingers raak vir ’n oomblik aan hare en sy ruk haar hand vinnig weg. Die een bottel kantel en hulle gryp saam daarna.

      Dié keer vou sy hele hand om hare.

      ’n Heerlike tinteling spoel oor haar hele lyf en sy kyk op. Derek het ’n effense smile op sy gesig en sy oë vonkel. Die pes, hy het dit moedswillig gedoen.

      Die drie mans sluk die biere vinnig weg. Josh beduie na die klomp bokse wat oral rondstaan. “Moet die bokse almal in die vertrek bly? Is daar nie van hulle wat na jou slaapkamer toe moet gaan nie?” vra hy.

      Sophie kners op haar tande. Sy wil eintlik net van hulle drie ontslae raak sodat sy rustig kan uitpak, maar sy ken haar broers goed genoeg om te weet hulle sal haar nooit los om die bokse alleen te dra nie.

      “Die groot tas en daardie twee bokse kan kamer toe gaan,” sê sy.

      Josh en Chris dra die bokse af in die gang en Derek tel die groot tas op.

      “Dié een?” vra hy.

      Sy knik, haar oë weer op die beweging van sy spiere terwyl hy die tas optel.

      Chris en Josh kom teruggestap en sy loop voor Derek uit met ’n kleiner boksie wat ook in haar kamer moet kom.

      Sy sit die boksie op die tafel neer en beduie na haar bed. “Sit die tas sommer daar neer.”

      Derek verwissel sy hande en lig die tas op, maar om die een of ander rede glip die knip los en val die deksel oop. Sophie onderdruk ’n kreun. Dis die tas waarin sy haar onderklere gepak het. Dat Derek van alle mense dit nou moet sien!

      Derek sit die tas vinnig neer en probeer keer dat nog iets uitval. Sophie kom terselfdertyd nader om ook te keer. Hulle hande gryp saam na ’n bloedrooi kant-en-satynbra. Verbouereerd kyk sy op na hom.

      Die spiertjie in sy wang spring en sy oë word donker. Hy trek sy asem vinnig in en laat los. Die volgende oomblik is sy alleen in die vertrek. Sophie sak op die bed neer. Sjoe! Dis asof die lug om haar steeds sis.

      Dis Derek. Waaroor gaan haar hart so tekere? Sy wag nog ’n paar oomblikke totdat dit voel asof daar weer krag in haar bene is voordat sy opstaan.

      Derek tel bokse op, help skuif die laaste meubels en probeer verstaan wat de hel met hom aangaan. Sophie was nog altyd vir hom soos ’n sussie. Wel, behalwe die aand van die tequila. Toe het hy hom ook vir ’n vlietende oomblik verbeel hy voel iets anders vir haar as broederlike belangstelling.

      Maar toe is sy weg Johannesburg toe en het hy feitlik daarvan vergeet …

      Totdat hy gekonfronteer word met haar bloedrooi kant-en-satynbra. Helder beelde van haar soepel lyf in kant en satyn, en niks anders nie, het onmiddellik voor hom verbygeflits en hy moes ál sy selfbeheersing gebruik om uit haar kamer te stap. As haar broers nie hier was nie …

      “Dankie, julle!” roep Sophie en beduie na haar voordeur. “Maar nou sal ek regkom. Julle was awesome en alles, dankie. Ek weet nie wat ek sonder my boetas sou doen nie.”

      Onwillig beweeg Josh en Chris voordeur toe, hy agterna. “Is jy seker?” vra Chris.

      “Onthou, Derek is net hier langs jou. As jy bekommerd is of nie veilig voel nie, bel hom, oukei? Het jy sy nommer?” vra Josh.

      Sophie sug dramaties. “Ai, julle, regtig?” vra sy, maar haal haar selfoon uit en tik sy nommer in.

      “Jy het haar selnommer?” vra Chris vir Derek. Hy knik.

      Haar broers buk af om haar te soen en sy gee vir elkeen ’n stywe drukkie. “Baie dankie,” sê sy weer.

      Hulle is uit by die deur en dis sy beurt. Soos honderde kere vantevore buk hy ook af vir ’n drukkie. Dié keer huiwer Sophie egter ’n oomblik voordat haar arms vinnig om sy skouers vou.

      “Dankie, ander ouboet,” lag sy.

      Hy lig sy kop op en laat gly die agterkant van sy hand teen haar wang af. “Ek is nié jou ouboet nie, Sophie,” sê hy voordat hy wegdraai. Hy weet nie regtig hoekom hy dit gesê het nie, maar om die een of ander rede is dit belangrik dat sy weet.

      Twee

      “Hallo, is jy Sophie?” vra ’n vriendelike stem.

      Sophie kyk vinnig op en glimlag. Ná ’n paar dolle dae by die werk het sy uiteindelik gister die vriendin van Belinda se ma, die een wat ’n webwerf wil hê, geskakel. Sy wag al ’n rukkie in die koffiewinkel waar hulle afgespreek het om te ontmoet. Dit moet seker sy wees.

      “Ja, ek is. En is ta …”

      Die vrou gaan sit regoor haar. “Nee, o aarde, mens, moet asseblief nie vir my tannie sê nie. Ek is Sophia. Toe ek hoor wat jou naam is, het ek sommer geweet ons sal lekker kan saamwerk.”

      “Nou goed,” glimlag Sophie en hou dadelik van die ouer vrou. Sophia is seker in haar

Скачать книгу