Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lang pad na liefde - Amelia Strydom страница 7

Lang pad na liefde - Amelia Strydom

Скачать книгу

is, of sy klouter sommer êrens in ’n leë bed. Sy’s ’n maklike kind.”

      “Sy moet seker maar wees. Dis nie of sy ’n beter lewe ken nie.”

      “Wat probeer jy sê?” Minstens skree sy weer op hom, haar trane vir eers opgedroog. “Moes ek haar vir jou en jou pa gegee het? Asse-flippen-blief! Dan was sy so … emotionally challenged soos julle! Ek het dalk te min IK-punte om vir myself te dink, maar ek het minstens ’n hart! Skyla weet hoe lief ek vir haar is.”

      “Liefde sit nie kos op die tafel nie.”

      “Hou op om my te beledig. Skyla het nog nooit tekort gely nie. Sy’t ’n vol magie, sy’t warm klere, sy’t ’n dak oor haar kop, al trek jy jou neus daarvoor op.”

      “Wil jy regtig hê sy moet vir die res van haar lewe in ’n woonwa bly? Net omdat jy nie die siklus kon breek nie?”

      “Uit.” Sy kry hom aan die kraag beet en trek hom so verwoed orent dat ’n knoop van sy hemp afbreek. “Ek het genoeg gehad. Toe ek jou gesig netnou by die deur sien, het ek gedink ek moes jou vroeër vertel het. Ek was verkeerd.”

      Magtag, sy is sterker as wat sy lyk. Sy boender hom tot by die karavaandeur, pluk dit oop, en stamp hom teen die rug. Hy kan hom natuurlik teensit, maar hierdie gesprek is in elk geval afgehandel.

      “Loop,” sê sy. “Jy was sewe jaar gelede nie reg om ’n pa te wees nie, en jy’s nog steeds nie.”

      “O, nè? Ons sal sien of die hof met jou saamstem.”

      Sy klap ’n hand oor haar mond, en Rossouw verwens homself. Dit was ’n lae hou. Sy stres klaar oor ’n hofsaak. Dis wreed om haar met nog een te dreig. Hy sal die kind nie by haar wegvat nie, hy’s net kwaad en verward. Hy behoort om verskoning te vra, hy weet, maar …

      “Loop net, asseblief.” Die trane is terug in haar stem.

      “Ek gaan.”

      Hy is skaars drie treë weg toe sy agter hom aanroep. “Rossouw!”

      Hy gaan staan, maar draai nie om nie. Hy kan nie na haar kyk nie … wens net die nag sluk hom in. “Wat nou?”

      “Ry versigtig. Moenie om die draaie jaag nie.”

      Kan sy gedagtes lees? Sy vingers is reeds om die karsleutel geklamp. Hy kan die petrolpedaal onder sy voet voel, die adrenalien wat hom ’n rukkie sal laat vergeet.

      “Wat traak dit jou hoe ek ry? Jy’s nie my ma nie.” Hy besef eers hoe kinderagtig hy klink toe die woorde uit is. Lame, Van der Linde. Sy ís die ma van jou kind, of jy daarvan hou of nie.

      3

      Anouk wag vir die enjin se brul voor sy op een van die buitestoeltjies neersak. Haar kop is so swaar dat sy dit op die tafel neerlê. Wat nou? Waar begin sy om dié gemors reg te maak?

      Dis laat, sy moet Skyla gaan haal. Of sal sy Mollie vra om haar vanaand daar te hou? Skyla sal nie omgee nie. Mollie is ’n skoonheidsterapeut en enige dogtertjie se fairy godmother. Daar’s nie ’n einde aan haar bederfies nie: ’n minipedi of ’n voetspa of ’n naelverfsessie. Sy het altyd Coke in die yskas, koekies in haar kas. Geen wonder Skyla dink die son sak wanneer Mollie haar kleurvolle sitvlak neerplak nie.

      Jis, die versoeking is groot. Sy is op, haar emosies rou. Sy het nie krag vir die duisend vrae wat haar kind gaan hê nie. Skyla het twee en twee bymekaar gesit. Anouk het haar nie verniet van kleins af vertel haar pappa is ’n mooie man met die naam Rossouw nie.

