Vir ewig en altyd saam. Danny Fourie

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vir ewig en altyd saam - Danny Fourie страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Vir ewig en altyd saam - Danny Fourie

Скачать книгу

Hoe verwerk ek dit? Hoe “kom ek hieroor”? Ek weet nie. Wat ek weet, is hartseer is nie ’n staat nie, maar ’n proses. Ek probeer weergee hoe ek my proses sien en na wat – nie waarheen nie – ek op pad is.

      Vir ewig en altyd saam is nie ’n handleiding oor hoe om te treur nie. Soos CS Lewis het ek ook nie probeer om ’n toestand of staat te beskryf nie, om ’n kaart van hartseer te teken nie. Vir hartseer het jy nie ’n kaart nodig nie, maar geskiedenis. En as ek nie doelbewus iewers ophou skryf aan daardie geskiedenis nie, sal ek nooit ophou nie. Daar is elke dag iets nuuts om oor te skryf en om oor na te dink. Om te treur is soos ’n lang vallei, ’n kronkelende vallei waar elke draai ’n totaal nuwe landskap blootlê. Maar die vreemde is ook dat nie elke draai ’n nuwe landskap onthul nie. Soms is die verrassing die teenoorgestelde. Jy word aan presies dieselfde landskap voorgestel wat jy meen jy kilometers ver agtergelaat het. Dit is wanneer jy begin wonder of die vallei, die rouproses, nie dan dalk soos ’n sirkelvormige loopgraaf is nie. Dit is nie. Daar is gedeeltelike herhalings, maar die opeenvolging herhaal nooit nie.

      ’n Vriendin van Namibië het vir my hierdie onbekende aanhaling gestuur, wat inpas by die manier waarop ek my hartseer en rou ervaar:

      Grief never ends . . . but changes.

      It’s a passage, not a place to stay.

      Grief is not a sign of weakness,

      nor a lack of faith . . .

      It is the price of love.

      Mense sê seker vir hulleself: “Toemaar, hy sal daaroor kom.” Daaroor kom. Dit is dubbelsinnig. Lewis sê veelbetekend om te sê die pasiënt sal oor die blindedermoperasie kom, is een ding. Om te sê die pasiënt sal oor die amputasie van sy been kom, is ’n ander ding. Ná die amputasie moet die stomp genees of die man sterf. As dit genees, sal die aanhoudende felle pyn ophou, hy sal sy kragte herwin en in staat wees om met sy kunsbeen te loop. Hy het “daaroor gekom”. Moontlik sal hy terugkerende pyne ervaar, party baie erg; en vir die res van sy lewe sal hy iemand met een been wees. Daar sal haas geen oomblik wees dat hy dit nie onthou nie. Om te bad, aan te trek, te sit en op te staan, selfs om in die bed te lê, sal nooit weer dieselfde wees nie. Sy hele manier van lewe sal verander. Alle soorte plesier, aktiwiteite en verpligtings wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, is opgeskort. Op die oomblik kom ek met krukke oor die weg. Moontlik kry ook ek iewers in die toekoms ’n kunsbeen. Maar ek sal nooit weer ’n tweebeenman wees nie.

      Susan Jordaan van Lux Verbi het die vertroue in my gehad om hierdie manuskrip te skryf. Dankie, Susan, vir die swaar maar helende geleentheid om my treurende hart te verwoord. Die skryf was ’n beskerming teen totale ineenstorting, ’n veiligheidsklep. Dit is ’n besondere voorreg dat dit juis jy is wat my die opdrag gegee het. Dankie aan jou kollegas en hul geduld met my, en vir Vilien-Miri Coetzee wat my gedagtes en woorde op ’n kundige manier help orden het.

      Aan die einde van die boek het ons vyf tydskrifartikels ingesluit wat oor my en Adri-Louise geskryf is. Dit is geskryf deur mense wat ons goed ken en bied ’n waardevolle bykomende perspektief op ons verhaal. My dank aan die tydskrifte met wie se toestemming ons dit kon gebruik. Aan die einde van die boek plaas ons ook die huldeblyk van kerklike kant wat met haar roudiens voorgelees is.

