Dubbelspel. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dubbelspel - Wilna Adriaanse страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Dubbelspel - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

dis nie dat hulle so slim is nie, die probleem is dat hulle soveel mense op hulle pay-roll het. Hoe lank probeer ons nou al om dit te bewys? Ons is soos ’n klomp molle wat in die donker rondtas.” Sy lig haarself ’n paar keer op haar tone. “En dan het ons nog nie eers begin praat oor die militante groepe nie. Wil jy rêrig vir my sê ons inligting is so ingat dat niemand geweet het iemand soos Samantha Lewthwaite is in die land nie? Álmal weet ons het ’n gewilde plek vir Al-Kaïda, Hamas en Hizbollah geword om rekrute te werf en finansiering te soek, en tog is almal skielik kastig vreeslik verbaas dat iemand op Interpol se rooi lys die land kon binnekom. Dis om van te lag.”

      “Moenie dat ons onsself nou heeltemal depress nie. Wat het ek jou deur die jare geleer? Ons hou altyd die groter prentjie in gedagte, maar dis ook nodig om te kan fokus. En op die oomblik fokus ons eers op Barkov.” Clive beduie na die bord. “Wat sê jou sesde sintuig?”

      Ellie staan weer nader aan die wit bord en druk op Allegretti se naam.

      “Waarom hy?”

      “ ’n Gerug doen die ronde dat hy ’n groot klomp geld op die dobbeltafels verloor het, en met sy uitspattige leefstyl is hy in die knyp. Allegretti senior se gesondheid is nie meer wat dit was nie. Hy is al ’n paar jaar lank besig om sy geld te was. Dis waarskynlik ook die groot rede waarom hulle die klub in Groenpunt gekoop het en weer op die been gekry het. Ek vermoed hy wil op sy oudag minder oor sy skouer kyk. Of Junior sy pa se toekomsplanne deel, is natuurlik ’n ope vraag. As Pappa egter moet uitvind hoeveel geld hy besig is om te verloor, klap sy vrygewige hand dalk toe en Seuntjie sit met niks. Die ou man mag oud wees, maar hy was op sy dag ’n bliksem. Daar was ’n rede waarom hy as jong man Suid-Afrika toe gestuur is. Dinge in Italië het te warm vir hom geraak.

      “Ek vermoed Seuntjie moes baie gou baie geld maak. Met Barkov wat skielik op sy turf speel, gaan dit al moeiliker om sy skuld terug te betaal. Die ou man was nog ’n bietjie old school, en ek dink hy het dalk nog grense gehad, maar dis ’n nuwe wêreld en ek dink die jonge is op die oomblik besig om vir die ou man en die wêreld te probeer wys hy kan dit beter doen.”

      “Waarom dink jy die ou man weet nie wat sy seuntjie aanvang nie?”

      “Die jonger Allegretti betaal waarskynlik ’n paar mense om nie vir sy pa die volle prentjie te gee nie.”

      “Ek hoor wat jy sê, maar my geld is op Williams of Mang. Dis hulle styl. Allegretti het amper te veel finesse vir so ’n ambush.”

      Ellie lag. “Finesse, nogal. Ek het nie geweet jy ken die woord nie.”

      “Ek is nie sommer van hier nie.”

      “In ander omstandighede sal ek ook gesê het dit lyk na Mang of Williams se styl. Selfs Jonathan, maar ons mooi Italiaanse vriend is in die knyp, en dan doen ’n mens snaakse goed.”

      “Ons moet maar onder begin en ’n bietjie op die voetsoldate se case klim. Dalk raak een senuweeagtig genoeg om te praat.”

      Sy gaan sit op die hoek van haar lessenaar. “Dit voel my ons kom net nie voor nie. Die verdomde lêers raak al dikker, maar daar is net altyd ’n gat waardeur hulle kan glip.”

      Voordat hulle verder kan praat, lui Ellie se selfoon. Sy luister ’n oomblik lank.

      “Ek gaan my nie deur hierdie suidooster laat mal waai net om na vae fairy-tales te luister nie. En as jy gedrink het, laat sluit ek jou saam met die 28’s toe.”

