Die liefde oorwin. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die liefde oorwin - Schalkie van Wyk страница 5

Die liefde oorwin - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

kwaai onderwyseres!” dreig Ilse, maar die lag is vonkelend in haar oë.

      Hy hou sy kop skeef en betrag haar in stilte. “Nee, ek glo nie. As jy my onderwyseres was, het ek jou netjies opgelig en op die naaste kas neergesit – en vir die res van die dag na jou gesit en kyk!” treiter hy haar.

      “Jy sou ook!” lag Ilse hulpeloos en draai na Sonja. “Sê ’n bietjie vir hierdie grootprater hoe kwaai ek is in my proefklasse, Sonja. Hy vergeet die kwaaiste gif kom in klein potjies.”

      “O, die seuns is almal doodsoet in Ilse se klas, maar dis omdat hulle voor die voet op haar verlief raak,” terg Sonja en lag saam met Henk toe Ilse dieper bloos.

      “Ek neem hulle nie kwalik nie,” glimlag Henk en kyk na die toe kamerdeur agter hom. “Is sy al terug?”

      “Nee, en sy het kastig hart en mond beloof om van vandag af net so baie soos ons te swot,” sê Sonja afkeurend. “Dis natuurlik weer die einde van die maand, en haar pa het seker weer vir haar sakgeld gestuur om uit te gee.”

      Henk skud sy kop en kyk in die rigting van sy kamer toe hy vinnige voetstappe op die stoep hoor. “Dit klink asof sy terug is,” praat hy gedemp.

      ’n Lang, donker meisie klik-klak op hoë platformskoene nader. Haar arms is vol pakkies. Haar loshangende hare is effens windverwaaid, maar haar gesig is met vernuf gegrimeer. Haar donker wenkbroue is tot ’n fyn strepie uitgepluk om haar oë groter te laat vertoon, haar neus is effens geboë, maar tog fyn, met neusvleuels wat skerp afgeëts is. Haar mond is klein, met vol lippe, en haar kennetjie wip uitdagend.

      Sy kom heupswaaiend nader, bewus van die aanloklikheid van haar volmaakte figuur, en ’n gul lag maak plek vir die onvergenoegde uitdrukking op haar gesig. “Henk! O, heerlik, ek het ’n sterk man nodig wat my met hierdie massa pakkies kan help! My arme arms breek af! Vat gou, Henk. Ek kan nie ’n tree verder nie!”

      “Sit die goed neer, mens. Jy is mos nou by jou kamerdeur,” sê hy ongeduldig. Hy bly in ’n luisterende houding staan. “Dit klink soos die etensklokkie. Kom, Ilse … Sonja. Jy beter opskud, Tanya, tant Truia kan dit nie verdra om te wag nie.”

      “O, ek kom!” sê die donker meisie bytend en vroetel haar sleutel uit haar handsak.

      “Ek sal jou met jou pakkies help,” sê Ilse en buk om die vier papiersakke op te tel. “Het jy nuwe rokke gekoop?”

      Dankbaar oor die belangstelling wat sy so graag wil hê, begin Tanya gretig vertel en loop sy saam met Ilse haar kamer binne.

      “Opskud, julle!” waarsku Sonja oor haar skouer en stap saam met Henk oor die stoep na die voordeur. “Ilse is ’n baie beter mens as ek,” erken sy half skuldig teenoor hom. “Ek maak geen geheim daarvan dat Tanya my irriteer met haar voortdurende gespog met haar baie klere en haar spandabelrigheid nie, maar Ilse aanvaar dit as iets doodgewoons. Sy sê altyd ons kan nie almal dieselfde wees nie, en as dit vir Tanya belangrik is om alles te koop wat haar oë sien, gee sy glad nie om om alles te bewonder nie, want dit maak vir Tanya gelukkig.”

      “Ilse is ’n besonderse mens,” praat Henk langs haar. “Sy sien miskien te veel goed in ander mense, en nooit die slegte in hulle nie. Soos Bruce Reyneke … Wat sien sy in die vent?”

      Sonja kyk ernstig op na hom en sê byna bars: “Geld, wat anders?”

      “Maar …?” protesteer Henk en swyg toe hulle die eetkamer binnegaan waar tant Truia reeds op hulle wag.

      Skuins na negeuur die aand klop Henk aan die oop deur van die groot hoekkamer en stap binne.

      Sonja kyk met ’n glimlag op waar sy by die tafel staan en ’n bekertjie koffie roer. Sy wys na ’n gemakstoel. “Sit, Henk. Ek wou jou juis kom roep het,” nooi sy en gee ’n beker koffie aan hom.

