Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg. Lilian Paramor
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor страница 3
•Trek vandag die telefoon uit sodat jy kan rus en Baba nie gesteur word nie. Gun jouself genoeg tyd, jy sal binnekort begin beter voel en dinge onder beheer kry.
Oorvol borste
•As jou borste baie hard en seer is, sny ’n tepelgrootte gaatjie in die middel van twee heel koolblare, dompel dit 10 sekondes lank in kookwater, druk droog en plaas net so warm oor jou borste om hulle te streel en die melkvloei te verbeter. Vervang teen die volgende voeding en herhaal tot jou borste heeltemal gemaklik voel.
•Warm waslappe of ’n warm stort of bad kan ook help om oorvol borste te behandel.
•Moenie Baba se drinktyd beperk nie, mits hy korrek vassuig, want jou borste moet geledig word. Die oorvol gevoel sal binne twee dae verbygaan.
DAG VIER, VYF EN SES
Hou vol met jou gemaklike pas en konsentreer op alles wat jy al omtrent jou baba geleer het. Dit is nog net die begin, en jy wonder dalk hoe jy ooit alles gaan hanteer, maar jy sál. Pamperlang jouself en jou kleinding en doen net die allernoodsaaklikste.
Meer oor Baba
•Baba sal teen dié tyd en vir die volgende paar weke gereelde stoelgange hê, soms net ’n blertsie, ander kere weer oorvloedig. Normale borsvoedingstoelgange is sag en mosterdkleurig en lyk asof daar pitjies in is.
•Party babadogtertjies skei ’n bietjie bloed uit die vagina af. Dit is ’n reaksie op die hormone waaraan sy blootgestel was in die baarmoeder en sal gou opklaar.
•Gaan voort om die naeltjie en naelstringstompie skoon te maak. Dit sal binnekort afval of nog net aan ’n draadjie hang, wat jy kan afknip.
•As Baba gereeld windjies boontoe én ondertoe laat, met ’n rooi gesiggie huil, sy vuisies bal en sy bene optrek, mag jy dalk begin vermoed dat hy koliek het. Koliek is meestal bloot ’n geval van ’n baba wat meer dikwels moet drink, of ’n reaksie op Ma se angstigheid, moegheid en gebrek aan ervaring. Die heel beste wat jy kan doen, is om die volgende paar dae rustig te benader, besoekers te beperk, te sorg dat Baba nie deur te veel mense vasgehou word nie aangesien dit hom onrustig kan maak, en te ontspan in die wete dat jy binnekort sy seine goed sal leer verstaan.
•Borsbabas moet hul voeding dikwels in ’n hele paar “gange” geniet – voorgereg, hoofgereg, nagereg, en soms selfs ’n pepermentjie agterna! Moenie begin twyfel of jy genoeg melk het nie. Baba mag miskien 10–15 minute lank tussen “gange” aan die slaap raak, ’n skoon doek nodig hê of bloot in jou arms lê en rus tot sy magie gereed is vir die volgende gang.
Wenke vir Ma
•Sorg dat jy een onkritiese familievriendin of familielid het om jou by te staan, en aanvaar ook hulp en ondersteuning van jou lewensmaat.
•Dokter jouself minstens 3 maal per dag met homeopatiese Rescue Emotion-tablette.
•As jou tepels gevoelig is of as jy baie lig van vel is, sal dit help om jou borste 2 maal per dag 5–10 minute lank aan sonlig bloot te stel, maar sorg dat jy nie brand nie.
•As die situasie vererger eerder as verbeter of as jy steeds sukkel om Baba te laat vassuig, kan jy hulp vra by ’n voedingsraadgewer. Dit is beslis die moeite werd, want dit kan sorg dat die res van jou borsvoedingservaring baie positief verloop.
•Moenie bekommerd wees dat jy jou baba sal versmoor as sy saam met jou in jou bed slaap nie. Trek haar net koeler aan, aangesien sy aan jou liggaamshitte blootgestel word. ’n Slapie saam is dalk net wat julle albei nodig het om die volgende paar dae te oorleef.
