Abel se dogters. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Abel se dogters - Helene de Kock страница 14

Автор:
Серия:
Издательство:
Abel se dogters - Helene de Kock

Скачать книгу

het vreeslik baie moeite gedoen!” betig sy glimlaggend. “Is dit dan ’n spesiale okkasie as ek kom kuier?”

      “In die oortreffende trap,” glimlag die vrou en haar blik speel liefkosend tussen haar seun en Adelien. Sy skink tee en sny die koek, bied heerlike groot stukke aan. En sy vra uit. Na die plaas, na Abel en na al Abel se dogters. Die name Bernadette en Christelle rol gemaklik oor haar lippe. Henk moes haar vooraf ook weer baie vertel het, besef Adelien. Meer as net die inhoud van die paar kere dat sy self met Sarah daaroor gepraat het. Dat sy en haar leefwêreld ’n warm besprekingspunt tussen ma en seun is, word vir haar algaande al duideliker. Veral toe Sarah versigtig begin uitvra na Christelle se gemoedstoestand. Adelien huiwer ’n oomblik voordat sy antwoord. Maar toe sy eers begin praat, besef sy dat sy lankal hunker na ’n vrou se oor.

      “Wel … dis moeilik om te sê, maar Christelle klink tog nou meer gebalanseerd. Nou die aand toe ons gesels het, het sy ewe entoesiasties uitgewei oor die outjie saam met wie sy matriekafskeid toe gaan.”

      “Het sy al ’n rok?” vra Sarah Verwey.

      Adelien se oë rek verskrik. “Nee …” Sy vee met ’n handpalm oor haar oë. “Liewe aarde tog … ek het nog glad nie eens daaraan gedink nie …” En toe kom die woorde sommer: “Ek weet nie wat dit met my is nie, maar ek dink selde aan sulke praktiese dinge. Dis verkeerd, ek weet, en ek sal moet verbeter wat dit aan betref en …”

      Sarah raak sag met haar vingers aan Adelien se skouer. “Eet eers nog ’n stukkie koek en dan gesels ons weer daaroor. So ’n saak het buitendien twee koppe nodig!”

      Haar rustige stem en speelse woorde kalmeer Adelien en toe sy haar kom kry, smul sy aan ’n tweede yslike porsie en drink ’n paar koppies rooibostee ná mekaar. Sy voel effens ongemaklik daarna, maar ignoreer die gevoel. Henk sit haar met ’n stil glimlaggie en betrag. Dis toe hulle die teegoed agtertoe gedra het en weer kom sit, dat Sarah haar verras met ’n groterige pakkie toegedraai in blomryke geskenkpapier met ’n fraai goue strik.

      “En nou? Ek verjaar mos nie!” lag Adelien.

      “Nee, maar dit lyk asof jy ’n verjaardag nodig het. Maak oop!”

      Adelien se asem slaan weg toe sy die papier oopvou en ’n donssagte, papawerrooi trui daaruit haal. Sy ma het dit self gebrei, vertel Henk trots, klop Sarah saggies op die skouer.

      “Hou jy daarvan?” wil die vrou gretig weet.

      “Ek … is gek daarna …” fluister Adelien en voel bewoë. Wanneer laas het enigiemand, behalwe Anna, ooit vir haar iets gegee met soveel moederlike besorgdheid as hierdie vrou met haar sprekende blou oë nes haar seun s’n? Haar tong wil knoop toe sy weer praat. “Dis … dis ongelooflik mooi … en ek het juis ’n tekort aan so iets in my kas. Hoe kan ek u ooit bedank?”

      “Trek dit aan wanneer jy lus kry, dan is ek tevrede!” glimlag Sarah.

      “Ek sal vir seker!” sê Adelien en staan op om Sarah ’n soen te gee, die trui vasgeklem teen haar bors.

      “Wat van my?” vra Henk onnutsig. “Ek het geduldig die hele, moeisame breiproses aanskou!”

      Adelien gee hom onverwags ’n klapsoen. “En tjoepstil gebly daaroor! Jy is ’n man van vele geheime, lyk dit my!”

      Henk maak plegtig keel skoon. “Dis meer ’n kwessie van talente as geheime. My ma is een van daardie mense wat ’n stuk lap en ’n mooi lyf bymekaar kan bring op ’n wonderbaarlike manier!”

      “Hoe nou …?”

