Vroue van die Bybel. Hester Careen Geldenhuys

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vroue van die Bybel - Hester Careen Geldenhuys страница 5

Vroue van die Bybel - Hester Careen Geldenhuys

Скачать книгу

speel die mees romantiese verhaal in die Bybel af wanneer Isak in die veld stap en Rebekka hom gewaar, van haar kameel af gly, haarself versluier en in die veld na Isak toe stap. Hy het ook nadergekom om haar te ontmoet. Toe neem hy haar na sy moeder se tent … en Isak het Rebekka sy vrou gemaak.

      Dit is veral hier waar ons die draaiboek moet skryf om te kan sien wat werklik gebeur het. Berseba lê ’n hele ent suid van Hebron. Die “binding of Isaac” moes die rede gewees het waarom Sara haar goed, haar tente, haar bediendes en ook haar seun gevat en van Berseba na Hebron getrek het. Dit is waar sy gesterf het, en dit is waarheen Abraham van Berseba af gegaan het om oor haar te ween en haar te begrawe. Ons lees nie weer dat sy en Abraham kontak met mekaar gehad het nie. Ook nie dat Isak weer veel met sy pa te doen gehad het nie.

      Abraham het daarna wel vir Isak versorg deur vir hom ’n vrou te laat haal. Verder lees ons in Genesis 25 dat Abraham weer getrou het – met Ketura. Sy het vir hom ses kinders in die wêreld gebring.

      Ons lees ook nie van enige verdere groot gebeure tussen Jahweh en Abraham nie. Dit is asof daar hierdie reuse hoogtepunt was … en toe algehele stilte. Omdat gehoorsaamheid vrede in sy boesem dra, kan ons aanvaar dat Abraham nie ’n verbitterde ou man geword het nie. Hy moes vrede ervaar het – daardie ontsaglike vrede wat geloof en gehoorsaamheid meebring. Ons Vader het dan ook die wonderwerk van die kind wat Abraham op 100 verwek het, uitgebrei na nog ses kinders ná die ouderdom van minstens 140.

      En Sara? My aangetroude Hollandse familie sou sê “sy het haar stert in ’n krul getrek” en op ’n ander plek gaan bly. Genoeg is immers genoeg. ’n Mens wil nie eens begin bespiegel oor wat alles in haar gemoed moes omgegaan het nie. Maar dit kon nie baie positief gewees het nie. Die ergste wete is dat sy van Abraham wou wegbreek. Hierdie man wat sy soveel jare lank deur dik en dun gevolg het, wou dit waaragtig waag om haar kind se keel af te sny. En dit was vir haar die laaste druppel aan die emmer.

      Dit laat ’n mens wonder … Wat hét Sara verstaan van wat tussen Abraham en God gebeur het? Daar was die verbond, die beloftes … daar was ’n verhouding tussen hulle. En wat ’n intense verhouding was dit nie! Wat het Sara van hierdie dinge verstaan?

      Uit hierdie gebeure kan ons twee besonder belangrike dinge haal waaroor ons moet nadink, dinge wat ook in ons lewe belangrik is.

      Die eerste vraag wat jy moet vra, is: Is ek en my huweliksmaat op dieselfde vlak ten opsigte van ons verhouding met ons Vader? As die antwoord nee is, moet jy weet, die oomblik dat jou verhouding met die almagtige God ’n wig tussen jou en jou huweliksmaat indryf, doen jy iets verkeerd. Julle verhouding met julle hemelse Vader moet julle juis nader aan mekaar bring. Die liefde van God kan nie verwydering bring nie. As ons verwydering beleef, leef ons God se liefde nie uit soos Hy dit bedoel het nie.

      Vra jou in die tweede plek af: Is ek nou al 25 of 35 of dalk 40 jaar getroud? Weet ek nog watter soort kos vir my man lekker is? Weet ek wat op sy bucket list is? Verstaan ek hoe sy begeertes en verlange na dinge oor die jare heen verander het? Alle mense wat leef, groei. Niemand bly dieselfde mens as wat hulle 30 of 40 jaar gelede was nie. Ons moet waak daarteen om so aan mekaar gewoond te raak dat ons mekaar nie meer waardeer, in ag neem of selfs ken nie.

      En ons moet asseblief nie ons stert in ’n krul trek nie.

