Vir ewig en altyd saam. Danny Fourie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Vir ewig en altyd saam - Danny Fourie страница
Vir ewig en altyd saam
’n Reis van liefde, verlies en hoop
DANNY FOURIE
Lux Verbi
Die bladsyverwysings in hierdie uitgawe verwys na die bladsye in die gedrukte boek.
Vir Adri-Louise
my merkwaardige vrou,
en vir almal wat die trauma van
terminale kanker beleef het en treur oor
’n geliefde wat nie meer hier is nie.
Voorwoord
Op ’n Vrydagmiddag het sy die voordeur van haar huisie – wat later ons huisie sou word – vir my oopgemaak, my gesoengroet en ingenooi. Ek het haar later oor daardie soengroet uitgevra, waarop sy geantwoord het dat dit maar net die regte ding vir haar was om te doen. Om so naby hierdie mooi vrou met die blou oë te wees, het my kortasem gelaat. Ek het onbeskaamd en ongehinderd na haar gekyk: die smaakvolle snoer om haar nek, die klein bypassende oorbelletjies, die armhorlosie soos ’n juweelstuk met ’n klappie op die wyserplaat, en die silwer band en ketting om die ander pols. Die gemak waarmee sy gesels het – en daardie aansteeklike lag – het my oorrompel. Ons albei het onuitgesproke geweet: ons vind in mekaar wat ons vir ewig kom verander het. Nooit sal ons dieselfde mense wees indien iets ons sou verhinder om dít wat tussen ons groei te laat blom nie.
Vir die volgende paar maande het ons styf teen mekaar op die Ferriswiel gesit. Met die musiek van die karnaval in ons ore. Om en om het die wiel ons gedraai: van hoog na laag en weer na hoog soos ons mekaar al dieper ontdek en leer ken het. ’n Metafoor vir die ervaring van die golwende liefde tussen ’n man en ’n vrou. Tóé al het ons vir mekaar gesê – sy 46 en ek 57 – waarom het ons mekaar nie jare gelede gevind nie? Nou moet ons ons liefde uitleef in die oorblywende jare van ons lewe – ’n geleentheid waarvoor ander ’n leeftyd het.
Die tweede kaartjie wat sy vir my gegee het, het ’n uil met groot oë op die voorkant gehad. Sy het die kaartjie só begin: “Hierdie is ’n eerste vir my. Ek weet nie of ek die regte woorde sal vind nie. Ek word elke oggend grootoog wakker. Grootoog van verwondering oor die liefde wat ons aan mekaar bind. Grootoog omdat dit juis jý is wat die Liefde van my Lewe geword het. Grootoog omdat ek met die liefde kon kennis maak.” Ons kon nie wag om ons nuutgevonde liefde met die wêreld en ons hartsmense te deel nie.
Adri-Louise het in die rol van geliefde ingestap asof sy haar hele lewe daarvoor gerepeteer het. So maklik, só gemaklik.
En toe word ons skielik tot ’n onseremoniële stilstand geruk. Ons het tussen hemel en aarde gehang. Sy is met kanker gediagnoseer. En soos die maande aangestap het, het sy al hoe sieker geword – totdat ons laaste dag saam onafwendbaar aangebreek het.
Hierdie boek gaan oor daardie deel van ons kort liefdeslewe, ons reis met die keiser van alle kwale, met die slingerende pendulum tussen hoop en werklikheid, tussen chemosessies en skanderings, tussen hartseer en lag, tussen dae vol liefde en speel, en dae van bekommernis en stilte – immer met die swaard oor ons kop.
Dit is mos so dat sommige mense ’n maklike lewe lei en swaarkry skynbaar by hulle verbygaan. Alle mense word egter met een harde werklikheid gekonfronteer: die dood. Frits Gaum skryf in sy boek Nie van hoorsê nie, Here dat geen mens regtig kan lewe as hy of sy nie met die dood rekening hou nie. Geen mens weet wat lewe eintlik is as hy of sy nie ’n slag die lewe aan sy teenpool gemeet het nie. Die dood is die groot vyand wat aan almal indringende vrae stel. Wat is die betekenis van ’n lewe wat die dood in die gesig staar? Wat is van waarde wanneer jy ’n vernoude toekoms het?
Die dood konfronteer ’n mens met jou geloofsoortuiging. Dit wat jy oor dekades heen in jou lewe bely het en gemaklik soos ’n sleutelblokkie in die lewenslegkaart kon pas, is skielik nie meer so maklik nie. Die onwillekeurige vraag waarvoor jy te staan kom, en wat jy dalk te bang is om te vra, is of alles wat jy as waar hou en wat betekenis en rigting aan jou lewe gegee het, vals is? ’n Illusie is?
