'n Man vir môre. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Man vir môre - Ettie Bierman страница 6

'n Man vir môre - Ettie Bierman

Скачать книгу

sy is bang om die gode te tart, veral as Venus en Mars in botsende bane is.

      “Oud, koud en getroud?” vra Vera weer.

      “Nie eintlik nie,” skerm Cecilia, wetend sy het haar kop in ’n byenes gesteek. Sy ken haar vriendin. Vera gaan aanhou torring en om haar ore zoem, tot sy die korf oopgekrap het en by die heuning uitgekom het.

      “Middel dertigs,” raai sy kortaf.

      Sy staan op, rits haar naweeksak oop en soek haar toiletgoed en kamerjas. “Ek gaan bad, dan is ek vanaand uit julle pad as julle die badkamer wil gebruik.”

      “Melanie se vlug land eers Dinsdag en jy is nie in die pad nie. Jy’s welkom en jy weet dit. Hoe lyk hy?”

      Cecilia loop badkamer toe, druk die prop in die bad en draai die kouekraan oop. “Taamlik aantreklik.”

      “Taamlik of baie?” vis Vera uit. “Is dit hoekom jy ’n koue bad nodig het – om jou hormone af te koel?”

      Cecilia is verontwaardig. “Natuurlik nie! Ek probeer warm water spaar. Geysers gebruik baie krag.”

      Vera skuur by haar verby, draai die warmwaterkraan wyd oop en gooi ’n klomp badskuim in die water. “Waar’s jou styl, Ciel? Moenie so bourgeoisie-middelklas wees nie! Ons is nie kerkmuise nie.”

      “Júlle miskien nie, maar ek is. Ek voel soos ’n bloedsuier om hier te bly en nie eens ’n bydrae tot die kosrekening te kan maak nie.”

      “Waarvoor anders is vriende daar as dit nie is om mekaar te help nie? Annerdag koop jy vir ons kreef en kaviaar en dan is ons kiets.”

      “Waarmee?” vra Cecilia en daar is bitterheid in haar stem.

      “Met die geld wat Steve jou skuld,” antwoord Vera reguit. “Klim in die bad, voor die skuim blus. Ek gaan vir ons elkeen ’n glas wyn haal.”

      “Vyfuur in die middag?”

      Vera is min gepla. “Die Boeing is lankal oor, saam met die mossies. Ongelukkig nie landuit met die vervlakste kaptein Steve de Villiers agter die stuurstang nie. Hy skuld jou duisende, Cielie! Jy het vragte gordyne gekoop, lakens en duvets en als. Al jou meubels staan in sy huis, selfs jou klavier! Gaan jy alles net daar los vir hom en sy skelmpie? Net oor jy te trots is om terug te veg en te gaan vat wat joune is?”

      “Ek wil niks van hom hê nie. Hy kan in sy Boeing klim en maan toe vlieg, vir al wat ek omgee. Ek wil hom nooit weer sien nie.”

      “Wie vermaak jy? Net jouself. Hy sal nie eens weet as jy van honger doodgaan nie, en ook nie omgee nie. Steve de Villiers is ’n selfsugtige drip. Al waaraan hy dink, is om ’n meisie in die bed te kry. Ek is bly jou oë het betyds oopgegaan, voor dit te laat was. Voor hy jou kansel toe gesleep het en verder uitgebuit het. Jy was reg om die verlowing te verbreek, maar jy is te sag met hom. Kry vir jou ’n prokureur en eis skadevergoeding. Dagvaar hom vir troubreuk, geestelike marteling, pyn en lyding, die hele toetie. Hy’s die skuldige party, nie jy nie. Was daar ’n boodskap saam met die ruiker?”

      “Ja.”

      “Om te sê hy is onskuldig, dis ’n misverstand, hy het jou lief, jy moet hom vertrou, ensovoorts . . . ensovoorts?”

      “Min of meer.”

      “Smyt dit weg. Netnou swig jy weer vir sy sob-stories en kry van vooraf seer. Die liefde is blind, maar trou maak ’n vrou se oë oop. Moenie dink jy kan ’n man verander nie – tensy hy nog doeke en ’n babygrow dra.”

