Somersneeu. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Somersneeu - Helene de Kock страница 2
Sy gedagtes draai terug na homself.
Dis eintlik net hy wat nooit werklik lank hiervandaan weggegaan het nie. Graad gekry, ja. Kursusse bygewoon en selfs kongresse en seminare nou en dan om op hoogte te bly van wat in die landbou aangaan. Teësinnig maar ter wille van die saak, want hy hou nie van groot groepe mense nie. Ook nie van lang lesings en ’n gekarring oor allerlei kleiner sake nie. Hy wil plant en oes en leef, dis al.
Sy vrou was wel destyds vir ’n ruk weg. En toe hulle weer bymekaarkom, was sy vol praatjies van die groot stede daar anderkant. Oorsee was nog altyd vir hom gewoon daar ánderkant. ’n Onvoorstelbare plek. Nie omdat hy nie verbeelding het nie, maar omdat hy hom nog nooit wóú indink in ’n ander plek nie. Sy vrou, weer, kon nie ophou praat daaroor nie. Haar oë skitter nou nog as sy dit oproep. Glansende plekke vol wonderlike winkels soos Harrods waar jy gaan tee drink net vir die kicks, soos sy sê. Dit, en ander vreemde gewoontes soos om saam met vreemde mense die koue aande in gesellige pubs om te kuier. Ou kastele en riviere met vreemde name.
Hy skud sy kop verwonderd. Nou ja, so het elkeen sy voorliefdes. Vir hom kry jy nie maklik in ’n winkelsentrum nie en tee drink in ’n duur plek is nie vir hom nie. Sy plek is Afrika se ooptes en berge. Koffie langs sy eie kampvuur op sy eie plaas. Hier waar dit winters en selfs vroegsomers kan kapok dat die werf soos ’n oopgespreide wit deken lyk. En dat die berghange veral in die oggendson soos die lae van ’n outydse troukoek glinster. Hy het al kere sonder tal die hange op gestap en in die dikke sneeu gebuk, met ’n voorvinger die veerligte ysigheid afgeskraap om dit in sy mond te sit en dan te verwag dat dit hemelsoet en met ’n nasmaak van amandel en vrugtegeure teen sy verhemelte sal smelt. Telkens smak hy speels soos iemand wat regtig troukoek geëet het, en lag dan vir homself.
Die sneeutye is nou se dae selfs kwaaier hier op die plaas en tog sal hy dit vir niks wil mis nie. Hy frons opeens. Dat dit deesdae heel ontydig kapok, is ook waar. Hy onthou van ’n onlangse Desember toe hulle een Sondag kort voor Kersfees ryp gehad het. Naaswit, soos uitgestrooide kalk, het dit op die groen gras gelê en die luggie het gesny. Almal by die kerk en op die dorp het daarvan gepraat. Die ou tannies het voorspooksels van kil somers en warm winters gemaak en die middeljariges het net kop geskud. Dis van die jonges wat beterweterig gesê het die klimaat verander mos, mens moet dit seker te wagte wees.
Met dié dat hy gereeld koerant lees, het hy goed van die klimaat se nukke geweet en ook dat dit omtrent die hele wêreld op hol het. Maar hy wou nie daardie oggend te veel kommentaar lewer nie. Netnou moet hy ’n vergadering daaroor bywoon. En vergaderings is nie sy forte nie. Hy woon deesdae net die Boerevereniging s’n by en dis klaar te lank. Hulle het nou die een aand dringend oor die misdaad gesels en toe nogal ook oor waterbronne wat bewaar moet word en so aan. Daarby, het die ouerige voorsitter swaarmoedig gesê, is daar die verandering van reënpatrone wat verskuiwing van plant- en oesdatums sal meebring. Die man het lank en aanhoudend daaroor geteem asof dit nuus is. Toe het hy ook maar liefs stilgebly, bang as hy sê hy dink die mens moet hom by die aarde se geite aanpas, trek hy die kort loot en word afgevaardig om ’n groter byeenkoms met langer en verveliger redes oor die klimaat se streke te gaan bywoon.
Hy sug weer. Hy doen sy deel, sowaar. Wat als betref. Hy het damme gebou. Twee groot plaasdamme wat reën opvang en berg. Hy maak jaarliks voorbrande indien iemand iewers ’n stompie sou gooi of brand stig. Hierdie tyd van die jaar hang die vaal rook soms in die vallei soos wat hulle spook om die voorbrande dood te slaan. Saans glim daar blinkrooi fraiings teen die hange af soos wat die laaste kooltjies gloei. En hy laat indringerbosse en -bome uithaal. Daar is nie ’n enkele bloekom of den of swart wattel op sy plaas wat inheemse spesies se water opsuip nie. Ja, hy weet van bewaring en van biodiversiteit. Hy kan ’n hele paar mense iets daarvan vertel. Maar praat is nie sy styl nie. Hy is ’n doener.
