Die Suidwestertjie. Sarah du Pisanie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Suidwestertjie - Sarah du Pisanie страница 5

Die Suidwestertjie - Sarah du Pisanie

Скачать книгу

haar oë voel krap, maar koppig hou sy aan. Sy sal hierdie mandjie korrespondensie afhandel, al kry sy ook môreoggend eers klaar.

      Die gebou raak stil. Sarie loer vinnig op haar horlosie. Dit is lank ná vyf en hier lê nog ten minste ’n uur se werk voor. Die tikmasjien kletter onverpoos. Sy mors tyd, want sy moet telkens iets gaan opsoek. Sy troos haar egter daaraan dat dit van môre af beter sal gaan.

      Halfsewe sit sy haar goedjies bymekaar en stap na die aangrensende kantoor. Meneer Kritzinger het seker sy kantoor deur die buitedeur verlaat, want hy is nie deur die ontvangskantoor nie en alles is stil en verlate.

      Sonder om te klop draai sy dus die deur oop en staan dan verskrik terug met die mandjie in haar hande.

      Hugo sit kop onderstebo by sy lessenaar en werk. Hy is dus ook nog nie huis toe nie.

      “Ek is jammer dat ek nie geklop het nie, maar ek het gedink u is al weg.” Sy lig haar ken beslis, stap kop in die lug na die massiewe lessenaar en sit die mandjie daarop neer.

      Hugo kyk verbaas op en staar haar onbegrypend aan.

      Sarie kyk af na die groot man wat nou so moeg en verwese agter die groot lessenaar vertoon en ’n diep jammerte kom nestel ongevraag in haar hart.

      “Ek hoop dit is reg. U moet maar net sê as ek dit op ’n ander manier moet doen.”

      “Jy hoef nie oortyd te werk nie, juffrou.”

      “Die werk was nog nie klaar nie; ek kon dus nie huis toe gaan nie.”

      Hy sit sy pen neer en leun agteroor in sy stoel terwyl hy haar stil aankyk. Hy het vanoggend gehoor wat sy hom noem. Sou dit die mening van die ander werknemers ook wees? Sou hulle almal dink hy is ’n nors, buffelagtige mens? Die waarheid maak onverwags seer, want hy besef maar te goed dat hy nooit juis oorloop van vriendelikheid nie.

      “Is daar nog iets wat ek moet doen, of mag ek maar gaan?”

      “Dit is al vir vandag, juffrou. Jy kan maar gaan.”

      “Tot siens, meneer Kritzinger.”

      Hy antwoord haar nie, knik net en vryf dan moeg oor sy oë wanneer sy die deur sag agter haar toetrek.

      Dit is al sterk skemer toe sy buite kom. Die windjie waai geniepsig om die hoeke en sy trek die rooi reënjas stywer om haar.

      Sy skuil diep in die skuiling by die bushalte. Nog nooit het sy so laat gewerk nie en sy het dus geen benul hoe lank sy sal moet wag vir ’n bus nie.

      Sarie slaak ’n sug van verligting toe die rammelende bus tien minute later om die draai kom. Dit is onverwags warm en gesellig in die skommelende bus en Sarie voel hoe die dag se frustrasie uit haar sypel.

      Die mooi het egter skielik vir haar uit die lewe verdwyn. Môre gaan nog ’n dag wees soos vandag en so sal dit ’n maand lank aanhou … dalk langer. Daar sal geen grappies met die ander wees nie en sy sal elke dag moet vaskyk teen die nors, stuurs gesig met die swart hare en bruin oë wat haar opsommend en afkeurend sal aanstaar.

      By haar woonstelletjie gaan bad sy dadelik en trek haar wollerige kamerjas aan. Sy maak vir haar ’n glas warm melk en ’n dik toebroodjie met roereier op. Sy het vandag nie juis veel geëet nie en voel die hongerpyne aan haar knaag. Haar kop is seer en sy verlang na haar ma. Sy stap beslis na die telefoon, maar trek dan haar hand stadig terug. As sy nou haar ma se stem hoor, gaan sy huil en dan ontstel sy weer die hele gesin.

      Met ’n boek en ’n piesang vir nagereg kruip sy sommer vroeg in die bed. Sy is vanaand morbied en lusteloos. Die oop boek lê vergete op haar opgetrekte knieë en sy staar na die skaduwees teen die wit plafon.