      Cecilia lag – die eerste keer in dae. Sy klim in die skuim, wat tot by haar knieë borrel – ’n ongekende luuksheid ná die afgelope paar weke. “Sedert wanneer het jy so ’n vuurvreter en ’n mannehater geword?”

      Vera kom staan bakarm voor haar. “Sedert elke tweede man daarop uit is om my beste pel te misbruik. Ek glo aan reg en geregtigheid. Hoekom moet ’n vroueverneuker skotvry loskom terwyl jy aan die kortste ent trek?”

      “Dankie, vriendin, dat jy in my hoek van die kryt is. Jy is ’n tonikum en ’n onverdiende bonus in my lewe. Maar los dit. Asseblief? Ek het nie nou die krag daarvoor nie. Dit was ’n lang dag, ’n lang pad, en ek is gedaan.”

      Vera bring wyn: vir haar rooi en vir Cecilia Grand Cru met ys in, soos sy daarvan hou. Sy kom sit op die toiletdeksel. “Wat beteken ‘taamlik aantreklik’?”

      Cecilia smoor die sensuele herinnering aan sy arms en breë skouers en hartklop teen haar wang. Daar was ’n vonk tussen hulle . . . En sy weet hy was ook bewus daarvan. ’n Soort chemiese reaksie. Maar hy het waarskynlik ’n vrou en kinders, en sy het buitendien besluit mans is nie die pyn en lyding werd nie.

      Sy lê agteroor en strek haar uit. “Vergeet dit. Ek soek nie ’n nuwe kêrel nie. Ek gaan ’n non in ’n klooster in Tibet word; heeldag na berg Everest kyk en mans uit my woordeboek sny.”

      “ ’n Nuwe kêrel is die beste medisyne vir ’n seer hart. Dalk kan hy sommer vir Steve ook opfoeter, dan is dit twee vlieë met een klap. Het jy vir hierdie Meiring-ou geval, dié dat jy so in sy arms geswymel het?”

      “Is jy laf?” Skuim spat oor die rand toe Cecilia regop sit. “Ek het net liggies aan hom vasgehou, net effentjies, vir ’n oomblik.”

      “Die engeltjies gaan oor jou huil!” waarsku Vera met ’n onderdrukte lag.

      “Ek jok nie. Ek het hom dadelik weer gelos en in die verste hoek gaan staan.”

      Vera lyk skepties. Cecilia kan haar nie in die oë kyk nie. Sy hoop maar haar vriendin dink dis van die stoom wat haar wange so gloei.

      “As jy die man kastig so blitsig gelos het, hoe weet jy van sy muskus-naskeermiddel?”

      “Genade, Vera! Ons was hoe lank saam in ’n boksie van drie meter by drie meter vasgekeer. Ek kon tot ruik hy gebruik Colgate-tandepasta, en sy vrou gebruik Skip-waspoeier vir sy hemde.”

      “Wie sê hy’t ’n vrou?”

      “Ek weet nie, ek raai. Die meeste ouens van sy ouderdom is getroud.”

      “Het hy ’n trouring aangehad?”

      “Ek het nie opgelet nie, want dit het nie saak gemaak nie.”

      Vera beskou haar vriendin onderlangs. Steve was Cecilia se droom-ou, haar trouman vir wie sy gewag het. Die ding in Rome met hom en die ander lugwaardin het haar hard geslaan. Sy was verpletter en het die volgende dag halsoorkop by Lugdiens bedank, omdat sy nooit weer saam met hom wou vlieg nie. Sy wou landuit vlug, Alaska of Ysland toe waar dit dertien maande van die jaar sneeu, haar van mense afsluit en ’n kluisenaar word.

      Maar Vera se intuïsie sê vir haar dis nie kaptein Steve de Villiers wat nou daardie paar olyfgroen oë van Cielie so laat broei nie; haar met so ’n veraf kyk na die muur laat staar asof sy soek wat anderkant lê. Dit gaan oor meer as net die werk by die hotel wat sy verloor het. Iewers is ’n dieper storie, en as sy geduldig is, sal Cielie later met die res van die sak patats vorendag kom.

      Vera proe-proe aan haar wyn en kyk deur die venster na waar ’n ry duiwe op die balkonmuurtjie sit en wag. Dis voertyd – tyd vir die mielies en broodkrummels waarmee Cecilia hulle bederf.

      Cecilia

Скачать книгу