En dan die misdaad. Hy het betroubare mense in diens. Hulle werk al jare hier. Dis hulle plek ook. Die werf is met ’n elektriese heining omring. Daar is ’n alarm in die huis ook. ’n Marnet-radio is in die gang, en hy en al die bure ry gereeld nagpatrollie. Hy is juis bly hy is vannag los, want hy is nogal moeg na die plantery van vandag. Buitendien, hy en sy vrou het al twee selfone. Nie dat hy juis verlief is op syne nie, want dis ’n lastige ding as ’n man oral rondbeweeg. Maar hy kan die nut van so iets insien. Hy haat net die gepiep as daar ’n SMS deurkom, want dan moet hy gedurig na sy leesbril rondtas. Bo in sy hempsak of in sy denimbroek se sak of dit lê iewers buite sy bereik. Hy frons dieper. Mens sou sweer hy’s middeljarig pleks van net skrams dertig. Maar nou ja. Dis soos sy vrou altyd sê. Hy is nie van plastiek nie en hy hou nie van plastiek nie. Goeters en gadgets is nie vir hom nie. Hy leef eenvoudig. Naby die grond. Dié dat hulle hulle nie hoef te bekommer oor hom en sy stukkie aarde in Afrika nie. Hy kyk mooi daarna. Sy werkers weet ook van beter as om plastieksakke of koeldrankblikkies iewers te laat rondlê.
Die slim mense sê dis nie net stories nie, die klimaat verander regtig. Hulle sê mens moet ernstig oor die omgewing begin dink. Hy voel opeens doodtevrede. Dis wat hy doen. Hy dink nie net daaroor nie. Hy is mos midde-in die omgewing waarvoor hy sorg. Dis syne en hy is in beheer. Die vet weet, sý stuk omgewing is groener as groen, sowaar. Noudat groen ook meer as net ’n kleur is.
Hy dink weer aan verlede winter se sneeu. Dit was mooi. Beeldskoon, as dit ’n gesig sou gehad het. Maar dit was hoegenaamd nie amusant nie. Hoër op in die bergwêreld het mense verkluim. Gelukkig nie op sy plaas nie, maar mense van mense wat hy ken. Hy was besonder geseënd dat nie hy of een van sy werkers skade gely het nie. Hy het juis twee winters gelede nuwe sinkdakke op die werkershuise laat sit. Maar dis met die goed wat geplant word dat dit die komende winter kan lol. Daaraan wil hy liefs nie dink nie.
Hy het die sneeu eintlik net geniet. Soos altyd maar.
Soms lag sy vrou bietjie vir hom. Dis nou as hy so half liries raak oor die skoonheid van die wit bergtoppe.
“Jy is ’n patologiese dromer,” sê sy dan.
Hy weet wat sy bedoel, al oordryf sy ’n bietjie. Hy kan heerlik in homself keer hier in sy eie hinterland. Ook háár woord. Daai plaas is jou hinterland, het sy op skool al gesê. Dis jou plek waarheen jy gaan as die wêreld jou druk.
“Dis byna altyd,” het hy toe gesê. Wat waar was. Hy’t so gesukkel op skool dat hy as dom geëtiketteer is. Mense, onderwysers ook, doen dit sommer maklik. Sê ’n kind sukkel as hy net ’n bietjie stadiger as ander kinders ontwikkel. Van wanneer af begin babas almal op dieselfde tyd kruip soos atlete wat wegspring as die skoot klap? Of begin hulle tegelyk te praat soos ’n koor wat sing? Nog nooit nie. Elke mens het sy eie pas waarteen hy of sy ontwikkel. Jy was net bietjie stadiger as ander, sê hy vir homself. Op universiteit het jy fisika en chemie nou wel deurgeskraap – maar kyk nou net vir jou. Hier is jy een van die voorste boere. Hy kry sommer weer van voor af lekker en sy mond pluk in ’n laggie. Net sy vrou en sy paar goeie vriende en vriendinne het hom nooit as dom bestempel nie. Die ander meesal omdat hulle in elk geval ook agteraf as minder begaafd of bepaald lui gesien is, maar ook omdat sy vrou mense sommer terstond kortgevat het daaroor as hulle hul bekke daaroor gerek het. Dit was asof spesifiek sý intuïtief geweet het mense soos hy moet eintlik nie skoolgaan nie. Hulle moet by die huis bly en als sommer net daar leer. Op die plaas, het sy eendag hardop gereken na hy ’n taamlik swak wiskundepunt teruggekry het, is dit sekerlik moontlik.
“Jip,” het hy geantwoord, “ten minste kan ek blessit goed tel. Veral as dit oor my eie goed gaan. Ek weet wat ek het en wat nié.”
“Nou sien,” het sy geglimlag. “As boer hoef jy nie meer te weet nie.”
Hy wonder nou weer of dit dalk die dag was dat hy haar liefgekry het, al het sy twak gepraat. Want hulle was albei verkeerd. ’n Boer moet vrek baie weet. En sorg dat hy met als bybly. Dié dat hy gaan swot het en dié dat hy nou maar inligtingsdae by institute bywoon, lange