Lang pad na liefde. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Lang pad na liefde - Amelia Strydom страница 6

Lang pad na liefde - Amelia Strydom

Скачать книгу

trek ’n kussing agter sy rug uit en gooi dit eenkant. Daar is ’n hele werpsel van die verpestelike goed: langes en kortes en kleintjies en grotes. “Vat jou tyd.” Hy klink soos ’n poephol, hy weet, maar hy wíl vere voel. Hy wens hy kon iets sê wat haar so diep sou sny as dit wat sy nié vir hom gesê het nie. Gedagtes val in sy kop soos domino’s. “Hoekom?”

      Haar mondhoeke krul in ’n bittersoet glimlag. “Is dit nie obvious nie?”

      “Nee.”

      Sy draai die stukkie hare, wat weer ontsnap het, om haar vinger. “Wat het jou pa nou weer oor my gesê, Rossouw?”

      “My pa? Waddehel het hy met hierdie hele êf-op te doen?”

      “Haar naam is Skyla.” Sy druk haar hande tussen haar knieë in, maar haar oë blits. “En as jy weer na haar as ’n êf-op verwys, kan jy in jou kar klim en ry.”

      “Man, ek het dit nie so bedoel nie. Ek’s de moer in en met goeie rede.” Hy drink van sy wyn. “Sk …” Die naam haak agter sy gorrel vas. “Skyla. Wat het sy met my pa uit te waai?”

      Anouk skud haar kop en staar na die matjie onder haar voete. “Dink bietjie, toe. Hoekom was hy so teen my?”

      “Julle was nie ryk nie.”

      “Bingo. En jy weet mos wat enige arm meisie se lewensideaal is.”

      “Wat?”

      “Om ’n ryk ou soos jy met ’n slappe te vang.”

      Verdomp, sy’s reg. Só reg dat hy sy vuis deur die agterruit met die kantgordyn wil slaan. Hoeveel keer het Pa hom gewaarsku om weg te bly van Anouk om dié einste rede? En toe hy nie wou luister nie, het hy ’n preek gekry oor “trailerterte” en “vermorste geleenthede” en ’n testament wat verander kon word. ’n Preek en ’n voorraad kondome. Wat hy obviously nie behoorlik gebruik het nie.

      “Fine.” Hy steek sy hande op. “Hy hét so gesê. Maar boggher hom, wie gee om wat hy dink? Ek’s nie my pa nie, ek het die reg gehad om te weet.”

      “En ek sou jou vertel het.” Sy tel haar wynglas op, draai die steel om en om tussen haar vingers. “Ek was op pad om dit te doen, toe hoor ek met my eie ore hoe jy oor my voel.”

      “Waarvan praat jy?”

      “Kan jy regtig nie onthou nie?”

      “Al wat ek onthou, is dat jy mysteriously jou gat gewip het. Ek het jou gebel en ge-SMS tot jou nommer ophou werk het. Ek was hoeveel keer by julle, maar jou ma het gesê jy wil my nie sien nie.” Hy kan nou nog nie aan daardie tyd dink sonder ’n hol kol in sy maag nie. Eers het hy hom wysgemaak dis net sy ego wat ’n knou gekry het, maar selfs die serial dating in sy tweede jaar kon die gat nie toestop nie.

      “Jy onthou regtig nie?” Sy skud haar kop. “Kom ek help jou bietjie. Wat het daardie laaste dag gebeur waarop ons mekaar gesien het?”

      Sy harsings pyn soos hy dink. Niks.

      “Ag, jimmel tog!” Sy plak haar wynglas so hard neer dat dit ’n wonder is die steel breek nie morsaf nie. “Ek het julle hoor praat, oukei? Vir jou en jou pa. Ek het nie bedoel om af te luister nie, maar julle kombuisdeur was oop en julle het op mekaar geskreeu.”

      Sy buig vooroor asof sy miltsteek het.

