Fluisterliefde. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Fluisterliefde - Ettie Bierman страница 4

Fluisterliefde - Ettie Bierman

Скачать книгу

Waar de joos is Kris? Dis al rustyd, hy moes meer as ’n uur gelede hier gewees het! Coach wil hom moor! Hy wou Kris op die reserwebank gehad het vir die laaste tien minute, dalk opgestuur en getoets het as iemand seerkry. Maar hy’t nooit opgedaag nie. Waar de hel is hy?”

      Beamari frons. “Ek weet nie! Hy’s betyds hier weg stadion toe.”

      “Hoe laat?”

      “Net so ná twee.”

      “Dan moes hy mos al hier gewees het! Moenie vir my sê sy kop het uitgehaak en hy sit vasgeval in ’n kroeg êrens nie. Coach verwurg hom met sy kaal hande! Ek en die res van die span ook as hy ons drop!”

      “Krisjan sal nie so onverantwoordelik wees nie, jy weet dit, Zac. Het jy sy selfoon gebel?”

      “Tien keer! Voicemail, elke vervlakste keer. Daar’s nie nou tyd om weer te bel nie. Rustyd is om – ek moet op die veld kom. Probeer jy, kry die luis in die hande en sê hy beter in rat kom as hy nog ’n kans wil hê om ooit weer hierdie span te haal! Los vir my ’n boodskap as jy hom opgespoor het.”

      Onrus laat Beamari se keel toetrek. Sy maan haar om kalm te bly. Krisjan sal wel ’n verduideliking hê, ’n goeie rede. ’n Verkeersknoop. Motormoeilikheid. Verleggings op die pad. Hy het dalk sy selfoon verloor, of die battery is pap. Enigiets is moontlik. Sy moenie dadelik die ergste verwag nie ...

      Sy gaan aan met die waterbakke en bel elke tien minute. Maar Krisjan antwoord nie en sy hoor elke keer sy lawwe stemboodskap. “Haai, dis Kris. Ek kan nie nou antwoord nie. As ek die Lotto gewen het of as jy ’n mooi girl is, los ’n boodskap en ek sal terugbel.”

      Dis goed om sy stem te hoor – vrolik en vol grappe. Gerusstellend, asof niks verkeerd is nie. Maar ná die derde en vierde keer is dit nie meer snaaks nie. Dit werk op haar senuwees, sodat sy die foon dooddruk voor die res van die boodskap deurkom.

      Hy sou nie ’n bier of iets gaan drink het nie, nie voor ’n wedstryd nie. Hy weet hoe belangrik hierdie wedstryd is, hy sou nie die span in die steek gelaat het nie. Nie sy spanmaats nie en veral nie Coach Cloete nie. Rugby is sy lewe, sy inkomste, sy brood en botter. As hy nie speelkans kry nie, as hy sy plek in die span verloor en sy kontrak nie hernu word nie, is hy in die moeilikheid.

      Daar sal ’n goeie rede wees hoekom hy nie by die stadion opgedaag het nie. Daar sál. Daar móét wees.

      Sy bel weer, twee keer, drie keer. Dan gooi sy die selfoon neer en begin die sementpaadjie tussen die hokke afspuit. Dis beter as sy besig bly, as haar gedagtes nie in ’n maalkolk om en om karring en haar gek maak nie. Sê nou maar ...? Wat as ...? Krisjan sou nie. Of sou hy? Sy wens sy kon wegvlug en wanneer sy terugkom, is alles weer reg, normaal: Krisjan by die huis, op die bank voor die TV, rugbybroekie aan, voete op die koffietafel, selfs met ’n bier in elke hand. Sy sal nooit weer kla hy sit heeldag agteroor en bring nie sy kant nie. Solank hy net terugkom en niks oorgekom het nie.

      Stian kom staan voor Beamari en wys met sy vinger na die stroom water wat teen die skuinste opdam. “Moe mors.”

      “Ja.”

      “Moe maak modder.”

      “Ja ... Ja, ek weet. ’Skies, my liefie. Moe se gedagtes was annerplek.” Sy draai die kraan toe en tik ’n SMS vir Zac: Kris antwoord steeds nie. Bel my as jy iets uitvind. Sy wil Zac se vrou bel. Sy en Keira is goeie vriende en dit sal ontlading wees om haar kommer met iemand te deel. Of haar ma. Maar sy is bang Krisjan probeer deurkom en dan is die foon beset.

