Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lang pad na liefde - Amelia Strydom страница 5

Lang pad na liefde - Amelia Strydom

Скачать книгу

die lug.” Sy kyk hom op en af. “En sky is Engels vir lug.”

      Anouk se logika. Net sy wat haar kind so ’n hippienaam sal gee. Fokus, Van der Linde. “Hoe oud is jy?” vra hy weer.

      Sy konsentreer so op vingers aftel dat die puntjie van haar tong by een mondhoek uitloer. Verdomp! Daar’s ’n handvol foto’s in sy ma se album waarop sy tong presies dieselfde ding doen. Een waarop hy sandkoekies bak op die strand. By die kombuistafel vingerverf. Op die laerskool se krieketveld staan, kolf in die hand.

      “Só oud is ek.” Skyla hou ’n volle hand en haar ander duim in die lug. “Ek gaan volgende jaar grootskool toe.”

      Rossouw se maag bungee-jump van die land se hoogste brug af. Hy druk een hand teen die karavaan om orent te bly. As die aarde net wil ophou draai. Die gesuis in sy ore dreun die see tjoepstil.

      “Nou moet jy sê wat jou naam is,” sê die dogtertjie.

      “Huh?”

      “Wat’s jou naam?”

      “Rossouw.”

      Skyla se oë rek, asof sy ekstra seker wil maak hy sien presies hoe blou hulle is. Daar is ’n donkerder kring om elke iris, asof dit met vetkryt omlyn is. Nes dié wat soggens vir hom kyk wanneer hy skeer.

      “My pappa se naam is Rossouw.”

      Shit, shit, shit. Sal een van die wit houtstoeltjies sy gewig dra? Sy kniekoppe gaan hom in die skande steek.

      “Skyla? Wie’s dit?” In die woonwa hou Die Heuwels Fantasties op bedel vir Kersfeespille. Anouk verskyn agter die dogtertjie. Een kyk na haar gesig, en sy laaste knerts twyfel verdwyn. Haar hand fladder in slow motion na haar keel. Die kleur syfer uit haar gesig soos water wat in seesand wegloop. Sy moenie nou staan en omkap of iets nie. Hý kan nie help nie, hy sukkel om self regop te bly.

      “Skyla.” Anouk sit haar hand op die kind se skouer. “Gaan jy na Mollie toe. Sê Mamma het jou gestuur.”

      “Maar ek wil …”

      “Weg is jy, en bly daar tot Mamma jou kom haal.”

      “Maar Mamma, die oom se naam is …”

      “Ek weet wat die oom se naam is. Ons sal later daaroor praat. Toe, draf.”

      Skyla kyk ’n laaste keer grootoog na Rossouw voor sy by hom verbyskuur. Hy besef eers hy het sy hand uitgesteek toe ’n bokstertjie tussen sy vingers deur glip. ’n Skoon geur, seep en kleindogtertjiesjampoe, waai by hom verby. Hy is lus om sy neus in die kind se hare te druk.

      Skyla maak geen geheim daarvan dat sy nie na Mollie, wie dit ook al is, wil gaan nie. Sy loop sleepvoet, omkyk-omkyk, tot voor die deur van ’n silwerkleurige karavaan. ’n Jongerige vrou verskyn op die drumpel, haar sweetpak so pienk dat sy oogballe pyn. Sy krap Skyla se kuif deurmekaar en sak op haar hurke af om haar in die oë te kyk. Luister, loer in hul rigting, en kom orent om die deur groter oop te hou.

      Toe Skyla omdraai en waai, skop Rossouw se hart teen sy ribbekas vas. Sy hand lig asof iemand die onsigbare toutjies trek.

      “Ek dink jy moet kom sit.” Anouk se stem flip ’n switch in sy kop. Suur vreet aan sy maagwand en ’n rooi blerts ontplof voor sy oë.

      “En ek dink jy moet verduidelik.”

      “Rossouw.” Sy raak aan sy elmboog, maar hy ruk weg.