      “Dankie.” Hy sit die beker op die armleuning neer en kyk vraend in die kamer rond. “Waar is ons mooi meisie?”

      “Uit. Bruce het haar ’n rukkie gelede kom haal om saam met hom by ’n inrykafee te gaan koffie drink. Jy weet tog hy doen dit dikwels. Sy sal seker weer teen halftien terug wees, want selfs Bruce sal haar nie kan keer as sy wil studeer nie.”

      “Hulle het ’n vreemde verhouding,” begin Henk praat, en hy soek onseker na die regte woorde. “Dink jy die twee pas by mekaar, Sonja?”

      “Jy weet net so goed soos ek wat ek dink, Henk,” sê sy ongeduldig en krul haarself op die rusbank teenoor hom op. Sy sluk versigtig ’n mondvol koffie en vervolg: “Toe Ilse in haar eerste en tweede jaar saam met Bruce uitgegaan het, kon ek dit nog verstaan, want dit is nogal vleiend om saam met een van die ou manne gesien te word, veral as hulle sulke duur motors ry. Maar na vier jaar … ? Ek kan nie glo Ilse kan ooit werklik ernstig raak oor ’n man soos Bruce Reyneke nie.”

      “Jy het vroeër vanaand gesê dis oor sy geld – het jy dit bedoel, Sonja? Ek kan nie glo dat Ilse met ’n man sal trou ter wille van sy geld nie,” sê Henk ongelowig.

      Sonja kyk in stilte na hom en vra versigtig: “Het Ilse jou al ooit van haar mense vertel? Van haar skooljare?”

      Hy knik stadig. “Nie veel nie, net dat haar ouers swaarkry, en dat sy met die hulp van beurse studeer. Maar dis tog niks buitengewoons nie. Hier is seker duisende studente wat uit gemiddelde of selfs arm huise kom.”

      “Daar is seker grade van armoede,” sê Sonja met ’n fronsie tussen haar wenkbroue. “Ilse-hulle is nie so arm dat die kerk of die welsyn vir hulle moet sorg nie, maar ek weet haar ma, en hulle kinders, werk ontsettend hard op hul klein erfplasie. Ilse se pa is ’n chroniese hartlyer en jare al is hy nie veel meer as ’n hulpelose invalide nie. Haar ma boer met hoenders en groente en vrugte, en die kinders help haar, maar haar gesondheid is nie meer goed nie. Daar is natuurlik Ilse se ryk oom, regter Leon de Villiers, wat hier in die stad woon. Hy en sy vrou het vir Ilse-hulle al dikwels gehelp, maar Ilse se ma is ’n trotse vrou, en soos Ilse sê, haar tannie Nicky is dikwels huiwerig om te veel te help. Die afgelope tyd is Ilse se ma ook nie meer so gesond nie; miskien net oorwerk, maar ek weet Ilse kwel haar baie oor haar ma.”

      “Ek het nie geweet dis so erg nie,” sê Henk sag. “Ilse is so ’n vrolike, innemende meisie dat ek nooit agtergekom het dat sy eintlik groot kwellinge het nie. Ek het lankal besef sy het dit nie te breed nie, maar watter student het ooit genoeg sakgeld? Sal Ilse studieskuld hê om terug te betaal?”

      “Nee, ons kerk skenk jaarliks beurse aan belowende studente. Dis een van die redes waarom Ilse so hard werk, want as sy een jaar sou druip, sal die kerk haar nie weer help nie. My ouers ken tant Truia al baie jare, daarom het my pa vir ons twee saam hier losies gekry, eintlik baie goedkoop losies, wat vir Ilse natuurlik ook help.”

      Henk stop sy pyp tydsaam, steek dit op en wag totdat dit goed trek voordat hy na die rooikopmeisie draai en met ’n tikkie kommer in sy stem vra: “En jy dink Ilse sal ter wille van geld met Bruce trou? Omdat sy moeg is vir al die armoede tydens haar kinderjare?”

      Sonja sien die kommer in sy oë en skud haastig haar kop. “Beslis nie daaroor nie, Henk. Ek en Ilse het toevallig vandag daaroor gepraat. Sou dit verkeerd wees om met ’n ryk man wat jy nie liefhet nie, te trou ter wille van jou mense? Sy voel dat as sy met Bruce trou, sy haar ma se las kan verlig, want dan sal sy baie meer kan help om haar jonger broer en suster klaar te laat studeer, en haar ma sal eindelik kan rus na al die jare van harde werk.”

      “Wat het sy toe besluit? Sal sy met Bruce trou?” vra Henk vinnig.

      Sonja

Скачать книгу