Ikarus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ikarus - Deon Meyer страница 13
Bo en behalwe die uitgebreide reeks moontlike opsies waaruit kliënte kan kies, sal gebruikers ook hul eie alibi kan opstel. “Ons stuur dan dadelik ’n kwotasie vir die uitvoering daarvan,” sê Richter.
Die maatskappy verwag dat sy gebruikersprofiel soortgelyk gaan wees aan dié van flankeer-webwerwe – sowat 48% vroue en 52% mans. “Ons aanvaar dat ons kliënte weens sosio-ekonomiese redes meestal bo 35 gaan wees. Die gemiddelde ouderdom vir vroue wat begin dink aan ’n buite-egtelike verhouding, is 39. Vir mans is dit 42.”
* * *
Cupido tik Alibi se webadres in sy Google Chrome-soekbalkie.
Die Valke se internet is dié tyd van die aand vinniger as gewoonlik en die blad laai gou.
Daar is ’n groot foto van ’n mooi paartjie in blougroen tropiese waters. Hulle gesigte is naby mekaar, liefderik en tevrede. Agter hulle is ’n sandstrand met palmbome. In die blou lug staan die legende:
Alibi.co.za
All pleasure. No stress.
Die logo van die maatskappy is ’n wit duif in vlug, met ’n romantiese hart-ikoon in sy bek. Onder die foto: Register now, and take the “dangerous” out of dangerous liaisons, the “ex” out of sex. Put the “fair” back into affair. Satisfaction guaranteed, or your money back!
Met balkies waarin jy jou naam en e-pos kan intik.
11
Daar is foto’s van advokaat Susan Peires teen haar kantoormuur. Francois du Toit het dit met die inkomslag gesien. Een van hulle is by haar gradeplegtigheid geneem, ’n paar dekades gelede. En Du Toit het gedink sy is een van daardie vroue wat aantrekliker geword het met die ouderdom, die jare het haar voorkoms versag, sodat sy nou in haar middeljare aantreklik is. Sterk en statig.
Terwyl hy sy storie vertel, is hy vaagweg daarvan bewus dat iets aan haar vir hom ’n sekere gemoedsrus gee. Sy lýk na ’n instrument van geregtigheid. Dalk is dit haar kalmte, die innerlike krag wat sy uitstraal. Dalk is dit die feit dat sy nie haar hare kleur nie, die sout-en-peper van grys en donker wat aan haar ’n sofistikasie gee, ’n wysheid. Of haar gesig; daar is ’n forsheid in die suinige lyne, die haak van die neus, die mond wat iewers tussen dun en vol in die perfek neutrale, objektiewe teelaarde geval het, sodat dit nie oordeel óf goedkeur nie.
Hy praat met al hoe meer gemak. Hy raak meegevoer deur die geskiedenis, sy geesdrif vergroot vir die moontlikheid dat dit wél as versagting vir sy sondes kan dien. Dit maak hom vry genoeg om al vertellende op te kom uit die stoel – eers daaragter, met sy hande op die leer van die leuning, en dan stadigaan te begin rondbeweeg in die groot kantoor.
Hy vertel haar van die vrou wat deur sy oupa Jean swanger gemaak is.
Sy ouma Hettie was ’n Malherbe van Calitzdorp. Haar ouers was nederige mense. “Haar pa het ’n winkeltjie gehad, hy’t maar gesukkel, hy moes raap en skraap om haar universiteit toe te stuur. Sy het vertel dat die swangerskap vir haar ouers ’n verskriklike ding was, ’n baie groot skande, want sy was hulle paspoort tot respektabelheid, sy was die simbool van hulle vordering uit agterlikheid en armoede. Daardie tyd moes dit baie erg gewees het, negentien-een-en-vyftig … Maar sy’t altyd gesê die een ‘klein zegen’ was dat sy in September van haar finale jaar swanger geword het. Sy kon nog graad vang, sy’t onderwys geswot. En natuurlik die feit dat dit ’n wynboer was wat haar swanger gemaak het, ’n WP-skrumskakel. Dit het ’n bietjie gehelp.
