Om Amelie se tafel. Elsa Winckler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Om Amelie se tafel - Elsa Winckler страница 2

Om Amelie se tafel - Elsa Winckler

Скачать книгу

sy by tien kom, draai sy om en glimlag. Wel, oukei, sy probeer glimlag.

      “Tot siens, meneer …”

      Hy glimlag en steek sy hand uit. “Chris. Chris Meyer.”

      Sy kyk af na sy groot hand. Sy gaan nie daaraan raak nie. Geen manier nie. Maar dis asof haar hand ’n eie wil het en voor sy haar kom kry, vou sy groot sterk hand hare toe. Iets warms beweeg teen die spoed van lig deur haar hele lyf.

      Sy glimlag word ’n aks minder rojaal.

      Hy laat sak sy hand vinnig en druk dit weer in sy broeksak. “En jy is …?” Die breë glimlag is in plek.

      “Haastig.” Sy stap vinnig terug na haar kantoor.

      Sy het nou genoeg gehad van hierdie Maandag. Eers moet sy hoor die simpel spanboubesigheid is verpligtend, toe verloor sy heeltemal haar cool, kom te laat agter sy word dopgehou en uitgelag deur die wildvreemde man wat haar uitbarsting gadegeslaan het. Chris Meyer. Sy vee die hand waaraan hy gevat het, teen haar romp af. Dis asof dit nog tintel.

      Dis so te sê vyfuur, amper tyd om huis toe te gaan.

      In die kantoordeur steek sy in haar spore vas. ’n Yslike bos lelies staan op haar tafel. Dis die laaste strooi. Met ’n verpletterende kyk in die rigting van die blomme, grom sy en gryp haar handsak.

      “Wat is dit met jou en lelies?” vra Schalk wat haar oor sy bril dophou.

      “As ’n ou na drie dates nie weet ek is nié ’n lelie- en juwelemeisie nie, mors ek nie verder my tyd nie,” brom sy.

      Haar kollega kyk haar geamuseerd aan. “Jy weet die meeste vroumense hou van lelies – ruik net. Gewoonlik sal vroue mal wees oor so ’n groot bos. Jy is die enigste girl wat ek ken wat nie van hulle hou nie. Dis nou al die tweede bos lelies wat jy aangluur. Hulle het jou niks gemaak nie.”

      “Wel, ek is nie soos die meeste vroue nie,” sê Amelie geïrriteerd en stoot haar stoel by haar lessenaar in. Hard.

      Schalk druk sy bril stewiger op sy neus en snork. “Dit kan jy weer sê,” brom hy onderlangs, maar sy hoor hom.

      Vies stap Amelie tot voor hom. “Wel, ek wil dit nie hê nie, jy kan dié bos ook maar huis toe vat,” sê sy en beduie na die blomme.

      “Dankie, maar …” Hy frons en kyk na haar handsak wat oor haar skouer hang. “Waarnatoe gaan jy? Is jy siek?” Hy staan besorg op.

      “Nee, Schalk, ek makeer niks, dis huistoegaantyd,” sê sy kortaf en probeer verby hom loop.

      Die lang skraal man frons nou dieper. “Jy moet koorsig wees, ek is seker daarvan. Vandat jy hier begin werk het, is jy altyd die laaste een wat huis toe gaan.”

      Sy draai ergerlik weg. “Ek het nie koors nie, ek makeer niks, ek gaan huis toe,” kners sy die woorde uit en maak haar uit die voete. As sy nie nou padgee nie, doen sy dalk iets waaroor sy later sal spyt wees.

      Chris kyk die meisiekind agterna en haal sy hand uit sy broeksak. Die ligte skok wat deur hom getrek het toe hy aan haar raak, is vreemd, definitief nuut vir hom. Wat ’n sexy girl, maar sjoe, haar stekels kan ’n mens eintlik op ’n afstand aanvoel. Baie issues, definitief baie issues.

      Met ’n glimlag stap hy tot by die sekretaresse wat voor Joe Botha se kantoor sit. Issues is sy werk. As bedryfsielkundige moet hy gereeld met mense en hulle bagasie werk. Maar wanneer hy speel, wil hy ontspan. En hy sou baie graag bietjie met die juffrou wou speel, maar vir komplikasies sien hy nie kans nie. Daarvan kry hy genoeg by die werk.

      “Doktor Meyer?” vra sy.

      “Ja, ek het ’n afspraak met …”

      Die deur agter hom vlieg oop en ’n lang, vriendelike man wink hom nader.

