Die Pro. Leon de Villiers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Pro - Leon de Villiers страница 4

Die Pro - Leon de Villiers

Скачать книгу

Hy kyk in hierdie rigting.”

      “Ek hou jou verantwoordelik. Maar nee, vier perlemoene is nie vir jou genoeg nie. Jy wil meer hê!”

      “Sjuuut!”

      “Sjuut jouself. Hoekom sien ek niks nie?”

      “Jy kyk op die verkeerde plek.”

      “Waar? Jy smile. Ek sweer jy smile! Dirkie Lawrence, as jy my verniet … as jy my verniet … Dirkie! Kom terug, jou bloemieng lafaard! Hou op lag en staan stil dat ek jou behoorlik kan opneuk!”

      Kyk, ek dink my pa is baie eienaardig en jy het jou pa verlede jaar elke dag sleggesê oor die skei-storie, maar Albert is heeltemal gek. Hy sê vir my hy dink sy pa smokkel met perlemoen. Glo duikers wat tydig en ontydig daar op die plaas aankom. Dan praat sy pa baie suutjies met hulle en agterna is daar weer vreemde karre wat bokse goed kom haal.

      Miskien is dit so – sy pa is in ’n kategorie van sy eie. Maar ek weet darem nie of Albert sulke stories moet loop en versprei nie. Soms lyk dit vir my asof hy doelbewus wil hê dat sy pa in die moeilikheid moet beland.

      Nie dat ek en Albert nou skielik hierdie dik pelle is nie. Ons sit net langs mekaar in die bus. Dalk aard ek na my pa. Hy praat ook omtrent niks nie, maar mense vertel hom die diepste dinge. Al wat nou taaierig is, is dat ek en pa gewoonlik vir mekaar sit en kyk terwyl ons wag dat die ander een iets moet sê. Gapings wat niemand my ma moet gee nie …

      Partykeer is ek bly dat my ma so baie kan praat, maar meestal is dit net te veel. Soos hierdie hele gekerm van haar oor ek vanjaar nie so goed vaar met die langafstande nie. Hoe moet ek dit verhelp? Ek oefen reeds ure lank by die skool en ek is gedaan teen die tyd dat Garries ons op Vlakberg aflaai. ’n Paar keer het ek saam met Dino Petersen gaan draf, maar hy is so flippen fanaties, dat ek ook nie meer lus is daarvoor nie. Ek moet sê hy doen deksels goed in die 1500. Heel waarskynlik gaan hy nog Boland-kleure kry. Puik vir hom, maar ek gaan myself nie stukkend hardloop vir ’n paar simpel medaljes nie. Meneer Brits en my ma kan maar ophou kerm. Ek is nou eenmaal nie ’n Keniaan nie en klaar.

      Ek wens die atletiek wil nou klaarkry, veral nadat ek so ’n gek van myself gemaak het by die byeenkoms op Franschhoek. Ek kon dit regtig nie verhelp nie. Dit was eintlik alles daardie windgat Marius se skuld. Is so besig om te kyk of die toeskouers sien hoe goed hy spiesgooi dat hy nie konsentreer op wat hy doen nie. Gooi toe heeltemal buite die lyne uit. Dit net toe ek opkyk daar waar ek by die 800 m se wegspringplek staan en opwarm. Eers sien ek ’n spies wat deur die lug vlieg, toe die meisie wat die skinkbord met koeldrank laat val terwyl iemand gil. Die volgende oomblik lê sy daar met ’n spies deur haar voorarm.

      En wat doen ek? Ek gooi op. Ja, kots die wêreld vol daar by die wegspringplek waar almal dit kan sien. Oukei, daar wás een van die vrouebeamptes wat flou geword het en almal het hulle wit geskrik, maar wie skiet katte? Tiaan Nothnagel, wie anders.

      Nou vra ek jou: Hoe hardloop ’n mens daarna ’n 800? Nie ek nie! Brits wou my maak hardloop, maar ek het net my sak gevat en kleedkamers toe geloop. Hy was agterna darem redelik, maar toe Kruiwa sien daar is nie een atleet van ons skool wat aan die item deelneem nie, was hy woedend. My die volgende Maandag in sy kantoor uitgetrap oor my laksheid en wat nog alles. Surfers is sus en so en wat hy alles met my gaan doen as ek my nie regruk nie. Ek het nie eens die moeite gedoen om hom te vertel dat ek nie meer surf nie. Mors nie my asem op hom nie.

      Dink jy hy het ooit die hospitaal gebel en gehoor of daardie meisie oukei is? Ga, nie hy nie! Wat gee hy vir ander se lewens om? Niks nie!