      Sy bors trek toe. Hy’s de bliksem in vir haar, maar hy wil haar nie ontsteld sien nie. Moet hy langs haar gaan sit? Sal sy hom toelaat? Liewer nie. “Ek’s jammer, ek onthou nie.”

      “En ek’s jammer ek kan nie vergeet nie!” Haar stem klim. “ ‘Chill, Pa, dis nie ernstig nie. Dis net ’n jol.’ ”

      Begrip tref hom soos ’n weerligstraal. “Dit was net om my pa stil te maak. Hy het so gekarring dat ek later wou crack.” Hy vlieg op, maar haar hele lyf waarsku hom om nie nader te kom nie. Hy sak weer op die bank neer. “Ek het dit nie bedoel nie, ek was mal oor jou.”

      “En ek oor jou, maar ek het darem ’n paar druppels selfrespek gehad. Ek sou eerder vrek voor ek jou met die gevolge van jou ‘jol’ opsaal of in jou pa se oë kyk vir geld.”

      “Het jy nooit daaraan gedink dat ek ’n reg het om haar te leer ken nie?”

      “Hallo, sewentien? Nie juis mature nie. In daardie stadium het ek geglo dis die beste vir ons almal. Noem my stupid, soos vanmiddag, maar in my kop was ek en Skyla ’n package deal.”

      “’n Package deal wat ek só sou gevat het.” Hy klap sy vingers om te wys hoe gou.

      “Rossouw.” Sy druk haar hande teen haar slape. “Jy was op varsity, jou hele blink toekoms voor jou.”

      “Hoop nie jy verwag ’n medalje vir onselfsugtigheid nie.”

      “Ek verwag dat jy probeer verstaan. Ek was self ’n glips. My ma en pa is getroud en dit het nie fantasties uitgewerk nie.” Haar voorarm vee oor haar wang. “Weet jy hoeveel keer moes ek hoor dat my pa se lewe beter sonder ons sou gewees het? Dat hy ’n loopbaan sou gehad het as hy klaar kon swot? Ek wou nie hê jy moes so oor my en Skyla voel nie.”

      “Toe besluit jy namens my.”

      Great, nou huil sy. Trane is mos elke vroumens se beste wapen. “Wat van haar? Het jy vir een oomblik aan haar gedink?”

      “Maar net elke oomblik van elke dag!” Sy snuif en trek ’n tissue uit ’n boksie langs die bed. “’n Kind is nie ’n rugsak wat jy in ’n hoek kan smyt en vergeet nie. Terwyl jy klas gedraf en gepaartie het, het ek vir nege maande my longe uitgekots. En toe vir nóg ’n jaar elke nag op en af geloop met ’n skreeuende kind.”

      “Koliek?” vra hy.

      “Refluks.”

      “Wat’s dit?”

      “Sooibrand op steroids.”

      “Wel, as jy simpatie soek, don’t hold your breath. Jý is die een wat te trots was om hulp te vra. Net jammer Skyla moes saam met jou suffer.”

      “Minstens het sy grootgeword sonder ’n oupa – en dalk selfs ’n pa – wat haar weggewens het. Ek het gedink sy verdien beter as dít.”

      “Sy verdien beter as om in ’n donnerse karavaan groot te word wat jy die hele Overstrand vol sleep!”

      “Daar’s meer liefde in hierdie karavaan as wat daar ooit – óóit – tussen jou en jou pa in julle mansion teen die berg was.” Sy wys na ’n bordjie teen die muur. “Lees bietjie wat staan daar.”

      Home is where we park it. Please.

      “En daar.”

      Home is wherever I’m with you. Gee hom ’n emmer, sulke sentimentele strooi maak hom naar.

      “Jy en jou flippen clichés. Dink bietjie vir jouself, toe.” Sonder dat hy wil, lees hy nog ’n spookasem-pienk bordjie. Midwives help people out. Hel, hy het skoon vergeet watse werk sy doen, hoekom hy eintlik hier is. “Wat maak jy met haar wanneer jy na geboortes toe gaan?”

      Sy

Скачать книгу