“Ouma was ’n ongelooflike vrou. Ek dink dit was haar sin vir humor wat haar … en die plaas, en my pa gered het. Die humor en die aardsheid …
“Oupa Jean … Ouma het vertel dat hy soos ’n magneet was. Daardie oë, daardie glimlag, daardie kyk wat sê die hele wêreld behoort aan hom. Sy het altyd gesê sy was baie ordentlik, sy was konserwatief, sy’t nog skaars ’n man gesoen voor oupa Jean, maar toe hy daardie aand vir haar vra om te dans, en hy kón dans, hy het haar so goed op die dansvloer laat lyk, en sy ruik hom en sy gesig is hier teen haar en hy sê: ‘Jy is die mooiste nooi op die hele Stellenbosch,’ toe verloor sy al haar opvoeding.
“Sy wás mooi. Baie mooi. Oupa Jean het baie foute gehad, maar smaak in vrouens was nie een van hulle nie …
“My pa is daardie aand gemaak, in die opstal. Dit was omtrent die laaste goeie ding wat oupa Jean gedoen het, behalwe om natuurlik met Ouma te trou, maar hy’t nie regtig ’n keuse gehad in daardie jare nie.”
12
Cupido sukkel om stil te sit. Hy wil beweeg, maar die vaalgeel lêer wat Stellenbosch in sy afwesigheid afgelewer het, is effens dikker as die tipiese verdwyningsdossier.
Daarom bly hy sit, trek dit nader, maak dit oop. Daar is ’n foto heel voor binne-in vasgekram, drie verklarings in Deel A en twee forensiese verslae in Deel B. Die volledigheid van die ondersoekdagboek in Deel C beïndruk hom, maar hy weet die media-aandag wat Stellenbosch gekry het, moes groot druk op die SB en sy speurders geplaas het om deeglike werk te doen.
Heel agter is ’n ondertekende SAPS 55(A) – die vorm wat die polisie vrywaar van bedrieglike aanmeldings en hulle die reg gee om die verdwene persoon se foto en beskrywing te sirkuleer en te publiseer.
Hy kyk na die foto. Dit stem ooreen met die gesig wat hy by die lykshuis gesien het. Dit wys Ernst Richter in ’n denim en blou T-hemp waarop staan HTML, en daaronder (expert in) How To Meet Ladies. Hy lyk jonk: dalk vroeë dertigs, hy lag, sy hande besig om iets te beduie toe die kamera hom vasgevang het. Skoongeskeer, dik, donker hare wat amper op die skouers hang, die lyf skraal. Hy het sy ma Bernadette se lang neus, maar sy wangbene is skerper en sy mond meer prominent.
Dis nie hoe hy ’n ou sou voorstel wat ’n alibi-webwerf operate nie, dink Cupido. Richter lyk decent. Normaal. The guy next door, soort van, as jy in ’n middle-class whitey suburb bly. Maar hy het deur die jare geleer: Met whiteys moet jy nie op looks gaan nie. Very deceiving.
Hy ontsyfer die eerste verklaring, deur ’n aanklagkantoor-konstabel met ’n byna onleesbare handskrif geboekstaaf. Dit is op 27 November afgelê deur ene Cindy Senekal, aangedui as “a friend of the missing person”.
Volgens haar het sy op Woensdag 26 November verskeie kere met Richter oor die telefoon gesels. Hy was opgeruimd en “normal”. Die laaste oproep was teen 16:00. Hulle het om 19:00 ’n afspraak vir aandete gehad by die Dorpstraat Deli op Stellenbosch. Toe hy vyftien minute laat was, het sy hom probeer skakel, maar net sy stempos bereik. Senekal het nog verskeie kere gebel, en twee stemboodskappe gelaat. Sy het tot 19:45 by die restaurant gewag, toe na haar meenthuis op die dorp teruggekeer. Sy het deur die loop van die aand hom weer telefonies probeer kontak, maar sonder sukses. Senekal sê Richter se selfoon het van ongeveer 20:30 direk na stempos gegaan en nie meer gelui nie. Haar laaste oproep na hom was om 00:24. “I called again this morning at approximately 06:50. At that time, I was still just getting his voicemail. So I drove to his house. The doors were locked. Nobody answered the door. Ernst was sometimes a little late for appointments, but he’s never disappeared like this,” lees die verklaring.
Sy selfoonnommer en ’n beskrywing van sy motor, ’n grys Audi TT, is ook neergeskryf.
Net ná agt het Senekal na die kantore van Alibi.co.za op Stellenbosch