      Daar is so baie mense wat saam met my geskryf het: my broer Stephen; die Van Renen-familie – Pa, Lilibet, Christine en Org, Annelie en Jakes; ons naby vriende, Gert en Esther, Johan en Thea, Gerrit en Hannatjie; Adri-Louise se jare lange vriendinne, Adri, Maryke en Theresa; Susan G, Jeanne en Annalise. Dankie vir jul aanmoediging. Aan die wye klomp vriende en oudkollegas wat saam met ons gereis het en my in die laaste tyd opgesoek en bemoedig het, is ek baie dank verskuldig. Jul boodskappe en gebede het my op die tye wat ek dit die nodigste gehad het, die durf gegee om aan te hou skryf. My diepe dank aan my kinders wat met ons saamgeleef het in die twee jaar wat sy siek was en ook die laaste week van haar lewe by my was. Daniell en Tim, Marelise en Pietman, Nielmari en Fintan, Marike en Jonathan, en Grethe. Julle het my arms omhoog gehou in daardie tyd. In die laaste jaar en klompie maande het julle my gedurig daaraan herinner dat sy waardig is om oor te skryf – die dapper vrou met die ruim hart. Ook vir julle sal hierdie boek ’n kroniek wees van ’n merkwaardige vrou en ’n uitsonderlike liefde.

      Danny Fourie

      Januarie 2016

      Watter kaart of watter ster sal ek jou wys

       om veilig deur die grysland heen te reis?

      Uit “Negester en stedelig”

       deur DJ Opperman

      1

      Prognose

      Dit was ’n koelerige oggend in Junie 2012 by die Mediclinic Durbanville. Die skraal winterson het alles uitgehaal om die dagtemperatuur aangenamer te probeer maak. Vir die meeste mense was dit ’n gewone Dinsdag. Wellingtonweg wat voor die kliniek verbyloop, was soos gewoonlik bedrywig. Die lewe het oustryk om ons voortgegaan. Die wintervakansie het voorgelê. Die parkeergebied by die kliniek was vroegoggend besig om vol te word. Ek het al geleer waar om te kyk vir die paar parkeerplekke wat mense miskyk. Dit was Adri-Louise se tiende dag in die hospitaal. Ek was reeds oorbekend met die hospitaalomgewing: al die kortpaaie deur die gange na die sale en ander uitgange.

      Vreemd hoe so ’n hospitaal so vinnig vir ’n mens bekend word. Nie net die uitleg nie, maar die aanvanklike ongemak en bedreiging van die sale met siek mense, verplegingspersoneel en die kliniese omgewing, verdwyn. Dit raak skoon familiêr. ’n Mens kan amper, skreiend soos dit mag klink, tuis begin voel. Die personeel kry name en die dokters word vriende. ’n Week gelede het ons nog met groot oë na die verskillende monitors en binneaarse drips gekyk. Nou was ons reeds heel bedrewe om met monitors, drips en staanders toilet toe te stap en daarna die hele spul weer op hul staanplekke te parkeer en te koppel.

      Dié wintersoggend was ons eerste afspraak by dokter V. Hy het ons reeds drie keer in die saal kom besoek. Dié dag sou ons egter na sy spreekkamer langs die hospitaal gaan. Die verpleegpersoneel het Adri-Louise se hare gewas. Daar is vir haar skoon nagklere, die roomkleurige kamerjas en skaapwolpantoffels aangetrek. Toe is sy in ’n rolstoel gehelp. Een van die drips moes saamgaan. Adri-Louise het dit sommer so triomfantelik in die lug gehou. Hulle het ’n laken gevat en dit om haar lyf gebind dat sy nie uit die stoel moet val nie.

      Ons was vol moed toe die verpleegster haar by die enkelkamer uitstoot en ons met die kortpad na die gebou langs die kliniek koers kry. Met haar kenmerkende lag het sy die dagpersoneel in die saal, by wie sy teen daardie tyd alombekend was, opgewek gegroet. By die sekuriteitsdeur aan die kant van die hospitaal het ek die kode gememoriseer. Ek het vermoed ons sou dit nog talle kere gebruik. Tien dae gelede het ons niksvermoedend hierdie mediese enklawe betree. Wat gevolg het, was ’n wipwarit van verbluffende ontdekkings en ontnugterende mededelings. Oornag is ons aan die mees ingrypende mediese prosedures onderwerp. Dit was of ons van buite op onsself neergekyk het. Ons kon nie met die twee mense in hul trauma identifiseer nie. Ons het geweet daar wag ’n onbekende pad op ons.

      Buite in die skraal sonnetjie was dit ’n klein oorwinning om haar buite die hospitaal te sien. Vir ’n paar oomblikke was dit of ons uit die greep van die diagnose kon ontsnap. Ons kon iets van die normaliteit van die lewe op pad na dokter V se spreekkamer ervaar. Die buitelug was ’n welkome verposing waarin ons uit die kloue van die kliniese omgewing kon wegbreek. Die hospitaal wat met sy ondersoeke, monitors, biopsies en skandeerders jou liggaam karteer en die funksionaliteit van elke orgaan op ’n onheilspellende grafiese manier detailleer.

      Terwyl ons haar in die rolstoel versigtig op die paadjie tussen die twee geboue en die geparkeerde motors na die spreekkamer gestoot het, het ek met ongeloof gewonder hoe ons hier beland het. Hier

Скачать книгу