      Sy lui af.

      “Vir wie dreig jy nou so?” wil Clive weet.

      “Happy. Hy sê hy het inligting.”

      “Hulle is soms lastiger as gatvlieë.”

      “Is jy nie lus om saam te ry nie? ’n Bietjie vars lug sal jou goed doen.”

      Hy staan op en Ellie neem haar handsak en stap agter hom aan.

      “Hierdie wind is genoeg om ’n mens tot moord te dryf …” Die oomblik toe die woorde uit is, kyk hy na haar. “Sorry.”

      Sy kyk deur die motorvenster na waar ’n klomp papiersakke teen ’n draadheining vasgewaai is. Geel en wit vlaggies. “Vergeet dit. Dis nie asof ’n mens die woord uit die woordeboek kan haal nie.”

      “Ek weet ek kan nie saampraat nie, maar jy moet probeer om nie kwaad te wees nie. Dit gaan jou fokol help. Hy van alle mense het die risiko’s van hierdie job verstaan.”

      “Ek weet, maar kwaad wees is iets om te doen.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Anders sit ’n mens net met hierdie moerse gat in jou, en daarvoor sien ek nie nou kans nie.”

      “As jy vir iets of iemand kwaad wil wees, kan ek vir jou ’n paar name gee. Van regstellende aksie wat mense aanstel en ver bo hulle vermoëns bevorder, tot by die fucked-up regstelsel en, soos jy sê, ons eie departement wat nie meer weet wat in ons agterplaas aangaan nie. En alles tussenin. Die lys is lank.”

      “Sal jy my sê as jy iets hoor?”

      “Oor wat?”

      “My pa.”

      Hy kyk vlugtig na haar. “Dit hang af.”

      Sy antwoord nie. Kyk net na die ander voertuie op die pad. Die verkeer op die N1 is swaar en hulle vorder stadig.

      “Ek kan onthou toe ek ’n kind was, was daar twee spitstye ’n dag. Deesdae lyk dit heeldag soos spitsverkeer. Dis belaglik. Werk die mense nie?” verander Clive die onderwerp.

      “Die kanse is goed dat daar in elke kar ’n laptop en smart phone is. Ons is die mees well-connected mense in die geskiedenis van die wêreld.”

      “As jy my vra, is ons té well-connected. Ek en Ansie is verlede naweek Struisbaai toe. Die eerste keer in amper ’n jaar. Ek wou net ’n bietjie visvang, en stilte om my hê. Die Here hoor my, sy was die hele naweek op haar selfoon. As dit nie met haar ma is nie, dan met haar suster, of ’n vriendin. En as sy met hulle klaar is, bel sy die kinders om te hoor of hulle orraait is. Hulle is te goddank bly om ’n dag of twee alleen te wees, maar nee, sy is op hulle case.”

      “Dit moet moeilik wees om deesdae kinders groot te maak.”

      “Ja, ek kom agter hoe ouer ek raak, hoe slegter slaap ek, veral oor die meisiekind, maar so nou en dan moet mens uit die kinders se hare kom, en dis nie of ons hulle alleen by die huis gelos het nie. Hulle het by pelle gebly. Dis goed dat die kinders soms sien hoe gaan dit in ander huise. Hulle dink mos altyd húlle huis is die slegste en hulle ouers die wreedste. Na so ’n naweek waar hulle ’n slag moes bed opmaak en help skottelgoed was, is hulle weer ’n rukkie dankbaar.”

      Ellie glimlag. “Het julle darem op die ou end die naweek geniet?”

      “Ek het met moeite Saterdagaand die selfoon lank genoeg uit haar hande gekry sodat ons ’n bietjie styf kon lê.”

      Sy lag en kyk na hom. Sy blonde hare is besig om yl te word. ’n Bultjie hang deesdae oor sy gordel en wanneer hulle vir hulle verpligte fiksheidsoefeninge moet gaan, sug hy ’n paar dae lank. Clive is een van die min mense wat sy met haar lewe vertrou.

      Hulle ry onder die brûe in die middestad

Скачать книгу