Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lang pad na liefde - Amelia Strydom страница

Lang pad na liefde - Amelia Strydom

Скачать книгу

      Lang pad na liefde

      Amelia Strydom

      Hartklop

      1

      Dis dan hoe dit voel om na jou eie teregstelling te stap. Dead girl walking, minus die entourage wagte en die laaste maaltyd van haar keuse. Nie dat sy omgee om dáársonder klaar te kom nie. Selfs die gedagte aan haar gunstelingdisse is genoeg om haar derms te laat draai. Vandat die dagvaarding by haar afgelewer is, smaak alles soos saagsels en lê ’n klont lood haar hele maag vol.

      “Geen goeie daad bly ongestraf nie,” sê Pa se stem in haar kop. “Ek het jou gewaarsku dat jy te bleddie sag is, Anouk. Te sag en te kop in die wolke en te impulsief. Nou’t dit omgedraai om jou aan die gat te byt, sien?”

      Haar eie gat is een ding. Die lewe het haar vantevore ’n paar klappe gegee, en sy het nog altyd opgestaan, haar sitvlak afgestof, en aangegaan. Haarself wysgemaak dat die universe sal sorg, dat ’n mens op die ou end saai wat jy maai. Maar Skyla … Dis oor haar wat Anouk snags wakker lê. Hoe gaan sy vir haar kind sorg as sy nie meer babas kan vang nie? Sy is basies unemployable. Nie ’n roetinedier wat kantoorwerk kan doen nie – sy sal binne die eerste week by haar lessenaar aan die slaap raak van pure verveeldheid en dan die trekpas kry.

      Die klakketie-klak van haar oprygstewels se hakke hou pas met die hartklop in haar keel. Hierdie vergadering is ’n wake-up call; die tyd vir ontkenning is verby. Sy kan ophou hoop dat Marielle-hulle tot hul sinne gaan kom en die klag terugtrek. Hulle soek ’n sondebok – iemand om letterlik en figuurlik te betaal vir hul verlies – en sy is ’n gerieflike teiken.

      Sy sluk-sluk aan die krimpvarkie wat agter haar mangels vassit. Maak nie saak hoe diep sy in haar binneste grawe nie, sy vind nie ’n krieseltjie kwade gevoelens teenoor Marielle of Theunis nie. Wat met hulle gebeur het, is tragies, selfs al is dit hul eie skuld. Nee, kwaad is sy nie. Seergemaak is ’n ander storie. Om te dink Marielle, een van haar beste vriendinne, het haar vir die wolwe gegooi. En dít nadat Anouk uit haar pad gegaan het om te probeer help …

      Vyfmiljoen rand is ’n hoop geld, maar dis nie die eintlike kwessie nie. Geld wat stom is, maak nie als reg wat krom is nie, maar dit sal die lewe met ’n gestremde kind vergemaklik. Sy gun dit vir Marielle-hulle, en dis nie asof sy persoonlik sal moet opdok nie. Dis waarvoor sy versekeringspremies betaal. Maar as sy haar lisensie verloor, of ’n maatskappy nie weer kan oorreed om haar te verseker nie … Flippit, sy wil nie eens daaraan dink nie.

      Aan die bopunt van die trappe trek sy die swaaideure oop en loop met jelliebene by die monster se bek in. Die admin-gang gaap eindeloos voor haar, en tog staan sy heeltemal te gou voor die raadsaal se deur. Diep asemteug, Anouk. This too shall pass. Met inspanning lig sy haar hand om die deur oop te stoot.

      “A, Anouk.” Hanno Oosthuizen, Valsbaai Medilink se hospitaalbestuurder, neem haar aan die arm. “Kom binne, laat ek jou voorstel. Manne, dis suster Viviers, die vroedvrou.”

      Daar is inderdaad net mans om die tafel, ’n spul suits met begrafnisgesigte wat soos een orent kom. Soos ’n zombie skud sy hand na hand. Sy probeer nie eens die name onthou wat Hanno aframmel nie. Aangenaam, bly te kenne, en blah blah blah … Watter twak, niks omtrent hierdie vergadering is lekker nie. Eindelik kom die laaste handdruk aan die beurt.

      “En dit is Rossouw van der Linde, ’n spesialis in mediese reg. Die versekeraars het hom aangestel om jou, die betrokke dokters, en die hospitaal te verteenwoordig.”