      Heng, dink net, die een oomblik loop jy en koeldrank aandra en die volgende oomblik lê jy op die grond met ’n spies deur jou arm. Net so. Die dood so naby aan jou verby dat jy sy stink asem kan ruik. Nee magtig! Hoe gouer die atletiek verby kom, hoe beter. Ek is in elk geval deesdae heeltyd moeg. Moet die suidoos wees wat aanmekaar waai die laaste paar weke.

      Waaroor ek darem bly is, is dat ek en mevrou Beukes tot dusver goed oor die weg kom. Miskien help die getjommel in die boek tog. Dalk is dit ook omdat sy nie dink ek is ’n idioot net omdat my hare blond is en ek voorheen gesurf het nie.

      Kruiwa dink mos as jy eers surf, is dwelms smokkel die volgende logiese stap. Dit is nou as jy die IK het om te kan smokkel. IK is nie iets wat hy by surfers verwag nie. Almal dof dagga gerook volgens hom.

      Miskien moes ek jou nie gekeer het toe jy verlede jaar sy kar se bande aan flenters wou sny nie. Ek wens nou nog ek weet wie het hom daardie liegstorie vertel. Dalk het hy dit nog self uitgedink. As my ma ooit moes gehoor het hy beskuldig ons van smokkel op die skoolterrein, was daar sowaar bloed op daardie skoolstoepe. Waar die mal mens aan sy rubbish gekom het, weet net hy alleen.

      Vyf-en-sestig persent vir my laaste Lewenswetenskappetoets. Ek was baie lus en gaan druk daardie punt onder sy nuwe snor in.

      Maar hy sal seker net dink ek het gekrip.

      Pa is bly oor die verbetering, nou nie op en af gespring van vreugde nie, maar nogtans. Hy en Geyer het toe wel al so drie keer skaak gespeel en Geyer het een keer gewen. Nie baie goed vir meneer Kasparov se ego nie, maar nou ja! Ma sê Geyer se gewese vrou is glo ’n dokter en maak geld soos bossies. Sy het glo net hulle kind (’n dogtertjie) gevat en gesê sy soek hom nie meer in hulle lewe nie. Wat hy verkeerd gedoen het, weet geen siel nie. Dalk net nie genoeg geld gemaak na haar sin nie.

      Vroumense kan ’n mens maar lekker deurmekaar maak.

      Soos die ding met Jasmine nou. Het ek jou al gesê dis haar naam? Jasmine, soos in Engels gesê.

      Ek kan net nie ophou om aan haar te dink nie. Sien haar aanmekaar in my gedagtes. Die blou strik in haar lang swart hare wat oor die rug van haar blou skoolbaadjie hang. Hoe sy haar neus vir haar broer kreukel as hy iets simpels sê. Die dimpels in haar wange as sy saam met die ander meisies lag.

      Sy wat ernstig sit en lees in die bus. Haar fyn hande met die mooiste lang vingers. Haar oë die swartste swart waarvan ’n mens net kan droom.

      Dit het my nie juis lank gevat om alles oor haar en Kevin uit te vind nie. Hulle praat albei Engels maar verstaan Afrikaans baie goed. Kevin en Jasmine Farat. Bly by hulle afgetrede oupa en ouma hier op Vlakberg. Hulle pa en ma is nog in Engeland, waar Jasmine en Kevin gebore is. Hulle het eers einde verlede jaar teruggekom. Die ouers gaan ook die een of ander tyd terugkom Suid-Afrika toe. Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek dink hulle het ’n besigheid in Londen of êrens wat hulle eers moet verkoop.

      Kevin sê sy pa is jare gelede Engeland toe as gevolg van die politiek. Hulle ma is ’n Brit. Ek wonder of Kevin na haar lyk. Sy hare is ligter as Jasmine s’n en sy oë is meer bruin as swart. Volgens die ander in sy klas is Kevin briljant in Wiskunde. Hy maak glo ook amok in die skaakklub en almal wil net weet of ek al teen hom gespeel het. Maar hoekom moet ek weer by die skaakklub aansluit net om teen hom te speel?

      Niemand het gesê hy moet teen my kom hardloop in die 800 nie. Ek gaan nie dié jaar weer skaak speel nie. Graad elf is nie grappies nie en ’n mens moet goeie punte kry as jy hoegenaamd vir ’n beurs in aanmerking wil kom. Kevin kan teen my by die huis kom speel as hy dan so graag wil.

      Nie dat ek en hy al juis veel vir mekaar te sê gehad het nie.

      Met Jasmine het ek nog nie ’n dooie woord gepraat nie. Ek dink nie eens sy weet ek ry in dieselfde bus as sy nie. Natuurlik kan ek vir niemand vertel hoe ek oor haar voel nie. Kan my net die skokgolwe deur die skool en dorp voorstel.

      Miskien moet ek tog vir Kevin nooi om teen my te kom skaak speel …

      My

Скачать книгу