      Die ooreenkoms tussen pa en dogter het haar oorrompel. Het Skyla enigiets van haar geërf? Die effense krul in haar haartjies, dalk. Dis al. Maak nie saak nie, haar kind het haar waardes geleer. Mense sal altyd vir Skyla belangriker as besittings wees. Sy kan nie dieselfde van Rossouw sê nie. Sy het gehoop hy het grootgeword. Maar hoekom sou hy? Hy is nie die een wat moes kind grootmaak nie. Sy lewe is nie vir altyd verander deur ’n blou strepie op ’n stokkie nie.

      Anouk sug. Dis onregverdig om hom te verwyt, selfs net in haar gedagtes. Sy het gekies om hom skotvry te laat afkom. Sou sy hom later vertel het? As hy aanhou probeer het om haar te kontak? As hy ná daardie Desember-vakansie teruggekom het? Sy weet nie. Dit was ’n mislike hoofstuk in haar lewe. Niemand wil Graad 12 deur ’n kollege doen omdat hulle te domonnosel was om behoorlike voorbehoeding te gebruik nie. Sy kon dit in haar onnies se oë sien: Eers die teleurstelling, toe die gelate aanvaarding dat hulle seker nie méér van haar moes verwag het nie. Nie in haar “huislike omstandighede” nie.

      Sy klad haar wange droog met die verflenterde tissue. Wanneer gaan haar lewe makliker word? Gaan dit altyd soos ’n nimmereindigende stryd voel? As karma regtig ’n bitch is, hoekom gaan dit so goed met mense soos Magnus van der Linde, en so sleg met haar? Hoekom is hy – wat nie ’n pa se gat werd is nie – springlewendig en gesond, terwyl sy haar ma moes begrawe toe sy en Sky haar nog so nodig gehad het?

      Die seewind dra die klank van stemme na haar toe. Daar onder by die braaiplekke, naby die strand, lag en gesels mense. Hulle speel musiek, die lewe gaan aan. Sy haal diep, kalmerend asem en praat ernstig met haarself. Hierdie pity paartie het lank genoeg aangehou. Sy gaan haar nou aan haar stewelveters optrek en ’n glimlag op haar gesig plak. Dan gaan sy haar kind haal. Skyla is die beste ding wat nog met haar gebeur het en sy sal haar nie verruil vir al die smooth sailing in die wêreld nie.

      Alles gebeur met ’n rede. Rossouw het vandag met sy spieëlblink skoene in haar en Skyla se lewens teruggestap en dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sy kan daaroor sit en tjank, of sy kan dit hanteer. Hy is heel waarskynlik hier om te bly. ’n Mens kan van hom sê wat jy wil – hy beskerm wat syne is. En as sy dit nie mis het nie, beskou hy Skyla nou as syne. Die manier waarop hy aan die kind se hare gevat het toe sy verbyloop … Haar hart wil-wil te groot vir haar bors word. Sy gesig het presies soos hare gelyk op die foto’s wat Ma ná Skyla se geboorte geneem het. Verwonderd. Betower. Uitgeboul deur ’n oerinstink.

      Sy dwing haar voete tot voor Mollie se karavaan. Voor sy kan klop, maak Skyla die deur oop. “Ek wag en wag vir jou, Mamma.” Sy slaan haar armpies styf om Anouk se bene.

      “Ek weet, my liefie. ’Skuus dat Mamma so lank was. Ek en die oom … Ek en jou pappa moes gesels.”

      Skyla druk by haar verby om na hul karavaan te loer. “Is dit regtig my pappa? Het hy vir my kom kuier?”

      Skuldgevoel slaan haar soos ’n voorhamer tussen die oë. As sy kop gehou het, was dit nie nou nodig om haar kind teleur te stel nie.

      “Hy het gery, Skyla.”

      Die gevoelvolle “agge nee!” sny soos lemmetjiesdraad deur haar.

      “Hy sal weer kom,” troos sy gou. “Ek belowe. Kom, ons gaan huis toe. Jy’t nog nie eens geëet nie.”

      Mollie kom staan in die deur, ’n groen velsorgmasker aan haar gesig. “Jy oukei?”

      “Ja wat,” jok Anouk. “Dankie dat jy na haar gekyk het.”

      “Enige tyd, maar moenie dink jy’s off the hook nie. Vanaand gesels jy en Sky, môre wil ek als hoor.”

      “Busybody.” Anouk gee Mollie ’n vinnige drukkie, versigtig om nie aan haar gesig te raak nie.

      “Kom, Skyla.” Sy vat haar kind se hand,

Скачать книгу