      Coach het dalk al iets van Krisjan gehoor, maar sy wil hom nie midde-in die wedstryd onderbreek nie, veral as hy in ’n verkeerde bui is. Sy is versigtig vir die Haaie se afrigter. Coach Cloete ken sy rugby en weet hoe om die beste uit elke speler te haal, maar hy is ’n harde, ontoegeeflike mens. Ook Krisjan is skrikkerig vir hom. Coach is seker die naaste wat hy ooit aan ’n pa sal hê, sy held en ’n rolmodel in wie se voetspore hy sou wou volg as hy dieselfde hoë standaarde kon handhaaf. Hulle is vriende, maar nooit familiêr nie. Sy wil Coach nie pla nie en die Haaie se vermiste slot is seker nie tans sy gunstelingpersoon nie.

      Moet sy aanhou om na Krisjan se selfoon te bel? Dit voel so futiel. Moet sy die polisie of hospitaal bel? In haar bakkie klim en hom gaan soek?

      Beamari hou aan uitstel. Dis kwart voor vyf en die wedstryd is seker nog aan die gang. Hy het dalk intussen opgedaag, is miskien selfs op die veld. Of dalk kom hy nou enige oomblik in ’n stofwolk hier aangejaag, met ’n logiese verduideliking wat sy nie voorsien het nie, dan was sy verniet op hol. Sy kan nie ry en weg wees as hy hier aankom nie.

      Sy gaan in en roep Stian om op haar skoot te kom sit voor die TV. Dalk sien hulle sy pa in ’n skrum of lynstaan, dan kan sy ontspan. Dalk selfs die sjampoe in die stort gaan regsit ... Sy skuld haar man dit. Hy is lief vir haar en hy probeer sy bes, maar die afgelope paar maande was sy afsydig – altyd moeg, altyd met ’n verskoning dat sy nie tyd het nie, haastig is of te veel ander dinge het om te doen. Geen wonder hy was die afgelope tyd selde tuis nie. By die gim, die biokinetikus of sy vriende is daar seker beter geselskap as sy vrou se suur gesig.

      “Huil Moe?” Stian se stemmetjie onderbreek haar gedagtes en Beamari voel hoe sy taai handjie oor haar wang vee. “Het Moe ’n eina?”

      “Nee, dis niks. Sommer hooikoors.” Sy is hartseer en vol selfverwyt en het nie besef die trane loop nie. Huil is nie goed vir haar moreel nie en dit ontstel vir Stian. Beamari vryf oor haar oë sodat sy behoorlik kan sien wat op die TV-skerm aangaan.

      Daar’s ses minute speeltyd oor en Billy Daniels en JP is die twee slotte. Krisjan is nie daar nie. In ’n agtergrondskoot kan sy sien hy sit ook nie op die reserwebank nie.

      Beamari roem haar daarop dat sy selfstandig en onafhanklik is, met ’n eie loopbaan wat sy aan die opbou is. Maar op hierdie oomblik voel sy hulpeloos en alleen en verlang sy na haar man, na haar ouers.

      Haar pa was van kleintyd af altyd daar as sy bang was vir ’n eksamen, vir die tandarts of die dag toe sy vir haar rybewys getoets is. Toe haar blindederm uitgehaal is en haar kolliehond doodgery is. Toe sy en Krisjan getrou het en sy ver weg in KwaZulu-Natal moes gaan woon. Hierdie krisis is dalk nog die ergste van almal en sy het haar pa se onderskraging nodig.

      Al het haar keuse destyds nie hul goedkeuring weggedra nie, wil sy bewys dat sy nie ’n fout gemaak het deur met Krisjan Naudé te trou nie. Maar in hierdie krisis sal haar pa moet raad gee oor wat haar te doen staan. Dis gerusstellend om te weet sy is nie alleen nie; haar rotsvaste, bekwame pa is net ’n oproep ver.

      Sy sal Krisjan nog een laaste keer in die hande probeer kry, besluit sy, daarna haar trots in haar sak steek en op haar pa se skouer huil. Dis nie ’n skande nie, dis waarvoor pa’s daar is.

      Die verspotte stemboodskap klink nie weer in haar ore nie. Krisjan se foon lui drie keer, dan antwoord ’n vreemde manstem.

      “Goeiemiddag?”

      Beamari se hart gee ’n ruk. “Wie’s dit wat praat?”

      “My naam is Heinz Dekker, ek’s ’n medic.”

      “M ... medic?” Sy kry met moeite die woord uit.

      “’n Paramedic, mevrou,” verduidelik hy, “ons is op pad hospitaal toe met ’n pasiënt wat ons in Pinetown opgelaai het, ons is nog besig om hom te stabiliseer.”

      Dit maak nie sin nie. Pinetown is heeltemal aan die ander kant van die stad en ver weg van

Скачать книгу