Duet. Johan Ferreira

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Duet - Johan Ferreira страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Duet - Johan Ferreira

Скачать книгу

liefde wat my bybly en inspireer.

      ’n Lewe van vreugde is ’n gawe uit God se hand. Beplan ’n familiefees om dit te vier – en maak dit ’n tradisie!

      Here, salf ons met u vreugde. Laat ons die lewe elke oomblik met blymoedigheid aanpak. Amen

      4 Januarie

      Kyk met nuwe oë rond

      Hooglied 2:10 – My liefling sê vir my: “Staan op, my mooi beminde. Kom saam met my!” (NLV)

      Buite ons agterdeur groei ’n bedding krismisrose. Dit is my gunstelingblomme veral dié wat blou en pers is. Iemand het gesê dis van die min blomme wat lewend of selfs dood en gedroog mooi is.

      Waar ek gaan, merk ek dié blomme altyd op – van daar by die ou huis met die lae muurtjie oorkant die park tot by die kerkie op pad werk toe waar bloupers bosse welig onder die koeltebome blom. By die skool waar my kinders skoolgegaan het, is ’n tuin met saggroen krismisrose wat tot laatsomer nog blom.

      Ek onthou deftige funksies waar bosse spierwittes gebruik is om die tafels mee te tooi en die begrafnis van ’n kollega waar die massa krismisrose in alle kleure die afskeid moes temper.

      Vroegsomer verlede jaar, nog voor die plante in ons bedding begin blom, besluit ek om die kleur van ons krismisrose te probeer verander van dieppienk na ligblou. Ek koop die nodige plantkossies en suurgoed en volg die instruksies getrou na. Maar ondanks al my fyn berekende planne, bly ons blomme so pienk as kan kom. En daar blom boonop vanjaar die minste blomme ooit!

      Nou, aan die einde van die blomseisoen, kan ek nie help om te wonder nie: Is dit ’n gebrek aan geduld aan my kant of die feit dat jy nie moet probeer verander aan iets wat goed en reg is, wat ons bedding vanjaar so mistroostig en leeg gelaat het?

      Soms soek ons iets veel mooier en beter en sien dit wat juis pragtig is nie meer raak nie. Kyk met nuwe oë na dit wat bekend is en sien die skoonheid dáárvan raak.

      Here, help ons om opnuut dit wat goed en mooi is tussen ons raak te sien. Amen

      5 Januarie

      Soek na meer – by God

      Johannes 7:38 – Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: “Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.” (NLV)

      Ek gesels in die week met ’n begaafde kunstenaar oor ’n projek. Vier van haar kunswerke hang bokant ons bed. Dat haar pad haar al deur groot klowe en diep valleie geneem het, word weerspieël in haar fyn aanvoeling vir die Gees van God.

      Sy vertel ’n storie binne ’n storie. Sy kan, volgens eie belydenis, nie by een storie op ’n slag bly nie. Dis nou glo dáárvoor dat sy haar man nodig het; hy bestuur haar so mooitjies deur die draaie van haar vertellings. Een van haar afdraaipaaie vat ons na die volgende stukkie goud wat sy met my deel:

      ’n Geestelike leier het in ’n preek verduidelik dat God sekere geheime oor ons elkeen bewaar wat slegs die Heilige Gees by God self kan hoor oor ons as individu. Die idee staan my dadelik aan. Ek het al agtergekom dat daar oneindige potensiaal en verrassings opgesluit lê in die psige van die mens.

      Dit maak sin dat daar by God kennis oor my menswees sou wees wat nie elders beskikbaar is nie. Ek weet ook dat binne die huwelik die diepste en kosbaarste goud van ons karakter ontgin kan word. Dit is na die Heilige Gees wat Johannes in hierdie skrifgedeelte verwys. Daardie deel van God wat in ons kom leef en ons na die geheime van ons karakter by God kan neem.

      Ons kan kies om nie na hierdie dieptes van ons gees te soek nie, maar dan sal ons altyd na iets meer smag. Net in intimiteit met God kan ons versadig raak in ons versugting na meer.