      Neem hierdie woorde uit Hebreërs 10:15-18 ter harte:

      En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

      Dankie, Vader, dat ook ek in ’n verbond met U kan leef. Dankie dat U Self u liefde op my hart skryf. Dankie dat u liefde my lei en begelei en dat U aan die slegte dinge in my verlede nooit meer dink nie. Vader, dit is my begeerte om waarlik in ’n intieme liefdesverhouding met U te leef. Begelei my daarin. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.

      Rebekka

      Hierdie vrou was allesbehalwe ’n onbetroubare ma wat haar een kind bo die ander wou bevoordeel; Sy was ’n profetes wat aan God se woord gehoorsaam was. Wat sê God vir jou oor jou kinders en kleinkinders? Weet jy hoe om hulle binne en vir sy beloftes te beskerm?

      Lees Rebekka se verhaal in Genesis 24–27.

      Rebekka was ’n dapper meisie.

      Stel jou ’n jong meisie voor, jonk genoeg dat sy nog ’n oppasser as metgesel gehad het. Sy klim saam met ’n vreemde man op een van sy tien kamele en skommel-skommel ry sy saam na ’n ver land. Toe sy daar aankom, ontmoet sy skaars haar bruidegom of ’n besonder eenvoudige huwelikseremonie vind plaas toe hy haar na sy ma se tent neem en haar sy vrou maak. Geen ouers van die bruid of bruidegom was daar teenwoordig nie; geen bruidsmeisies of selfs iemand wat hulle in die huwelik bevestig het nie; geen bruilofsfees waarvan ons lees nie … nie eens ’n skoonma vir wie sy kon raad vra of vir wie sy haar kon vererg nie.

      Net Rebekka en haar oppasser. Hoe sou enige meisie dit kon regkry?

      Daar is ’n paar merkers in hierdie gebeure ingebou wat vir ons lig werp en ’n antwoord gee op die vreemde verslaenheid wat hierdie meisie se huwelik by ons laat.

      In die eerste plek was daar die plegtige belofte wat Abraham van sy kneg gevra het en wat hy moes verseël deur te sweer – ’n gewone belofte was nie voldoende nie. Abraham se versugting het twee kante gehad. Eerstens moes hierdie kneg belowe dat hy Isak nie sou terugneem na die land of stede waar Abraham vandaan gekom het nie. Tweedens was daar die absolute verbod om vir Isak ’n vrou uit die Kanaäniete te kies. In hierdie versoek hoor ons net een ding: Abraham se gehoorsaamheid aan die opdragte en versugtings van die almagtige Skepper-God. Dit is ter wille van die verhouding wat Abraham met die Skepper-God gehad het dat sy kneg selfs met sy hand onder Abraham se heup moes sweer. Dit was ’n ernstige saak hierdie.

      ’n Tweede kosbare merker is dat hierdie kneg in Haran, die regte land, die regte stad, aangekom het. Maar waar sou hy nou die regte meisie vind?

      Daar is een waarheid wat ons almal moet ontdek. Wanneer jy by die punt kom waar jy ’n belangrike besluit moet neem, maar jy het geen idee waar om te begin of hoe om die besluit te benader of te hanteer nie, doen in die eerste plek wat jou hand vind om te doen. Dit is presies wat Abraham se kneg gedoen het. Sy kamele moes water kry ná die lang tog en hy het hulle na die openbare put geneem waar hy hulle laat kniel het sodat hulle kon drink.

      Is dit nie die mooiste prentjie wat jy jou kan voorstel nie! Tien kamele op ’n ry op hul knieë. En wat maak hul begeleier? Hy bid! Hy het egter sy tyd goed gekies, want dit was net mooi die tyd dat die vroue uitgegaan het om water te gaan skep.

      Volgens Genesis 24:12 het Abraham se kneg gebid: “HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.”

      Wat ’n eenvoudige gebed, wat weer bevestig dat opregtheid nooit by ons Vader verbygaan nie. ’n Omhaal van woorde is nooit nodig nie. Praat sommer net met die HERE oor presies wat in jou hart is.

      Hierdie kneg se gebed word dubbel en dwars beantwoord. Hy ontmoet die meisie, sy oorweeg sy aanbod en besluit om saam met hom te gaan.

      Wanneer die familie haar roep voordat hulle haar vaarwel toeroep, spreek Laban ’n seën oor haar uit. En dit is hier dat die laaste en verstommendste merker voor ons opspring. Die seën wat Laban oor Rebekka uitspreek, is woordeliks dieselfde seën as wat die almagtige Skepper kort tevore oor Abraham

Скачать книгу