      “Ag, hy bedoel maar net dat ek af en toe ook klere maak,” sê Sarah. “En ek het daaraan gedink om vir jou iets te maak vir julle departementsdinee. Dis nou as jy my sal toelaat … Ek weet dis nog lank voor die tyd maar …” Die vrou kyk so smekend na haar dat sy vermurwe. Al voel dit nou asof dinge so ’n bietjie onder haar uitglip. Asof die beheer van sake uit haar hande geneem word.

      “Ek … hét eintlik al ’n rok,” begin sy maar die teleurstelling lê so vlak in die ouer vrou se oë dat sy haar besin. “Maar ek sal nooit nee dankie sê vir ’n nuwe ding nie!”

      “Wonderlik!” Daar is eintlik kleur op Sarah se wange, so ingenome is sy. “Wag, ek bring sommer gou ’n paar patroonboeke en dan kyk jy of daar iets is waarvan jy hou!”

      Adelien bêre die mooi trui en sit saam met Henk en wag dat Sarah die boeke kry. Hy sug ligweg en sê sag: “My ma kan soms ’n bietjie oorweldigend wees, ek weet.”

      “Miskien,” gee Adelien eerlik toe. “En ek moet sê, dis vir my vreemd om iemand te hê wat so meelewend in my doen en late belangstel.”

      “Verdra dit maar, asseblief,” smeek hy opeens liggeraak en steek ’n hand na haar uit. En Adelien vat dadelik sy vingers vas.

      “Natuurlik. Dis nie onwelkom nie, ek is net ongewoond daaraan.”

      Toe Sarah kom, haar arms vol patroonboeke, staan Henk op en gaan sit voor die televisie. Die vroue blaai en kyk en gesels en op die ou einde geniet Adelien dit baie. Dis laataand toe Adelien eindelik besluit op ’n nousluitende nommertjie met bandjies oor die skouers en ’n kort baadjie daarby. In swart? vra Sarah. Dit sal jou ligte gelaatskleur vlei. Dankie, sê Adelien.

      Dis lekker, dink sy toe sy oplaas in die bed lê. Sarah Verwey gaan dalk nog ’n groot rol in my lewe speel en dis dalk goed dat ons nou al dinge saam doen. Sy raak aan die slaap met ’n gevoel van welsaligheid en skrik haar vroegoggend boeglam toe Keiser en Mietsie in die vroeë oggenduur ’n keel opsit. Sy kom stram orent en neem hulle by die agterdeur uit na die klein agterplasie waarop haar woonstel uitloop, wag bibberend terwyl die hondjies vieserig pote optel op die stukkie gras en uiteindelik doen wat hulle moet doen. Dit voel of sy skaars weer gelê het, toe die telefoon skril lui.

      Dis Anna en sy klink skoon uitasem, praat asof ’n trein haar jaag. “Adie, jy moet kom! Christelle se rok vir die matriekafskeid is iets vreesliks!”

      “Wat … Hoe dan so?”

      “Sy’t vir haar ’n rok laat maak by daai nuwe vrou wat anderkant ou Sieberhage se winkel bly. Ek hoor sy maak al die grênd mense se klere.”

      “Nou maar dan kan dit mos nie te erg wees nie!”

      Anna snuif ergerlik. “Auk! Die toppie is baie klein. Jou pa se sakdoeke is groter. En hy moes baie geld betaal vir amper niks! Ek weet nie hoe gaan ek maak om Chrissie se kop reg te kry nie. Jy moet my kom help!”

      “Wat sê Pa Abel?” vra Adelien, opeens kilnugter.

      “Aag, jy weet hoe praat hy. Net so piep-piep soos ’n kuiken. Chrissie luister nie vir hom nie!” En toe Adelien magteloos swyg: “Jy moet huis toe kom, Adie! Chrissie kan nie met daardie rok matriekafskeid toe gaan nie! Die hele wêreld gaan praat … En jy weet, as die praat eers aan ’n meisiekind vassit, dan was dit nie weer af nie!”

      “Wag,” keer Adelien opeens benoud, “ek moet dink.”

      “Daar’s nie tyd vir nonsies nie,” brom Anna, altyd vies oor ’n getob. “Jy moet kom!”

      Dis Donderdag, dink Adelien. As sy môre ry en Sondagaand terugkom … Anna is reg. Sy sal moet gaan. Buitendien kan sy dan van die hondjies ontslae raak. “Goed,” sug sy en Anna druk haar dit eers weer op

Скачать книгу