      Rossouw van der Linde? Hanno kon netsowel Anouk se vinger in ’n kragprop gedruk het. Die naam – die hand wat om hare vou – stuur ’n duisend volt deur haar lyf. Haar kop ruk so heftig op dat sy byna haar chiro nodig kry. Dis waaragtig hy! Sy skouers span breër onder die staalgrys baadjie, sy bolyf getuig van ’n gim-kaartjie wat gereeld benut word, maar andersins lyk hy nes sewe jaar gelede. Dieselfde soen-jou-van-jou-voete-af-mond, dieselfde vermetele grinnik, dieselfde blonde wegstaankuif. Om van sy oë nie te praat nie. Blou soos by die branders se breekplek, met ’n donkerder ring om sy irisse. Oë wat sy beter as haar eie ken, wat sy elke dag in Skyla se gesiggie herken.

      “Hallo, Anouk.” Selfversekering drup uit elke lettergreep. Die herontmoeting het hom dus nie onkant gevang nie. Anders as sy, was die boggher voorbereid daarop.

      Haar mond is droër as kitssoppoeier en haar tong sukkel om sy naam te vorm. “Ro … Rossouw.”

      “Ken julle mekaar?” vra die hospitaalbestuurder.

      “Ons het ontmoet,” antwoord Rossouw. “Jare gelede.”

      Ontmoet? Anouk gee hom ’n giftige kyk. As haar regterhand nie in syne vasgevang was nie, het hy dalk ’n klap ook gekry, sommer om hom te herinner hoe kômmin ’n girl uit die karavaanpark kan wees. Dís mos waarteen sy pa hom jare gelede gewaarsku het, toe hulle twee “ontmoet” het.

      “Kom sit, ons het heelwat om te bespreek.” Hanno trek vir haar ’n stoel langs hom uit, en Anouk sak dankbaar daarin neer. Sy loer na die ander kant van die tafel, net om tweehonderd persent seker te maak. Mens weet nooit nie, haar kop het dalk só begin raas van die stres dat dit ’n spook uit die verlede opgeroep het. No such luck. Sy ysblou blik bots teen hare.

      “Reg,” sê Hanno. “Kom ek skets gou weer die situasie vir diegene wat vandag eers by ons aansluit. Twee weke gelede het Theunis en Marielle Lategan ’n klag van wanpraktyk gelê. Hulle eis miljoene as skadevergoeding van die hospitaal, suster Viviers, en die twee spesialiste wat noodbehandeling toegepas het tydens die geboorte van hul baba. Dokter Muller is ’n ginekoloog, dokter Botha ’n pediater.”

      Wanpraktyk. Miljoene rande. Anouk wring haar hande inmekaar. Dis ’n warm dag, maar haar vingers voel soos ysies. Kan dit háár lewe wees – haar reputasie, haar loopbaan – wat soos vuil skottelgoedwater al om die dreingat spiraal?

      “Die Lategans se derde baba het ernstige breinskade opgedoen weens ’n suurstoftekort,” gaan die hospitaalbestuurder voort, so saaklik dat ’n mens sou sweer hy praat oor die effektebeurs.

      Anouk druk haar handpalms teen haar slape, waar ’n spanningshoofpyn sedert die nag van klein Luc se geboorte nesgeskop het. Nagmerriebeelde klou soos klitsgras aan haar gedagtes. Marielle se doodsbleek gesig, die paramedici wat met die draagbaar ambulans toe hardloop, die lewelose grys bondeltjie wat dokter Muller uit haar vriendin se stukkende lyf trek …

      Dis eers toe Hanno sy hand op haar skouer sit dat Anouk besef sy het haar naam gehoor. Haastig kyk sy op. Elke paar oë in die kamer is op haar. Hoe lank probeer die hospitaalbestuurder al haar aandag trek? Sy voel weer soos die dogtertjie wat kort-kort aangespreek is omdat sy by die venster uitstaar. “Ek wil jou verseker dat jy – nes dokter Muller en dokter Botha – die bestuur se volle ondersteuning het. Ons ken jou as ’n bekwame, versigtige vroedvrou.”

      Sy wil dankie sê, maar vertrou haar stem nie.

      “Ons het al die relevante inligting oorweeg en drie onafhanklike kundiges se raad ingewin,” sê Hanno. “Volgens hulle is die aantygings ongegrond.”

      Die staalbande om Anouk se longe gee skiet. Dalk is dit nie so erg soos sy gedink het nie? Dalk gaan sy en Skyla orraait wees?

      “Julle is in uiters bekwame hande. Van der Linde en Seun Prokureurs is dié kenners van mediese reg en hulle verloor byna nooit ’n saak nie. Ons het die volste vertroue dat hierdie onaangename besigheid binnekort verby sal wees.” Hanno knik vir Rossouw, wat sy das regtrek en opstaan.

      “Dankie, meneer Oosthuizen.” Sy blik swiep oor die vertrek en haak vir ’n breukdeel van ’n sekonde by haar vas. “Hierdie aanklag is inderdaad ongegrond – selfs onregverdig.”

Скачать книгу