      Sy wonder wat hom so ’n stugge en onvriendelike mens gemaak het. Hy is nogal aantreklik met sy gespierde liggaam en breë skouers, sy donker hare en oë en die moeë lyne om sy mond. Sal Alice Sullivan met haar swart hare en hovaardige houding hom saans kan laat ontspan en lag? Sal sy ooit toelaat dat hy sy das afhaal en sy voete op haar rusbank sit, of laggend langs hom op die mat kom lê en die moeë lyne om sy mond wegstreel?

      Vererg gooi Sarie die storieboek op die vloer en skakel die lig af. Sy is nou net soos Magda, droom selfs oor ’n norse buffel soos Hugo Kritzinger!

      Sarie is die volgende oggend vroeër as gewoonlik by die werk en op haar pos. Sy stof die kantoor af en stap dan na Hugo se kantoor. Besluiteloos staan sy rond. Sy het geen benul wat haar pligte alles behels nie. Sy sal maar doen wat haar hand vind om te doen, soos haar ouma altyd gesê het.

      Die groot lessenaar met die glasblad word netjies afgestof en sy probeer om die goed daarop so min moontlik te versteur. Hy is pynlik netjies en elke dingetjie staan presies op sy plek.

      Terug in haar kantoortjie gewaar sy ’n skinkbordjie met teegoed en ’n ketel, en onder in die kassie kry sy koffie en tee. Onrustig staar sy daarna. Is sy nou veronderstel om teetyd self vir hom tee te maak?

      Stiptelik halfnege stap Hugo Kritzinger by die kantoor in.

      “Môre.”

      “Goeiemôre, meneer Kritzinger.”

      Sarie gee haar breë, spontane glimlag en Hugo kyk haar ’n oomblik verbaas aan. Wat ’n pragtige, ongekunstelde meisietjie! Hy hoop tog net haar koppie is nie so leeg soos wat sy mooi is nie en dat sy darem die mas sal opkom.

      Sarie draai verleë in die kantoor rond. Sy weet nie of daar al werk gereed is vir haar nie. Dan stap sy beslis na die keteltjie en skakel dit aan. As hy nog nooit in die oggend koffie gekry het wanneer hy inkom nie, gaan hy dit van nou af kry.

      Sy maak koffie en gooi dit in die netjiese, blink warmfles wat sy saam met die ander goedjies op die skinkbord rangskik. Vies kyk sy na die bekertjie met poeiermelk. Net môre sal sy vars melk koop; geen plaaskind sal ooit aan poeiermelk gewoond kan raak nie!

      Liggies tik sy aan die swaar deur en stoot dit stadig oop. Hugo kyk verbaas na haar toe sy die skinkbord stil eenkant op sy lessenaar neersit en dan terugstaan.

      “Is daar iets waarmee ek kan aangaan, meneer Kritzinger?”

      “Ek sal jou oor tien minute nodig hê om briewe af te neem.”

      Hy gaan weer aan met sy skryfwerk en Sarie draai verleë om.

      “E … juffrou … dit is nie nodig dat jy vir my koffie maak nie. Dit is net wanneer ek kliënte het, maar …” Hy kyk op in die groot, blou oë en sluk ongemaklik. Die meisiekind lyk dan nou net soos ’n hondjie wat onverwags ’n skop gekry het. “Dit sal in elk geval baie lekker wees, dankie.”

      Sarie knik en stap by die deur uit. Ingedagte gaan sit sy by haar lessenaar. Wat ’n eienaardige mens, so bot en ongenaakbaar! Sy sug en krap in haar laai op soek na potlode en ’n notaboek.

      Toe die klokkie op haar lessenaar lui, staan sy vinnig op met haar notaboek en potlode in haar hand.

      “Kom, juffrou, kom! Ek is haastig.”

      Sarie sluk die senuweeagtigheid weg. Sê nou net hy dikteer te vinnig en sy kan nie byhou nie? Sê nou maar hy gebruik woorde wat sy nie verstaan nie? Hulle Suidwesters kan nie baie goed Engels praat nie en netnou dikteer hy op Engels – en dan?

      Die regop rug en uitgestote ken verraai

Скачать книгу