      “Kom binne, doktor Meyer, kom binne. Noem my asseblief Joe. Ek is so in my skik dat ons jou op sulke kort kennisgewing as motiveringspreker kon kry. Kom sit gerus. Jy wil glo bietjie gesels?”

      Chris gaan sit en haal sy tablet uit. Hy het teësinnig ingestem om hierdie spanbousessie waar te neem toe ’n vriend hom vra. Die kreefseisoen loop ten einde en hy het gehoop om die naweek te gaan kreef uithaal saam met sy broer en swaer. Maar hy het nou eenmaal ingestem en wil dit so goed moontlik doen.

      “Noem my gerus Chris. En ja, ek het ’n paar vrae. Ek probeer altyd so ietsie van die maatskappy en die kultuur verstaan voor ’n spanbousessie. Wat presies doen julle? Kom ons begin daar.”

      “Ons is ’n boetiekfondsbestuurgroep. Eenvoudig gestel, ons besluit watter aandele in ons fondse moet wees en groot beleggingsmaatskappye kan dan van hulle platforms af kliënte se geld in ons fondse belê. Kliënte kan natuurlik ook direk by ons belê. Dis gewoonlik die kliënt wat nie self kans sien om aandele te koop nie wat by ons belê. Ons het basies vier verskillende fondse wat na my beskeie mening baie goed doen.”

      “Het julle al vantevore spanbousessies gehad?” vra Chris terwyl hy notas maak.

      Joe neem plaas op ’n stoel langs hom. “Jong, ja, so twee jaar gelede. Ek was baie skepties oor die idee, maar ons was almal baie beïndruk met die resultate. Ons het in daardie stadium ’n paar nuwe mense in diens geneem en die sessie het baie gehelp om die klomp vinnig deel van die span te maak. Nou het ons weer ’n nuwe werknemer, ’n statistiese ontleder, aangestel. En dis asof daar skielik … ek weet nie, kom ons gebruik die woord ‘spanning’, by gebrek aan ’n beter beskrywing, in die kantoor is. Ons is ’n span van so vyftien mense wat lekker saamwerk. Daar was nog nooit probleme nie, maar ek kom agter vandat die nuwe meisiekind hier by ons begin werk het, is dit asof daar net nie meer dieselfde samehorigheidsgevoel van vroeër is nie. Weer tyd vir ’n spanwerksessie, is my mening.”

      Terwyl hy probeer luister wat Joe nié sê nie, maak Chris ’n paar notas. Dis gewoonlik haakplekke wat tussen die reëls lê wat vir hom insae gee in wat regtig die probleem is. Eers toe kyk hy op. “En jy reken die nuwe werknemer veroorsaak die spanning? Is daar ’n probleem met haar werk?”

      “Nee, glad nie. Dis juis die ding. Sy is uitstekend in wat sy doen, kom vroeg in, gaan altyd laaste huis toe, maar sy meng glad nie met die ander nie. Sy sit heeldag voor haar rekenaar en werk letterlik sonder om op te kyk.” Joe lag. “Jy dink seker dis presies wat ’n mens van ’n goeie werknemer wil hê, en by groter maatskappye werk dit dalk so, maar ons is amper soos ’n familie en só enetjie wat heeltyd eenkant bly, veroorsaak ’n eienaardige dinamika.”

      “Kon jy agterkom hoekom sy eenkant is?” vra Chris.

      “Nee, sy praat glad nie oor haarself nie. Niks nie. ’n Vriend het my vertel van ’n spanbousessie van jou wat hy bygewoon het en dit het my laat dink jy is die regte persoon vir dié een. Ek sal haar regtig nie wil verloor nie.” Hy lag. “Sy was juis netnou hier by my om uit die ding te probeer kom, maar ek het my voet neergesit en net gesê dis verpligtend.”

      Chris glimlag. Nou verstaan hy die voet wat so gestamp is. As hy dit nie mis het nie, is die girl wat hy gesien het en Joe se probleem, een en dieselfde mens. En hy het bevestiging dat sy issues het.

      “Nou maar reg, Joe. Laat kry vir my ’n lys van jou werknemers se name en ouderdomme. Ek sal ’n program uitwerk en vir jou aanstuur vir goedkeuring.” Hy skakel sy tablet af en staan op. “En o ja, miskien ook ’n kort CV van elkeen. Ons sien mekaar oor twee weke.”

      Joe

Скачать книгу