      “Ek wag.”

      Sy plak haar hande op haar heupe. “Wel, jy gaan lank wag as jy dink ek gaan hier buite praat. Karavaanparke word met skinderstories aanmekaar gehou. Kom in, dan gesels ons soos grootmense.”

      Die lag wat oor sy lippe breek, proe bitter. “Soos grootmense? Is dit nie bietjie laat nie? Sewe jaar, om presies te wees?”

      Sy vee oor haar oë. “Ek wou nooit gehad het jy moes só uitvind nie.”

      “Jy wou nie gehad het ek moes uitvind nie, punt.”

      “Dis nie waar nie. Ek het Skyla belowe ons kan jou gaan opsoek.”

      “Wanneer?”

      “Ek het gedink, um, wanneer sy agtien is …”

      “Agtien?” Hy druk sy hande in sy sakke, want hulle jeuk om haar aan haar smal skouers te gryp en te skud. “Dis oor twaalf jaar!”

      “Ek kan somme maak,” sug sy. “Oor twaalf jaar sal Skyla oud genoeg wees om …”

      “Te stem en te bestuur en drank te koop.” Hy snork. “Is dit nie erg genoeg dat jy ses jaar gesteel het nie? Ek het haar eerste tree gemis. Haar eerste Krismis. Haar eerste glimlag en …”

      Sy druk hare agter haar oor in. “Ek’s jammer.”

      “Jammer is boggherôl werd, dit kan daai jare nie terugbring nie.” Hy voel of hy kan skreeu … of hy die deur uit die kosyn kan ruk. “Hoe kón jy? Haat jy my soveel dat –”

      “Natuurlik haat ek jou nie. Kom seblief in voor die hele karavaanpark jou hoor.”

      Die karavaanpark? Wetter, daaraan het hy nie eens gedink nie. Sy maak sy kind – sý kind – in ’n trailer groot.

      Hy druk by haar verby en stamp die deur toe. “Verduidelik, ek luister.”

      “Wil jy iets drink?”

      “Dit is nie ’n tea party nie.”

      “Iets uit die bottel, nie die ketel nie. Lyk of jy dit nodig het.”

      “Van wanneer af het jy drank in die huis?” Haar pa het hom doodgedrink kort na hulle mekaar leer ken het. Sy was nog nie eens sestien nie. Het nooit haar mond aan alkohol gesit nie, nie eens ’n slukkie sjampanje nie. Net altyd gesê sy is bang dis in haar bloed.

      “Moenie maak of jy my ken nie. Daar het baie water in die see geloop.”

      “Sê sy vir mý!”

      Sy ignoreer die verwyt en haal twee wynglase uit. “Rooi of wit?”

      “Gee maar wit.” Niks is slegter as rubbish rooiwyn nie, maar as hy nie nou iets doen nie, gaan sy kop ontplof. “As dit koud is. Moet om vadersnaam net nie ys daarin neuk nie.”

      “Toemaar, ek onthou. Net paloekas gooi ys in hul wyn.”

      Sy pa se woorde. Sy haal ’n boks witwyn uit die antieke blou yskas. Rossouw se oog val op ’n pakkie jogurtbakkies met Barbie-prente op. Skyla s’n. Sy kind s’n. Die idee wil nie insink nie.

      Hy gooi die eerste glas in sy keel af sonder om te proe. Hou sy glas uit vir nog. Anouk lig haar wenkbroue, skink dan weer.

      “Kom.” Sy loop voor hom uit na die ander kant van die woonwa. Die ding lyk anders as die een waarin sy en haar ma gebly het. Dis klein, maar dit voel na huis. Skoon, netjies, sonder die oorvol asbakkies of koolreuk wat hy so verpes het. Kyk, dis als ou goed, maar selfs hy, met sy minimalistiese penthouse, kan sien dis nie gemors nie. Dis retro. Vintage. Eenhonderd

Скачать книгу