      Waar soek ek na meer?

      Vader, laat my deur die Heilige Gees nader aan U leef en so meer van myself ontdek. Amen

      6 Januarie

      Strome van seën vir julle

      Hooglied 2:16 – My liefling behoort net aan my en ek is net syne.

      In ons sitkamer hang ’n skildery van twee figure, modern en effe abstrak – ’n man en ’n vrou. Sy sit veilig op die man se skoot en dra ’n eenvoudige rok wat tot onder haar knieë hang. Die rok het lang moue met ’n ronde hals, is wit aan die bokant en verander geleidelik tot dieprooi aan die soom. Hy dra ’n vaalbruin baadjie, amper ouwêrelds, toegeknoop tot onder sy ken.

      Hul oë is gesluit, hul gesigte digby mekaar, asof gereed om te soen. Haar hand vou saggies oor syne aan die voorkant van die skildery. Om hulle skyn ’n gloed van lig uit die donker om hulle. In die hoek onder is daar ’n klein vierkant wat die sagte kyk van die oog van ’n hond uitbeeld en bokant hulle dwarrel ’n paar donkerblou blare in die lug. Bokant hulle in die boonste hoek van die skildery is ’n paar hande wat ’n emmer vashou en ’n stroom water, strome van seën, oor hulle omkeer. In skakerings van blou, wit, geel en rooi is die prentjie van die twee geliefdes rustig op die oog.

      Johan het dié skildery gekoop op die dag dat ek en hy tegelyk uit die bloute, nadat ons mekaar jare as vriende geken het, besef het ons is vir mekaar bedoel. Toe hy die oggend voor die uitstalling die skildery by sy vriendin se ateljee sien, het hy geweet dit is syne.

      Slegs onder die wakende hand van God is ’n suksesvolle huwelik moontlik. Vra God om die Stuurman van jul lewe saam te wees en om vandag weer die oorvloedige strome van sy seën oor julle te laat reën.

      Here, dankie vir strome van seën oor ons saamwees. Amen

      7 Januarie

      ’n Spieëlbeeld van God se genade

      Jesaja 40:18 – Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk? (NLV)

      Vir Francois, ons oudste se 21ste verjaardag, nooi die seuns se peetma’s ons na die Okavango. “Kom ons ses gaan vier die groot gebeurtenis in die Afrika-bos!” sê die tweeling maande voor die tyd.

      So breek die langnaweek uiteindelik aan. Ons vlieg van Johannesburg na Maun, waarvandaan ons met ’n ses-sitplek-vliegtuigie verder vlieg na die eiland waar ons lodge geleë is. Nadat ons geland het, neem ’n viertrekvoertuig ons na die motorboot by ’n jetty in die veld wat ons na die oord op ’n piepklein eiland in die delta neem.

      Wat ’n groot bederf en seën word die naweek nie! Soggens en saans is daar ’n wildrit per motorboot deur die delta. Ons sien seekoeie en olifante, en die mooiste plate waterlelies wat geil in die vlak water blom. Ons beleef Afrika op sy beste!

      Maar die hoogtepunt is ’n enkele laatmiddagvaart op die makoro’s, die uitgeholde houtbote eie aan die omgewing. Ons klim twee-twee in ’n boot terwyl die gidse en bootbestuurders hulle elk met ’n lang stuurstok in die hand voor in die boot staanmaak. Saggies gly ons bote deur die water.

      Teen sonsondergang seil ons geluidloos tussen die riete en die waterlelies. Die laatmiddagstilte is sonder omvang. Toe ek vorentoe kyk, na waar die seuns se boot voor ons vaar, sien ek voor my die perfekte weerkaatsing in die blink water van ons twee seuns uit hul boot weerkaats. Vir my is dit ’n spieëlbeeld van God se seën en groot genade.

      God praat met ons deur prentjies. Is jy ’n toonbeeld van sy liefde? Hoe lyk die fotoverhaal van jul huwelik

Скачать книгу