Gaum skryf dat daar seker nie ’n mens is wat so voor die dood kan staan en dieselfde kan bly nie. Die dood ruk jou uit jou voeë. Dit laat jou oor alles nadink – jou werk, jou vriende en familie, jou verhouding met God. Soos CS Lewis ook getuig, laat dit jou raaksien hoe slordig jy tot hiertoe gelewe het, hoe skeef jou waardestelsel baiekeer was.
Dit was ook my ervaring toe ek vir Adri-Louise verloor het. Dit ís of ’n mens jou plek in God se groot plan vir die eerste keer goed raaksien. Die dood van jou geliefde verpletter jou. En tog is dit, en ek sê dit met ’n nederige versigtigheid, ’n geleentheid om te groei – persoonlik en geestelik. Dit is egter nie ’n maklike oefening nie. Toe ek dit êrens gelees het, was my eerste reaksie om uit te roep: Ek stel nie belang in groei nie! Sonder Adri-Louise kan ek, wil ek nooit weer groei nie! Watter sin het dit om te groei terwyl ek steeds sonder haar bly?
Hartseer en rou is ’n baie persoonlike saak. Geen twee mense rou op dieselfde manier nie. Ons reis is ’n reis soos ek dit saam met Adri-Louise beleef het. Wat ek te sê het, geld net vir my. Daar is tog by my die hoop dat dit vir ander woorde en ’n taal sal gee om hul hartseer te kan verstaan en te verwoord – al is dit dan net in ontkenning of aanvulling van wat in my gedagtes en hart leef.
Vir my was die skryf van hierdie boek nie ’n geleentheid om Adri-Louise en ons reis op die voorgrond te druk nie. Dit is eerder om soos baie ander voor my vir dié wat belangstel ’n kykie te gee in die verwoestende effek van kanker – op die liggaam en op die geliefdes om die persoon wat met kanker leef. Ek het so eerlik moontlik probeer skryf. Ek het geen vooraf skema vir die boek gehad nie. Een oggend het ek net gaan sit en begin skryf. Daarna het die teks in die nag in my gedagtes vorm aangeneem en in die dag het ek dit net neergeskryf. Die intensiteit waarmee ek die emosies van die afgelope paar jaar beleef het, is so in my gemoed ingegraveer, in my hart en niere ingekras, dat ek dit soos van ’n gedenkplaat kon aflees.
Ek hoop my worsteling met hierdie lewensveranderende tragedie kan ander wat in my situasie is, help om in hierdie doolhof van rou en blinde hartseer ’n nuwe koers te ontdek.
Adri-Louise het natuurlik aan die teks van hierdie boek help skryf. Hoofstuk 5, “Uit die bloustoel”, is ’n unieke deel van hierdie boek. Daar hoor ’n mens haar stem en gedagtes – geneem uit die gereelde e-posse wat sy vir mense in die vorm van ’n nuusbrief gestuur het.
In die woorde van CS Lewis uit A grief observed was sy my dogter en my ma, my leerling en my onderwyser, my onderdaan en my koningin; en terwyl sy dit alles in suspensie gehou het, ook my betroubare kameraad, vriendin, skeepsmaat, medesoldaat. Bo alles: my minnares.
Adri-Louise was ’n vrou wat baie mense op ’n spesiale manier aangeraak het. Uit die aard van haar werk het sy ’n wye impak gehad. Sy sal die eerste een wees om te sê dat sy niks beter is as enige ander vrou of kankerpasiënt nie. Dat daar geen spesiale rede is waarom daar oor haar en ons verhaal ’n boek geskryf moet word nie. Haar bevoorregting bo iemand met kanker wat alleen in ’n koue skuiling bly, met ’n karige dieet en mediese behandeling, het haar dikwels hartseer gelaat.
Een van die dinge waarmee ek die meeste worstel, is die feit dat Adri-Louise so voortydig, so ontydig, oorlede is. Vir my en my kinders, en vir baie was sy onmisbaar, onvervangbaar. Sy is weg toe sy nog so ’n groot bydrae in ons lewe en haar werkkring kon maak. Gaum sê ’n mooi ding. Hoewel ons nie haar leë plek kan verstaan nie, is daar een plek waar sy onvervangbaar is. Dit is by God. God se ewigheid sal nie volmaak wees as sý nie ook daar is nie. Vir God is sy onmisbaar. Dit troos om te weet dat sy nie net geliefd is waar sy nou is nie, maar ook baie spesiaal.
Waarmee