DAG SEWE, AGT EN NEGE
Veels geluk, Baba is ’n volle week oud! Almal in die huis gaan moontlik van nou af deeglik van sy teenwoordigheid bewus word. Babas is besonder selfbehep en selfgesentreerd, omdat dit al is wat hulle ken. Hulle verwag van hul ouers om die leiding te neem en hulle in die moets en moenies van die gesinslewe in te lei – wat nogal veel gevra is as jy self wens jy het ’n helpende hand gehad! Dit het nou tyd geword om jou baba te begin dophou om sy herhalende gedragspatrone en uitdrukkingswyses te identifiseer – dit is jou leidrade oor hoe om dié unieke klein mensie te hanteer.
Meer oor Baba
Gebruik hierdie beproefde wenke as jou baba veeleisend, vitterig, knieserig en onrustig is.
•Vra jou lewensmaat of ’n familievriend om jou 2 uur lank te laat rus ná ’n voeding deur Baba op te pas. Hy sal nie so gou weer honger raak nie, en ’n wandeling in die tuin of om die blok terwyl jy rus, kan dalk help om die bose kringloop te verbreek.
•Bad saam met jou baba. Speel agtergrondmusiek en laat haar drink tot sy kalmeer, terwyl jy haar lyfie teen jou vashou en haar met ’n waslap bedek wat die warm badwater sal absorbeer. Sorg dat haar onderste oor nie onder die water is nie, maar moenie bekommerd wees dat sy uit jou arms sal glip nie – jou instink sal dit voorkom.
•As sy van die bors af wegdwing of haar kop vinnig heen en weer draai, kan jy haar kop liggies in jou hand vashou en aan jou bors in posisie hou.
•Verbreek die spanning in haar arm as sy haar lyfie van jou af wegdruk deur haar jou vinger te laat vasgryp.
•Stap rond terwyl jy Baba laat vassuig en hou aan beweeg tot jy die lyfie voel ontspan. Daarna kan jy gaan sit om verder te voed.
•Druk homeopatiese Sister Lilian Chamomilla-tablette fyn, voeg ’n bietjie melk by of gee 3 maal per dag met ’n skoon vinger om Baba natuurlik te laat ontspan.
Wenke vir Ma
•Sorg dat jy genoeg vloeistof inneem, verkieslik in die vorm van water, rooibostee en flou kamilletee. Maak ’n fles op ’n slag en hou dit byderhand terwyl jy borsvoed, aangesien jy dan dorser sal raak.
•Neem kennis van enige bekkenpyn, veral gepaard met ’n onwelriekende vaginale afskeiding en koors. Dit mag ’n teken van infeksie wees of dat daar ’n stukkie plasenta in die baarmoeder agtergebly het. Raadpleeg jou vroedvrou of dokter as hierdie simptome voorkom.
•Bespaar jou energie deur bevrore gaar maaltye te gebruik of enige hulp in dié verband met dank te aanvaar – dit is een terrein waarop vriende en familie van groot hulp kan wees.
•Bederf jouself met ’n tuispedikuur terwyl iemand anders na Baba kyk – jy sal sommer beter voel, en dis wonderlik om weer aan jou tone te kan raak!
DAG TIEN
Dit is ’n besondere mylpaal op die ouerskapskalender – selfs al voel jy nog moeg en is Baba steeds veeleisend, voel jy waarskynlik al minder soos ’n groentjie. Baie vroue sal weer die buitewêreld wil aandurf om met hul baba te gaan spog en geniet die feit dat dit makliker gaan om te loop en te sit, aangesien die perineum waarskynlik teen dié tyd mooi genees het as jy die wenke gevolg het.
Meer oor Baba
•Roetine is belangrik vir jou én vir Baba, maar sorg dat sy die pas aangee. Danksy jou waarnemings die afgelope paar dae weet jy moontlik teen dié tyd al hoe dikwels jou baba verkies om te drink – die patroon sal heel waarskynlik